STERBOEK

In celebration of Fynbos

In Celebration of Fynbos, Petra Vandecasteele, met foto’s deur Paul Godard (Struik, R174)
Suikerbossie ek wil jou hê! Want jy is so mooi, ’n natuurlike medisyne, maklike groeier, inheems en, bowenal, trots Suid-Afrikaans. Hoewel die Kaapse flora-koninkryk drie keer kleiner as dié van die Verenigde Koninkryk is, groei op Tafelberg alleen soveel plantspesies as in die hele Brittanje, volgens dié skrywer. Van die 9 000 soorte fynbos is meer as 1 400 tans rooi data-spesies en erg bedreig. Die boek het interessante inligting oor die plante en hul gebruike. Met ongelooflike inspirerende foto’s deur Godard. Bewonder die Kaapse prag, jou erfenis.
Phyllis Green

RESENSIES

Onbedoelde land, Bernard Odendaal

Onbedoelde land, Bernard Odendaal (Tafelberg, R110)
’n Tydsgees se uiting vind dikwels eerste neerslag in die kuns, en dié bundel is ’n sprekende voorbeeld daarvan. Die wit Afrikaner se geloof in die “bedoelde land” (van F.A. Venter) het skipbreuk gely. In die hedendaagse Suid-Afrika is tweespalt oor ’n land wat dalk nooit bedoel was nie, ’n “niemandsland” en “al slaat ek sweepslae poësie -/jou kranse antwoord eintlik nie”. Behalwe vir die ontnugtering en onbeskaamd politieke belewenisse, is hier veral persoonlike verse oor die liefde, gesin, verval, asook omgedigte koerantberigte.
Ilse van Staden

Kom ons sit sommer by die tafel, A Le Roux

Kom ons sit sommer by die tafel, André le Roux (Human & Rousseau, R140)
Beslis nie ligte leesstof nie. Dié kortverhale skop jou sosiale gewete wakker. Le Roux is ’n woordsmid wat elke woord uitbeitel om die regte emosie te skep. Soms ironie, wrangheid, spot, humor en dan, skaamte . . . vir emosies en vooroordele waaraan almal al skuldig was. Ek kan nie onaangeraak wees deur sy “Na ’n ou-ou kortverhaal van Roald Dahl” nie. Die ma se vraag oor haar seun en haar onvermoë om sin te maak bly vassteek. “Daar is ’n kat ter sprake” vang subtiel die drade uit ander verhale in die bundel vas. En daar is veel meer ter sprake . . .   Phyllis Green

Alles behalwe die geheim van my whiskies, R Greeff

Alles behalwe die geheim van my whiskies, Rachelle Greeff (Human & Rousseau, R130)
“Slaan my bloedneus, liewe skrywer, steel my asem en ontsluit my diepste skaduwees, dóén net iets - dat ek aan die einde van my reis deur jou boek anders is as aan die begin.” Só skryf Rachelle Greeff in hierdie versameling koerantrubrieke. En dis presies wat sy regkry. Jy kyk nooit weer dieselfde na die skryfproses, kook, wasgoed was, bra’s of katte nie. Jy lag vir ’n titel soos “Wie wil anyway piepie soos Parker Bowles?” en jy huil oor ’n kind wat die huis verlaat. Daarby is die taalgebruik verruklik.
Riette Rust

Diane Victor, E. Rankin en K.  von Veh

Diane Victor, Elizabeth Rankin en Karen von Veh (David Krut, R150)
Dié omvattende handleiding oor die werk van hierdie kunstenaar is ’n moet vir alle kunsentoesiaste en -studente. Haar loopbaan en werke word chronologies breedvoerig en kundig bespreek. Haar sketse en afdrukke lewer bytende sosiale kommentaar op ons gemeenskap. Bestel die boek by www.davidkrutpublishing.com
P.G.

The Fourth Man, K.O. Dahl

The Fourth Man, K.O. Dahl (Faber and Faber, R169)
Moord in die koue Oslo. ’n Mooi vrou, Elisabeth Faremo, wat met die ondersoekbeampte se kop - én hart - smokkel. Ná ’n tweede moord begin jy wonder of die beampte, Frank Frølich, se baas nie reg is nie: Iemand probeer hom op ’n dwaalspoor hou. Toe die spoor warmer raak, word Frank amper in sy eie sauna vermoor. En dis net genoeg om hom goed moeilik te maak. Noorweegse name en tonele sorg vir ’n interessante agtergrond van dié vertaalde werk. Die spanningslyn verslap hier en daar, maar nie sodanig dat jy nie lus voel om dit enduit te lees nie. Alida Vos

Foolish Mortals, J. Johnston

Foolish Mortals, Jennifer Johnston (Headline Publishing Group, R224,95)
Wat ’n lekker gekompliseerde familie. Daar’s letterlik órals kinkels en kabels . . . Ciara se vervreemde pa sterf amper in ’n motorongeluk wat deur sy tweede vrou veroorsaak word. Drama! Hy kan aanvanklik niks onthou nie, maar stadigaan kom sy geheue terug. Daarmee saam ook ’n paar ongemaklike dinge wat ’n “interessante” Kersfees tot gevolg het. Ligte vermaak vir ’n lekker winteraand voor die kaggel.
Marguerite van Wyk

Peony in love, Lisa See

Peony in Love, Lisa See (Bloomsbury, R184,95)
’n Spookstorie, liefdesverhaal, familiesage - teen die agtergrond van die kultuurryke 17de eeuse China. Die huwelik van Peony, 15-jarige rykmansdogter, is kleintyd al gereël. Maar sy raak verlief op ’n ander man en besluit om haar toekoms in haar eie hande te neem. Geïnspireer deur die opera The Peony Pavilion gaan sy op ’n eetstaking - en sterf (soos geslagte Chinese vroue voor en ná haar). Maar die dood weerhou haar nie daarvan om met haar geliefde se hartsake in te meng nie.
Lydia van der Merwe


SPESIAAL VIR JOU KINDERS

Arboreta - die heks met die groen hare, Riana Scheepers (Protea Boekhuis, R103,44)
Arboreta het groen hare en woon in ’n woud. Sy’s ’n goeie heks en beskermvrou van die bos, maar sy’s stokoud en moet iemand vind wat haar rol kan oorneem. Dan ontmoet sy vir Silvie, ’n meisie wat nie daarvan hou dat mense bome afkap nie. Pragtige illustrasies deur Vian Oelofsen.

Wie is dit?, Louis Barnard

Wie is dit?, Louis Barnard (Vuvu, R160)
Adam en Eva met selfone, Abraham by sy braaivleisvuurtjie, Dawid met ’n kettie en Goliat op ’n skaal - ou bekende Bybelkarakters en -stories word op ’n moderne manier in strokiesformaat uitgebeeld om kinders se aandag vas te vang. Bestel by www.vuvubooks.co.za of sales@electricbookworks.com.

Groot-ore se fiets, Knikkie leer skryf

Groot-Ore se fiets, Enid Blyton, en Knikkie leer skryf, Suzanne Edwards (Kejafa Knowledge Works, R39,99)
Knikkie beplan ’n verrassing vir Groot-Ore. Hy laat moderne bykomstighede aan sy vriend se fiets sit, met katastrofiese gevolge. Daar is nou vier van dié gewilde verhale beskikbaar in Afrikaans met vier werkboekies wat kinders leer skryf en tel. Kry meer inligting by kejafa@ mweb.co.za of 014 577 0005.