STERBOEK

Deep Space - The Universe From the Beginning, Stuart Clark (Quercus, R404)
As die diepste buitenste ruim jou nog altyd gefassineer het, is hierdie boek vir jóú. Die verskillende fenomene van die hemelruim word in dié volkleur-glansboek uiteengesit. Die foto’s is misterieuse, abstrakte kunswerke. Clark verduidelik hoe ’n sterrestelsel ontstaan, hoe die kosmos inmekaarsteek, die oerknal, gravitasie, swartgate, van die eerste sterre tot die kosmiese web van die heelal. En op só ’n manier dat almal dit kan verstaan. Ek kyk nou met ander oë na die eksotiese wonderwêreld van die ruimte wat in my kop vir my onmeetbaar bly.
Phyllis Green

RESENSIES

Die afdruk van ons hande, Cas Vos

Die afdruk van ons hande, Cas Vos (Protea Boekhuis, R100)
Met die oopmaak van die bundel trap jy al die mitologie binne, deur skutbladtekeninge van helde en mitologiese figure. Die verse vra skynbaar dat jy anders luister, met ’n oor wat die vreemde ritmes van die voortyd kan hoor, anders voel die metrum rukkerig. Die gedigte in vaster vorm neig ongelukkig na rymdwang. Veral die reeks “Uruk-fragmente”, verwerkings van die klassieke Gilgamesj-epos, lees soos ’n Iliade. Gilgamesj se klaaglied oor sy vriend se dood is pynlik mooi. Griekse mites word betrek en Bybelse verwysings slim verdig, maar selfs die hedendaagse is asof met ’n mistroostige woordlyn aan die verre verlede vas. Die afdruk van vele hande, dus.
Ilse van Staden

vyf Ses,skerp Mes, Brigette Labuschagne

Vyf ses, skerp mes, Brigette Labuschagne (Human & Rousseau, R90)
Abbi woon in die destydse Distrik Ses en raak heg bevriend met Benjamin, ’n predikantseun. Die ongewone aard van hul vriendskap dring eers tot haar deur toe haar pa haar eendag ’n loesing gee omdat sy nie “daai wit kind” wil laat staan nie. Malcolm, Abbi se ouer broer, raak by bendemisdaad betrokke met tragiese gevolge vir Abbi en Benjamin. Dié debuutroman was ’n finalis in Human & Rousseau se “Ek is ’n skrywer”- kompetisie (aangebied in samewerking met Huisgenoot, You, Drum, RSG Befonk en SABC Education).
Emsie Viljoen

’n Tapisserie met klein diere, Erika Murray-Theron (Tafelberg, R140)
Die verhaal speel hom af tydens ’n familie-samekoms naby Knysna. Die uiteenlopende familielede konfronteer mekaar, en hulself, ná jare se afstand en verwaterde kontak. Die skrywer weef ’n tapisserie van emosies, konflik en insig. Elke hoofstuk laat ’n nuwe geraamte uit die kas dompel. Van die karakters se verhale was egter ietwat onafgerond en die boek laat jou met heelparty vrae. Nietemin, ’n lekkerlees, meesleurende familiedrama wat bevestig: Bloed ís dikker as water.
Lee-Ann du Plessis

Leuens en ander liegstories, L Fourie

Leuens en ander liegstories, Lourens Fourie (Lapa, R85)
Dié versameling humoristiese sketse is leesstof vir op ’n lui Sondagmiddag. Die wel en wee van ’n handvol eksentrieke plattelandse karakters word treffend weergegee. Te midde van al die kwinkslae gaan die lag soms gepaard met ’n effense traan - van Gertjie Deysel en sy brandende begeerte om ’n bênd te stig, tot oom Bertie Cronje en die aardige bedrywighede van sy wonderbaarlike Baber. Dis Fourie se tweede pennevrug; origens is hy dalk beter bekend as ywerige sanger, musiek- en liriekskrywer.
Emsie Viljoen

Resistance, Owen Sheers

Resistance, Owen Sheers (Faber and Faber, R249)
Tydens die (fiktiewe) Duitse besetting van Brittanje in 1944 word Sarah Lewis, ’n boervrou, een oggend wakker en ontdek haar man het verdwyn. So word al die vroue in die geïsoleerde Walliese vallei van Olchon wakker - almal se mans is weg. Dié vrouegemeenskap staan saam terwyl hulle wag en hoop op nuus. ’n Duitse patrollie daag in die vallei op. Die strawwe winter vorm ’n wedersydse afhanklikheid tussen die twee groepe. Sarah leer ken die offisier in bevel, maar dis oorlog en hoe lank kan die harmonie in die vallei hou? ’n Boeiende portret van ’n gemeenskap in ’n staat van beleg.
Chris Botha

