Dag 1
Saterdag 12 September 2009

Lanie van Reenen, een van die toerleiers, skryf

"Ons gids vir die dag, Trish, en ek ontmoet die groep vroegoggend op Charles de Gaulle-lughawe. Per luukse bus doen ons 'n besigtigingstoer van Parys. Trish het soveel inligting vir ons oor Parys, van die vroegste geskiedenis tot die moderne stad van vandag, dat ons ná 3 ure goed georïenteer is vir die volgende twee dae se verblyf in hierdie "mooiste" wêreldstad.

By die hotel kry ons flink ons kamers en reël om 'n rukkie later te ontmoet wanneer Marita ook by ons sal aansluit.

Watter bymekaarkoms van 'n groep mense is sonder voorval? Ons s'n kom sommer in 'n drietal in die eerste 12 uur!

1. Marita het skaars haarself aan almal voorgestel of een van ons toerlede trap, so in die luister, agtertoe en val by 'n steil marmertrap af. Die goeie nuus is dat sy wonderbaarlik daarvan afkom met net 'n paar lelike skrape en blou kolle en is sommer al die aand na 'n restaurant vir 'n heerlike aandete..... so in die skadu van die Arc de Triomphe.

2. Die enigste heer in ons groep, William, word beroof van 400€ by 'n OTM! Die goeie nuus is dat hy nie seergekry het nie, dat hy nie 'n ophef gemaak het nie ...en dat dit nie NET in SA gebeur nie!

3. Die brand-alarm gaan in die middel van die nag af! Kitty, Marita en ek, synde die verantwoordelike "toer-ouers" haas ons na die ontvangsarea - al drie kaalvoet soos dit boerevroue betaam en in ons nagkabaais! Marita darem met 'n jassie bo-oor en handsak met haar paspoort. Die goeie nuus ... dit was 'n vals alarm en AL die ander toerlede het dit vinnig só opgesom en net omgedraai om verder te slaap ...

Dag 2
Sondag 13 September

'n Paar sinne van Marita van der Vyver

Ek het die hele groep Sondagoggend na die pragtige Parc Monceau naby ons hotel laat stap omdat dit 'n kleiner, meer onbekende en dus meer 'Paryse' park is as die Tuileries of die Luxembourg, waar daar dikwels meer toeriste as Parysenaars te sien is. Daarna het ons 'n voormalige rykmanshuis, nou 'n besonder indrukwekkende museum (Nissim de Camondo), langs die park besoek. En raai wat sien ons teen die mure van een van die deftige onthaalvertrekke? Die pragtigste tapisseriëe wat in die 18de eeu in Aubusson geweef is! Nee, ek het dit nie geweet voordat ons die huis besoek het nie. 'n Fantastiese voorbeeld van sinchronisiteit - of blote toeval?

Sondagaand het die girls in die groep almal die Moulin Rouge besoek en eers 3 uur die volgende oggend in die bed gekom. Daaroor sal Wanda (een van die vele vasvatvroue op die toer, aldus Lanie) later meer moet vertel, want ek het soet en vroeg in die bed gekruip omdat ek Maandagoggend voor ons vertrek na Aubusson nog gou bietjie winkelvensters wou gaan bewonder. Of 'vensters lek', soos die Franse dit noem.

Dag 3
Maandag 14 September

Lanie van Reenen skryf:

Ons reis vandag van Parys na Montlu?on per trein - so 'n 3 en 'n half uur - en vandaar na Aubusson per bus. ('n Paar van die vroue lyk maar leepoog na gisteraand se pret by die Moulin Rouge en is dankbaar om bietjie op die trein te dut.) Ek praat ons gawe busbestuurder om om die mooier maar stadiger roete na ons dorpie te ry. Ek kan so in die ry beduie oor die omgewing en vertel hoe dit gekom het dat ons groepie Suid-Afrikaners in Aubusson beland het.

Ook oor ons hotelprojek en hoe ons die bouery en interieur vanuit SA beplan en uitgevoer het.

