“Bied gewone goed vars aan,” sê Hanlie Gouws, subredakteur by die Kaapse dagblad Die Burger. Sy het einde 2011 vir sowat 3 maande na Sanae IV, die SA basis in Antarktika, vertrek. Haar blog, Antarktika, soontoe en terug, was supergewild – twee inskrywings het binne twee weke 30 000 klikke gekry. Ten tyde van die onderhoud was sy baie opgewonde oor haar uitnodiging om in Januarie saam te vaar na Bouvet, ’n  Noorweegse eilandjie in die Suid-Atlantiese Oseaan, van waar sy weer sou blog.

Droom word waar

“As kleuter wou ek al Amasone toe, later was dit gorillas en die Saharawoestyn. Ek wou die wêreld verken. Ek het gedink elke joernalis gaan spring om Antarktika toe te gaan. Toe ék gekies is, was ek oorstelp. Binne twee weke moes ek voorberei, maar ek glo jy gryp elke geleentheid aan. Níks hoef ’n struikelblok te wees nie.

Ek is weg saam met 75 passasiers, van wie die meeste navorsers wat vir die oornametydperk navorsing gedoen het oor onder meer windkrag en hoe klimaatverandering die ontwikkeling van stede en dorpe in die toekoms gaan beïnvloed. Dan was daar ook die tien lede van die oorwinterspan wat saamgegaan het.

Ek het dadelik vriende gemaak op die skip. Veral met Nazeera Hargey, die hoof van die skipnavorsingspan, en Lood van den Berg, ’n vervaardiger van dokumentêre programme wat vir die departement van omgewingsake ’n video oor die ekspedisie gemaak het.

Hanlie Gouws tydens haar drie maande op Antarktika FOTO: Lood van den Berg, Urban Soul Hanlie Gouws tydens haar drie maande op Antarktika
FOTO: Lood van den Berg, Urban Soul

Weird en reukloos

Ek het nie probeer snaaks of oulik skryf in my blogs nie, ek het bloot geskryf wat ek waargeneem het.  Antarktika is ’n plek wat jou eenvoudig noop om jou ervarings neer te pen. Dis so interessant en anders.

Jou eerste gewaarwording is dat jy niks ruik nie. Dit is weird. Op dynserige dae weet jy nie waar die horison begin of eindig nie. Daar is baie geluide – krakende ys, raserige pikkewyne. Optiese illusies toor met jou kop. Jy ry ’n heuwel uit, maar dit voel asof jy op plat terrein is.

Alles is moeisaam in die koue temperature tussen -10 en -30 °C buite. Jy moet sneeu grawe vir kook of badwater. Ek het help kosmaak en ons het van vyfuur soggens tot ná aandete gewerk. Aanvanklik slof jy buite in ‘pampoenskoene’ (ysskoene) wat 4 kg weeg en in ’n geïnsuleerde yspak. Naderhand speel jy sokker met die  skoene aan. Dikwels is jy ná middernag nog met ’n bier in die hand, want die son sak mos nie.

Sout-en-asyn-tjips

My blog-inskrywings ‘Hoe om te piepie in ’n sneeustorm’ en ‘Hoe om met trekkers oor die ys te ry’ het binne twee weke 30 000 klikke gekry. Internetverbindings op Antarktika is uitstekend. Jy kan Skype en bel. Ek het baie terugvoer van vreemdes gekry. In een van my laaste blogs het ek vertel hoe ek smag na sout-en-asynskyfies. En wraggies, toe ons Kaapstad binnevaar, sien ek ’n see van sout-enasyn-pakkies wat mense op die kaai rondwaai.

Intussen is ek die enigste joernalis wat deur die Noorweegse weerdiens uitgenooi is om drie weke lank op die SA Agulhas te gaan na Bouvet, ’n sub-Antarktiese vulkaniese eiland (die mees afgesonderde ter wêreld) wat aan Noorweë behoort. Daarvoor gaan ons weer my Antarktika-blog ‘lewend’ maak. Ek gaan verslag doen oor hoe die outomatiese weerstasie dáár vervang is.”

Wat ek geleer het

  • Lesers stel belang in gewone goed, soos wat ’n mens eet en waar jy slaap.
  • Jy is in staat tot veel meer as wat jy dink.
  • Dit was ’n great ervaring, maar ek was terug by die huis intens dankbaar vir my geriewe. My hart gaan uit na mense in oorloggeteisterde of onderontwikkelde gebiede wat daagliks swaarkry en geen keuse het nie.
  • Suid-Afrika se hoogs tegnologies gevorderde basis op Antarktika maak jou trots. Die Pretoriase strukturele ingenieur Hennie Stassen, wat dit ontwerp het, het sedertdien die British Antarctic Survey gehelp met die ontwerp van hul nuwe basis. Dit het die standaard gestel vir hoe alle nuwe basisse nou lyk.
  • Die mense- en selfkennis wat jy daar opdoen, kan geen geld ter wêreld koop nie.

Lees die ander hoofstukke in dié reeks artikels:

Lees ook Aletté Winckler se mees onlangse blog op SARIE.com