STERBOEK

Kalahari, Magnificent Desert, Erwin & Nicoleen Niemand (Oshana, R310)
Kalahari, dor en sanderig, met rooi duin op rooi duin . . . Dis dalk ook die prentjie in jou kop, maar blaai deur die Niemands se uitsonderlike koffietafelboek en jy sal besef dis ’n streek van uiterstes. Soms is dit grasgroen en mals, volop met bokspringende babadiertjies. ’n Streek vol groot en klein diere, insekte en plante. Die ander prentjie is dié van sandmonsters wat voortrol, sonder reën wat uitkoms bring. Die uitdaging om oorlewing is altyd ’n werklikheid. Dit het ure, soms dae se geduld gekos om die regte oomblik op film vas te lê, vir ons om ons in dié mooi te verlustig. Oor die ongewone foto’s sê Erwin: “Geduld skep geluk.” Die teks deur Anne Rasa rond die visuele fees goed af. Ek kan nie wag vir die volgende boek in die reeks nie!
Bestel by: www.oshana.co.za of erwin@oshana.co.za
Phyllis Green

RESENSIES

Siegfried, Willem Anker

Siegfried, Willem Anker (Kwela, R140)
Die 32-jarige Siegfried, die “visman”, woon saam met sy pa op ’n afgesonderde  Karooplaas. Sy pa vertel sy ma was ’n meermin, daarom het Siegfried webbe. Dan val sy pa dood neer. So begin Siegfried se meesleurende verhaal om sy enigste familielid in die Kaap te soek - Pa het hom so geleer vir “as iets gebeur”. Hy ontmoet verskeie karakters op sy pelgrimsreis en Anker beweeg slim tussen hul ervarings van Siegfried. ’n Wenner vir kieskeurige lesers.
Antoinette Louw

Asbesmiddag, Van Heerden

Asbesmiddag, Etienne van Heerden (Tafelberg, R150)
Sebastiaan Graaff, hoofkarakter, romanskrywer en professor, se nuwe roman kry wording die dag toe hy die asbesmagnaat in Guiseppe se haarsalon ontmoet. Die ontmoeting bring heimwee en herinneringe uit sy kinderjare. In sy soeke na sy roman se storie bevraagteken hy sy verlede en oortuigings. ’n Boek vol kleurryke karakters en intriges wat konsentrasie verg om by te bly met die storie en karakters.
Karien Labuschagne

The Resurrectionist, James Bradley

The Resurrectionist, James Bradley (Faber & Faber, R169)
 In 1826 gaan studeer Gabriel Swift anatomie in Londen. Hy moet lyke was en uitlê. Maar dan raak die lyke en sy geld op en verval hy in die onderwêreld. Hy word ’n lykopgrawer (resurrectionist) en later moet hy moor. Maar dan staan Gabriel op verrassende wyse op . . . Hierdie gruwelverhaal wys op reg en verkeerd en die dun skeidslyn tussen lewe en dood. Goeie letterkunde!
Riette Rust

Quarter Tones, Susan Mann

Quarter Tones, Susan Mann (Random House, R130)
Ana kom terug Kaap toe om haar pa se sake af te sluit ná sy dood. Haar twee vreemde buurmanne, die broers Van der Veer, kompliseer haar reeds gekompliseerde situasie. En in Londen wag haar man met sy verwagtinge oor hul huwelik en haar mislukte musiekloopbaan. Lees die boek as jy oor die intriges van verhoudings en emosionele skuld en die fyn spel van mag in die huwelik wil weet. ’n Aangrypende verhaal.
P.G.

How to have a big life

How to Have a Big Life, Rupert McKerron (Pantsula Press, R93)
’n Klein boekie met ’n groot boodskap. Soms moet ’n mens herinner word hoe om positief te dink, en fisiek en geestelik gesond te leef. McKerron gee eenvoudige en praktiese raad wat jy daagliks kan toepas. Dis die soort boekie wat ek saam met my wil dra. Soms net om na die mooi daarvan te kyk en ander male om weer ’n lewenskwessie te bekragtig met die ondersteunende woorde daarin. Gaan kyk by www.abiglife.biz vir nog inspirasie. P.G.