Hoera vir uiteindelik iets nuuts! Daar was stérk kleur, oorspronklike silhoeëtte en blompatrone. Baie van die rokke was waaghalsig verby, sonder om lyf te wys. (Behalwe nou vir Modern Family se Sofia Vergara, wie se uiters noupassende rok ongelukkig op ’n kol oopgeskeur het toe sy buk ...)

Ons kan met plesier sê dat vanjaar se Emmys beslis die beste plek om te kyk vir idees as jy binnekort ’n spesiale geleentheid, soos 'n matriekafskeid, moet bywoon. Om jou te help, verklap ons ons gunstelinge, en hoekom dié vyf vir ons so spesiaal is.

Julianne Moore (hooffoto bo)

Geel was beslis die kleur van die aand. Hierdie imposante geel rok is die sterkste van almal. Die eenvoud van die styl word gelig deur die indrukwekkende kleur. Ons glo dié een gaan nog vir lank onthou word.

Julianna Margulies

Julianna Margulies

Die romantiese blomme maak hierdie eenvoudige rok iets buitengewoons. Maar die toets van so ’n rok is hoe hy loop. Dié een het ongelooflik agter Julianna aangesleep.

Ginnifer Goodwin

Ginnifer Goodwin

Die silhoeët wat kort voor en langer agter is, sien ons maar min op die rooi tapyt. Die kombinasie tussen die oranje patroon en die karamelkleur daaronder werk uitstekend. En kyk net hoe mooi lyk dit met die kort hare! Dis ’n super-klassieke rok en outydse oorbelle, wat regtig mooi werk met die baie moderne haarstyl. Die skoene, van deursigtige plastiek met oranje toon en hak is besonders, en oranje is juis een van die kleure van die oomblik.

Emilia Clarke

Emilia Clarke

Emilia het ’n groot kans gewaag: nie die gewone lang, sleeprok vir haar nie. Dit het perfek gewerk! Sy maak ’n baie sterk stelling oor haar unieke persoonlikheid, maar dis steeds pragtig, romanties en dromerig: Alles wat mens van ’n spesiale aandrok verwag.

Emily VanCamp

Emily VanCamp

Emily is ’n vars briesie op die rooi tapyt. Die rok is ongelooflik ingewikkeld, maar die vaal kleur laat dit eenvoudig elegant lyk. Ons hou daarvan dat sy nie ingegord is soos party van die ander aktrises op dieselfde geleentheid nie.

January Jones

January Jones

Met ’n aand waar kleur duidelik die ding was, is hierdie swart, deursigtige rok beslis een van ons gunstelinge. Let op hoe eenvoudig haar hare en grimering is, en dat sy geen bykomstighede werklik aan het nie. As jou rok só uitstaan, kan jy maar ’n poniestert dra.

JOU GUNSTELING?