Other colours, Orhan Pamuk


Other Colours, Orhan Pamuk (Faber and Faber, R200,95)

Die Turkse Nobelpryswenner Orhan Pamuk se versameling essays roer op boeiende en aandoenlike (hoewel soms ietwat neurotiese) wyse onderwerpe soos die letterkunde, skrywerskap, familieverbintenisse en veral kulturele vervreemding aan. Dit vorm onder meer ’n kulturele inleiding tot Turkye, ’n “tussenland” waarvan die kwelpunte verbasend dikwels aan Suid-Afrika s’n herinner. Die boek voel dus relevant en insiggewend. Lesers van Pamuk se fiksie sal sy mymeringe en onderhoude daaroor baie interessant vind.
Hester Carstens

BEKENDSTELLINGS

Bekendstellings: Good vibrations e.a.

Good Vibrations, Ayn Carrillo (Random House, R136)
Die boek ontstaan omdat Carrillo se kêrel haar van “pornofobie” beskuldig. Sy wil hom verkeerd bewys en pak die onderwerp by die horings. Sy stel ’n lys op van elke aspek van pornografie wat sy moet ondersoek om antwoorde vir haarself en haar vriendinne te kry. Insiggewend en vermaaklik.

Hollywood Girls Club, Maggie Marr (Random House, R114)
’n Kykie agter die skerms van die Hollywoodse filmbedryf is altyd vermaaklik. Die verhaal word vertel deur vroue wat saamspan om hulle te wreek op diegene wat al teen hulle gekonkel het. Seks, drank, partytjies en lekker skinderstories sorg vir ontspannende leesstof.

Shoe Addicts Anonymous, Beth Harbison (Random House, R118)                                                                                                                                                                    Diep in die skuld bedink Lorna ’n slim plan om ander skoenverslaafdes te gebruik om haar fetisj te bevredig - om elke maand ’n paar ontwerperskoene te kan koop. Haar “Shoe addicts anonymous”-advertensie bring nuwe vriendinne in haar lewe, sorg vir ’n nuwe onderneming en verander almal se lewe positief.

The Spa Decameron, Fay Weldon (Quercus, R123)
’n Spa-ervaring kan ongewone verrassings inhou. Veral as jy noodgedwonge tyd saam met ander besoekers moet deurbring, wanneer die pamperlang en bederf nie gebeur nie. En julle jul vreemdste lewenservarings met mekaar moet deel om die tyd om te kry. ’n Boek met onverwagte lewensverhale.

The Princess Diaries: To The Nines, Meg Cabot (Macmillan, R136)
Chick lit op sy beste. Prinses Mia se kêrel sê haar af. Sy raak depressief en gaan vir terapie. Dan kom sy af op ’n 400 jaar oue verlore verordening deur haar voorsaat. Dit kompliseer alles . . . Dis die negende boek in hierdie vermaaklike reeks verhale oor die koninkryk van Genovia en sy tienerprinses.

In The Red, Alexis Hall (Icon Books, R189)
Hall se dagboekvertelling oor hoe sy haar kooplus vir ’n jaar nek om moes draai, is snaaks, soms hartroerend en iets waarmee elke kooplustige vrou kan identifiseer. Haar belofte aan haarself: Geen nuwe klere, net noodsaaklike aankope en betaal soveel skuld as moontlik af, volg sy nougeset vir ’n jaar, sodat sy ’n beter lewe kan lei.

Hoe ons wonderlike liggaam werk, Brainwaves met illustrasies deur Lisa Swerling en Ralph Lazar (Human & Rousseau, R184)
’n Prettige gids met volkleur-illustrasies wat die liggaam en sy werking verduidelik. Daar is ook ses volkleur-uitvoubladsye waarop noodsaaklike stelsels soos spysvertering, sirkulasie, asemhaling, immuniteit, skelet en die brein uiteengesit word. In Afrikaans vertaal deur Franci Vosloo. Ook beskikbaar in Engels.

Good enough mother, Sam Cowen

Good Enough Mother, Sam Cowen (Oshun, R143)
’n Humoristiese dagboekvertelling deur Cowen oor haar moeilike tweede swangerskap en die uitdagings van haar werk as TV-aanbieder, lid van ’n ontbyt-radiospan en ma-wees van ’n besige seuntjie. Dis die opvolg op Waiting for Christopher, haar eerste boek.