Toe sy baie jare gelede begin het om seep te maak, het sy op ’n klein dorpie gewoon. Sy het nie toegang gehad tot ander seepmakers nie en inligting was ook nie vrylik bekombaar nie. Dit was aan die beginjare van die internet en uit desperaatheid het sy eendag ’n hulpkreet die wêreld ingestuur via ’n kletskamer. Groot was haar verrassing toe Therese Lott haar vanuit die VSA antwoord en raad en resepte gestuur het. Vir twee jaar het Bev geëksperimenteer met seepresepte totdat sy tevrede was met haar volkome natuurlike produkte. Die produkte is by ’n handelskou uitgestal en toe stroom die bestellings in. Deel van Bev se plan was om geleenthede vir plaaslike werkloses te skep en daarom word al die produkte met die hand gemaak, selfs die verpakking. Bev het hard gewerk om haar handelsmerk, RAIN, internasionaal te vestig en vandag het sy winkels in Suid-Afrika, Amsterdam en New York waar haar bad- en lyfsorgprodukte verkoop word.

Rain COVER FINAL.inddEnigeen wat belangstel om seep te maak, sal verheug wees Die Rain-boek oor natuurlike seepmakery, Bev Missing (Metz Press, R220) het die lig gesien. Dis ’n volledige handleiding van hoe om seep te maak. Dit verduidelik presies watter toerusting jy benodig. Die bestanddele word volledig bespreek en daarna deel Bev ook mildelik haar resepte en gee selfs ’n lys van verskaffers. Die boek is verstaanbaar, toeganklik, maklik om te gebruik en lieflik geïllustreer.


Waar kom jou belangstelling in seepmakery vandaan?

Vir my is dit ’n kreatiewe uitlaatklep, maar ek was aanvanklik aangetrek deur die geheimhouding en misterie wat seepmakery omvou het. Die kuns van seep maak was net ’n paar mense beskore, buiten die boerseep wat met beesvet gemaak is deur elke goeie boervrou. Dis natuurlik in die dae voor Google, YouTube en die internet.

Waarom wou jy jou eie seep maak?

Dis soos die vreugde wat ek daaruit kry om ’n interessante gereg te maak. Dis ’n manier om jou eie kreatiwiteit uit te leef.

Waarmee het jy die meeste gesukkel toe jy begin het?

Inligting, tegniek en die know how.Niemand het inligting gedeel nie. Onthou,ek het begin eksperimenteer voor die era van die inligting ontploffing weens die internet. Dit was ook ’n groot uitdaging om van die rou materiale soos palmolie en seepsoda wat in seep gebruik word, op te spoor.

Was die seepmakery aanvanklik ’n stokperdjie?

Dit was nooit regtig ’n stokperdjie nie. My visie en bedoeling was om met ’n werkverskaffingsprojek te begin. Ek het die geleentheid raakgesien om ’n arbeidsintensiewe produk te begin vervaardig. My motivering vir die projek was regtig om werksgeleenthede vir arm, minderbevoorregte mense te skep. Ek dink ek het hierdie doel soort van bereik omdat ek vandag meer as 100 werknemers het.

Het daardie eerste ervarings jou gehelp in jou besigheid vandag?

Ondervinding is altyd goud werd en is nooit te versmaai nie. Dit bou jou as mens en dit kom altyd in ander omstandighede, direk of indirek, handig te pas.

Hoe moeilik was dit om “Fair Trade” gradering hier en oorsee te kry en was dit ’n lang proses?

Om Fair Trade gradering te verkry, is moeilik. Dit het ongeveer twee jaar geneem en die besigheid moet elke twee jaar weer geoudit word. Om hierdie mikpunt te kon bereik, is regtig iets om op trots te wees.

Hierdie boek is ’n stap-vir-stap-handleiding van seep maak.  Waarom jou resepte met ander deel?

Soos ek in my boek genoem het, was dit 'n groot gesukkel om die proses aan die gang te kry.  Ek het toe later hulp van ’n totale vreemdeling gekry – Therese Lott van die VSA.  Sy was ’n engel en het nie geskroom om my van inligting te voorsien nie. Dis so bietjie soos die fliek “Pay it forward”.  Vandaar my bereidwilligheid om my kennis ook met ander te deel.

Leer jy steeds nuwe dinge oor seepmakery?

Ek het baie geleer toe ek die projekte vir die boek gedoen het. Ek moes uit my gemaksone klim en weer eksperimenteer en met nuwe idees vorendag kom. Mens hou nooit op om te leer nie.

Wat maak seepmakery vir jou spesiaal?

Ek hou daarvan om organies en natuurlik te leef en dus ’n leefstyl van selfonderhouding te handhaaf. Verder glo ek aan ’n holistiese benadering en om goedgesind teenoor onsself en die aarde te wees. Dit wat ons eet en dit wat ons op ons vel gebruik, het gevolge en ons moet dit beheer. Noodwendig beteken dit dis beter om dit self te maak. Die kommersiële wêreld vertel ons so baie leuens en daar is min etiek en verantwoordbaarheid – minderwaardige produkte word teen maksimum voordeel vir die maatskappy aan ons verkoop.Om iemand te bemagtig om iets self te maak, beteken hulle het ’n beter keuse - vandaar my liefde vir seep maak.

Het jy ’n gunsteling seep in jou reeks en waarom?

My nuutste en jongste een is gewoonlik my gunsteling. Ek is tans besig om die genesende eienskappe van heuning, koninginjellie en byewas na  te vors. Ek wil ook aandag op die bestaan van die kosbare klein bytjie vestig!

Vertel bietjie van jouself en jou gesin.

Ek het ’n man wat jy slegs in die sprokieswêreld sal aantref!  Ons is reeds 30 jaar getroud en hy is my sielsgenoot, my minnaar en my beste vriend.  Ek het nie biologiese kinders nie, maar het ‘geleende’ kinders  wat vir my so waardevol is. Dan is daar ons 2 katte, Thomas TitMouse en Molly en dan ook nog Hannah, ons Staffie.

Hoe ontspan julle?

Ontspan?  Ek en my man vat my Vespa bromponie of sy motorfiets en gaan verken die omgewing met ’n piekniekmandjie. Ons is gek oor die buitelewe en ons bly in die pragtige Kaapse Overberg omgewing, met sy ongelooflike panoramas.