Met die aankoms kry almal geleentheid om deur Chateau Sallandrouze te stap en die kamers te besigtig alvorens hulle betrek word.

Ons hotelbestuurderes, Fatiha Clugnac, en sjef, Christophe Chabanel, en hul span staan reg vir ons. Aandete word geniet in die eetkamer en die Franse wyn maak die Afrikaanse tonge lekker los!

Dag 4
Dinsdag 15 September
Vandag besoek ons 'n tapisseriefabriek in Aubusson en verken die dorp op ons eie.

Wanda skryf:
Wat moet ek sê oor die Moulin Rouge? Dis ongelooflik! Die dekor en die karakter van die vertoning neem jou terug na die jare toet, toe die courtesans die manne daar ge-entertain het.  Die show is gelukkig net so baie vir die oog vir die vroue in die gehoor. Daar was n hele paar Saries wat gedrool het oor die manne in die show. Nie net was hulle sag op die oog nie, maar hulle kán beweeg!

Tapisserieë: Laatoggend val al die Saries in 'n ry die noue franse straatjies in tot by die museum. Gewoonlik is die museum op Dinsdae toe maar ons het die voorreg gehad om op 'n private toer daardeur geneem te word. Die sjarmante eienaar van een van die tapisserie-fabrieke wys vir ons hoe eenvoudige geverfde kartonnetjies omskep word in geweefde meesterstukke. Die museum was 'n belewenis wat 'n mens se idee van binnehuise versiering verander. Die oudste stukke, gedateer 1615, hou steeds sy bekoring en vertel die storie hoe die mense in daardie tyd geleef het.

Van al die Saries in Frankryk aan al die Saries by die huis - Bonjour, Merci en Au revoir

* Lees ook Marita se rubrieke in SARIE

Dag 5
Woensdag 16 September

Elize en Lize Rust skryf

Ons besoek aan die huis van die gevierde Franse skrywer George Sand in Nohant in die Berry-distrik, was nog lekkerder ná Marita van der Vyver se inligtingspraatjie gisteraand.

George Sand is nét so bekend vir haar eksentrieke lewenswyse as haar romanskryfkuns. Miskien is daar van haar eienskappe waarmee ons as Sarie-lesers kan assosieer, of selfs begeer. Sy's van adellike afkoms, sy was 'n demokratiese vegter vir menseregte, het 'n skandalige liefdeslewe gehad ('n affair met die komponis, Chopin), sy't en pyp en sigaar gerook en soos Coco Chanel voorkoms gelyk. Hierby het sy mansklere gedra en was sy 'n weldoener aan minderbevoorregtes.
 
Opvallend van hierdie besoek was Marita se vooraf in-diepte studie van die skrywer, terwyl sy self in eie reg ons eie gewilde skrywer is en net so gemaklik met die gesproke woord omgaan. Sy maak ons trots Suid-Afrikaans.
 
Ons toergroep het besluit om vanjaar elkeen een van haar boeke as Kersgeskenk aan iemand anders te gee... Doodhonger (ten spyte van 'n groot ontbyt) val ons by 'n restaurant in die naaste dorpie in vir 'n vinnige  middagete. Die res van die middag dwaal ons rustig deur die pragtige tuin van Patrice Taravella by Notre Dame D'Orsan. Ons het uitgesien na 'n bietjie son maar die tuin is ewe mooi in die sagte nat mistigheid van die reën wat die draai van die seisoen verwelkom... Dag 6
Donderdag 17 September

Sonia van der Merwe en Susan Goosen skryf

Besoek aan Boussac

Die Sarie-vriendinne het vandag 'n heerlike uitstappie gehad na La Creuzette in Boussac, die tuiste van Louis Janse van Vuuren en Hardy Olivier.

