STERBOEK

The Digital Photography Handbook, Doug Harman en David Jones (Quercus, R94,95)
Dis ’n nuttige gids wat stap vir stap verduidelik hoe jy digitale fotografie moet benader, hoe jy ’n kamera kies en watter soort rekenaar en sagteware jy benodig. Die afdeling oor hoe om jou kamera te gebruik is prakties ingedeel met uitstekende en maklik verstaanbare wenke oor die komposisie en inhoud van foto’s. Die tegniese aspekte van fotografie, soos diepte van veld, beligting, wit balans, ens. word in leketaal uiteengesit. Aandag word ook gegee aan die na-versorging van jou foto’s op rekenaar. Hier is iets vir alle fotograwe!
Phyllis Green

RESENSIES



Retoer, Andries Bezuidenhout (Protea, R120)

Die titel en voorblad van Bezuidenhout se debuutbundel verklap reeds dat dit hier oor plekke en reise gaan, meestal letterlik. Retoer veronderstel “dat jy weet waar die begin is” en Sodom en Gomorra, oftewel Pretoria en Johannesburg, is seker net so ’n goeie wegspringplek soos enige ander. Dis die stedelike landskap in al sy naakte waarheid wat hier geskets word. Die reis gaan egter verder, land-uit, waar uitgewekenes probeer vergeet, en ook terug in die (Afrikaner se) geskiedenis. So aktueel soos jy kan kry, soms meer prosa as poësie, maar nietemin raak verwoord.
Ilse van Staden

Jagseisoen, Francois Bloemhof (Lapa, R110)
In Spinnerak was speurder Alma van der Pool agter ’n reeksmoordenaar aan, maar hierdie keer gaan sy ’n kinderkaper probeer vang deur haarself as onderwyseres voor te doen . . . Hoe meer sy dié miernes oopkrap, hoe meer stel sy haarself en haar huismense in gevaar. Die intriges en ontknopings van Bloemhof se stories herinner ’n mens oor die algemeen sterk aan die werke van Roald Dahl en Stephen King, en hou jou strykdeur aan die raai. Jagseisoen is ligte leesvermaak met ’n vinnige tempo, loslit taal en geloofwaardige karakters.
Emsie Viljoen

Op ’n plaas in Afrika, Helena Gunter (Human & Rousseau, R120)
Die bundel kortverhale, wat hulle hoofsaaklik in ’n plaasomgewing afspeel, is boeiend en maklik leesbaar, ondanks die ernstige sake wat dit aanraak: seksuele misbruike, affairs, kindermolestering, grondeienaarskap, manipulasie van geregtigheid en korrupsie. Die hoofkarakter in elke verhaal vertel self die storie en dit skep ’n intimiteit van emosie wat gedeel word rondom die menslike drama van ontnugtering. Die boek het die Eugène Maraisprys vir 2008 ontvang.
Phyllis Green


Soul Catcher, Michael White (Quercus, R174,95)
In ruil vir die delging van sy skuld moet Cain ’n voortvlugtende slavin, Rosetta, opspoor en terugbesorg aan haar eienaar, Eberly. Die soektog is vol ontberings en moeilike omstandighede, asook ’n rugsteker wat die tog ontwrig. Cain is ’n vreemde mengsel van ’n man, soms hard en ongenaakbaar en tog ook medemenslik. Slawe noem so ’n losprysjagter ’n soul catcher. Aan die einde van die verhaal wonder ’n mens wie was nou eintlik die ware sielvanger.
Phyllis Green

The Trouble with Africa: Why Foreign Aid Isn’t Working, Robert Calderisi (Yale University Press, R184)
Die skrywer is ’n voormalige Wêreldbankbeampte wat met ontwikkelingshulp gewerk het. Sy boek is ’n persoonlike en omvattende weergawe van buitelandse hulp aan Afrika die afgelope 30 jaar. Calderisi voel baie sterk oor Afrika en hoe ontwikkelingshulp gebruik word - of eerder hoe dit nié gebruik word nie. Hy skryf oor die geskiedkundige probleme en die tekortkominge van hulp en hoe Afrika homself telkens in die voet skiet. Hy bespreek ook moontlike oplossings vir ’n beter bestel in Afrika in die volgende 10 jaar. ’n Intense en insiggewende boek.
Phyllis Green

Jam Every Other Day, Emmaleen Kriel (Oshun, R139,95)
Met ’n bietjie meer as liefde en goeie bedoelings het Emmaleen 6 kinders grootgemaak. ’n Nostalgiese blik op hul lewe in ’n huis vol kindergelag, moddervoetspore en die geur van pannekoek. Sy onthou die idilliese, landelike Constantia van die 60’s - ’n paradys vir kinders, met ganse, honde, ponies en ’n lappop, Giblet, altyd in gelid. ’n Lekkerlees verhaal oor ’n baie ongewone familie.
Chris Botha

BEKENDSTELLINGS

    

The Ceramic Art of Robert Hodgins, Retief van Wyk (Bell-Roberts Publishing, R325) en William Kentridge Tapestries, Carlos Basualdo (Yale University Press, R394,95)
Hodgins en Kentridge is meer bekend vir hul ander kunsgenres as keramiekwerk en tapisserieë. Dié twee hardebandboeke lig dié andersoortige werk van hierdie SA kunstenaars volledig uit met goeie teks en baie illustrasies.

Introducing Quantum Theory, Mcevoy & Zarate (Icon, R118) As jy nog nooit die kwantum-teorie verstaan het nie, kan jy dit nou in strokiesboekformaat bestudeer! Die oulike sketsies en eenvoudige taal maak ’n moeilike begrip verstaanbaar vir almal.


Natuur-trivia uit Afrika, Dawid van Lill (Struik, R89,95)
’n “Het-jy-geweet?”-boek vol feite, lyste van grootstes en kleinstes, asook volledige beskrywings van die natuurwonders van Afrika. Die boek is vir almal wat hou van vasvra-speletjies en trivialiteite. Besoek www. imagesofafrica.co.za vir interessante foto’s.

Lewenspraatjies met ’n seun, Izabella Little met Patrick Wilson (Oshun, R139,95)
Die boek is geskryf ná ’n peiling onder jong mans en seuns oor kwessies waaroor hulle meer wil weet. Daar is raad oor lewensvaardighede, verhoudings met meisies, uitdagings en probleme soos drank, dwelms en ongewenste swangerskappe. Selfs ’n afdeling oor of jy jou eie geluk bepaal.

Babies in Mind, Jenny Perkel (Juta, R140)
’n Gids vir nuwe ouers oor wat hul baba se fisieke en sielkundige behoeftes in die eerste lewensjaar is. Dit wys op latere emosionele probleme wat kan voortspruit uit die eerste lewensjaar. Perkel is ’n kliniese sielkundige wat spesialiseer in speelterapie en psigodinamika, asook psigoterapie vir tieners en volwassenes.