Ons is ontvang met egte Franse-Boere-gasvryheid. Ná almal se oe en aa oor hul lieflike herehuis is ons na die plaaslike mark om vars produkte aan te koop vir die kosdemonstrasie later. Heerlike vars blomkool vir die sop het in die mandjie beland asook twee reuse salms wat later in 'n soutkombers in die oond sou verdwyn.

Op 'n informele wyse het Hardy ons aan Franse kaas en charcuterie (worse) bekendgestel. Van die toerlede is ingespan met die voorbereiding van die disse. Susan en Hanlie moes hul slag wys met die knie van die soutkors. Marietjie, Sanet en Susan het aartappels geskil vir die aartappel-wasabi-gereg. Almal het meegedoen in die maak van spinsuiker vir die nagereg – natuurlik onder groot gelag en aanmoediging.

Ons het aangesit by stylvol gedekte tafels in egte Franse styl. Smaaklik, uitsonderlike kombinasies, voortreflik was van die opmerkings aan tafel.

Hardy het ons vergesel na die kasteel van die Blondeau-familie (eienaars van die tapisseriefabriek in Aubusson.) Hy is nie net 'n goeie sjef nie, maar ook 'n ingeligte gids. Almal was geraak deur die ryke geskiedenis en tradisies van die kasteel. Ons uitstappie is afgesluit met 'n besoek aan die studio van Louis Janse van Vuuren, 'n bekende en gevierde Suid-Afrikaanse skilder. Hy vier vanjaar sy 60ste verjaarsdag met twee groot uitstallings in Suid-Afrika. Kyk gerus na die webwerf www.lacreuzette.com vir meer inligting.

Die dag het alle verwagtinge oortref en was beslis die hoogtepunt van ons toer.

Vrydag 18 September
Lani van Reenen:
Ná 'n piekniek-ontbyt langs die Creuze-rivier by 'n pragtige klein dorpie, Moutier d'Ahun, gaan ons vanoggend verder na Limoges. Dit is die grootste stad in die Limousin en ook wêreldbekend vir die vervaardiging van fyn porselein. Die pad daarheen neem ons weer deur die digte woude van die Limousin - die streek met die grootste persentasie inheemse bos in Frankryk.

Die historiese besienswaardigheid vandag is die Musée National de Porcelaine, gestig in 1845. Elkeen kan rustig en in haar eie tyd hier deurstap met oorfone wat in Engels die uitstallings in die verskillende salonne verduidelik.

Maar dis ons laaste dag en ons was dae laas in winkels! Dus neem die meeste van ons koers na die mooi moderne winkels in Limoges en koop geskenkies en ander fyn Franse goedjies vir 'n laaste bietjie selfbederf! Sommige van ons groep stap oor na die ou stad en almal maak 'n laaste draai by die mooi straatkafeetjies.

Vanaand trek almal hulle grênd aan en Christophe en sy span berei weer eens vir ons 'n feesmaal. Marita vertel op haar lekker manier vir ons oor haar en haar gesin se lewe in die Suide van Frankryk.

En asof dit 'n fyn uitgewerkte plan was, stap haar man Alain en haar engel-dogtertjie Mia in op die oomblik wat sy oor hulle vertel. Sy het dit as 'n verrassing gehou dat hulle op die laaste aand by ons sou aansluit.

Laaste dag 19 September
Wanda skryf:
Die einde van ons verblyf in Aubusson.

Die Chateau Sallandrouze is majestieus en elegant en neem jou terug na n ander era. Die interieur is luuks, romanties en eg-Frans.  Die "chatelaines" (Lanie, Liesbet en Yvette) is tipiese 21ste eeuse vroue – vriendelik, gasvry, dinamies, entoesiasties . . .

As jy iemand is wat voluit leef in die 21ste eeu, maar daar is iewers n tikkie 16de-eeuse Franse romantiek in jou siel, is Chateau Sallandrouze net die plek vir jou. Hier kan jy jou droom kom leef.

Hiermee groet ek, Wanda, namens die eerste SARIE-toergroep. Dit was 'n Franse vakansie "par excellence!"