Ons hou van

The Full Circle, Dave Varty (Penguin, R230)
Op die familieplaas Sparta, naby die Kruger Nasionale Park in die Bosveld, leer die Varty-broers, John en Dave, die natuur ken en liefhê. In 1970 stig hulle Londolozi as 'n safari-onderneming. In Dave se strewe om die natuurlike erfenis van Afrika te bewaar neem sy lewenspad hom tot in Oos-Afrika. Met sy uiteindelike terugkeer na Londolozi word die sirkel voltooi. Dié boek vertel sy lewensverhaal: Hoe een mens die natuur en die mense om hom kan verryk en beïnvloed. - K. Labuschagne

RESENSIES: AFRIKAANS


Oulap se blou, Chris Barnard (Umuzi, R125)
Ná bykans 20 jaar is dit 'n groot heerlikheid om 'n nuwe bundel kortprosa uit dié skrywer se pen te lees. Die 40 vertellings word beskryf as reisverhale en hulle neem jou inderdaad op reis. Nie net na fisieke bestemmings nie, maar ook met heimwee na ander eras en mense. Ook op 'n reis binne-in jouself, 'n kuns wat baie min skrywers bemeester.
Soms ontroerend en soms humoristies, en al die verhale is sonder onnodige omhaal van
woorde geskryf en lees lekker. Dis vir lees en herlees. As jy Barnard se skryfwerk ken, sal jy weet hy is een van die meesters van kortprosa, een van ons mees bekroonde skrywers. En as jy nié bekend is met sy werk nie, is dit die ideale boek om mee te begin.
- Gert Venter

Oulap se blou


30 nagte in Amsterdam, Etienne van Heerden (Tafelberg, R184)

Henk de Melker, oftewel Henk "Ekskuus", is 'n bleeksiel wat monografieë oor randfigure skryf. Maar dan ontvang hy 'n brief wat sê hy het sy tante Zan se huis in Amsterdam, "die stad van mis en toet", geërf . . . As kind was Henkie baie na aan dié eksentrieke aktrise-tante wat epileptiese aanvalle gekry en dan "in haar woorde verdwaal" het. Daarby was sy 'n politieke aktivis en haar sekslus onversadigbaar. In Amsterdam doen Henk navorsing oor die skilder Vincent van Gogh se onbekende broer Cor en loop terug op tante Zan (ook Xan met 'n klapklank) se spoor. Hy leer karakters soos die sakkeroller, bedelaar en straatmusikant ken, en in die proses ook homself. Hy vlek 'n paar geheime uit sy kinderjare oop en moet dan besluit: Bly ek in my erfhuis of moet ek na SA terugkeer? Dié roman bied interessante interpretasiemoontlikhede en die beeldspraak is verruklik (byvoorbeeld, die Engelse bloedlyn ruik na "Christmas shopping in Garlicks"). Moenie dié een misloop nie. - Riette Rust

30 nagte in Amsterdam


'n Slagterseun met 'n brilletjie, Tom Lanoye, vertaal deur Daniel Hugo (Protea, R130)
In hierdie ses sketse, 'n keur uit drie gepubliseerde bundels, toon Lanoye sy vernuf in beskrywings wat sy nering as dramaturg beklemtoon: Buiten die outobiografiese titelverhaal lees die res van die staaltjies letterlik soos 'n draaiboek. As roman- en rubriekskrywer, essayis en digter is hy berug vir die openhartige wyse waarop hy temas rondom vervreemding, verdorwenheid en ander eietydse dilemmas aanpak. Sy gestroopte
verteltrant is egter misleidend - hoe hy realiteit met verbeeldingsvlugte en selfspot kombineer, beklemtoon juis die patos wat agter hierdie hand vol oënskynlik terloopse vertellings lê. Danksy die Vlaams Fonds voor de Letteren en 'n knap vertaling deur digter Daniel Hugo kan Afrikaanse lesers nou self besluit of Lanoye sy reputasie as Europese wunderkind gestand doen.
- Emsie Viljoen

Slagterseun met &aposn brilletjie


Staal Burger, Fanus Rautenbach (Protea Boekhuis, R100)
As jy nog onthou wat 'n "doedie" is, is dié boek vir jou. 007 kan by Suid-Afrika se
baasspeurder kom leer hoe speurwerk gedoen moet word. Al die elemente van 'n goeie
spioenasieverhaal – staatsgeheime, mooi meisies en "Russiese" boewe – is teenwoordig.
Die aanslag is tong in die kies. Dis moeilik om te glo dat die oorspronklike verhaal reeds in 1961 geskryf is. En dít kom jy eers agter as jy besef Staal het nie 'n selfoon nie!
- Gert Venter

Staal Burger


Resensies: Engels                                                                     

 
Paul Theroux

Ghost Train to the Eastern Star, Paul Theroux (Penguin, R220)
Theroux gaan terug opdie spore van sy reis, drie dekades gelede, per trein van Europa tot in Asië. Hy besoek al die ou plekke weer en beskryf hoe dit verander het – en hoe ook sy indrukke verskil. Hy gee ook interessante agtergrond oor politieke leiers, geskiedkundige plekke en ekonomiese vooruitgang in die betrokke streke.
Theroux is 'n eiesinnige skrywer wat nie skroom om sy persoonlike menings in sy reisboeke
te lug nie. Wat sy boeke boeiend maak, is die gesprekke wat hy op sy reise met gewone
mense voer. Dit vorm kerngedeeltes van die teks en gee lewe aan sy werk.
- P.G.


A Millimetre of Dust

A Millimetre of Dust, Julia Martin (Kwela Books, R169)
'n Ouerpaar en hul jong tweeling besoek die Noord- Kaap se wêreldklas Steentydperk-uitgrawings en -rotskuns. Uit hierdie feitelike gegewe skep Martin 'n liriese, diep deurdagte mymering oor menswees in Afrika en in die algemeen. Dié poëtiese, sensitief waargenome boek herinner aan die werk van die Duitser W.G. Sebald met Martin se uiters meelewende, moderne perspektief op die skatte wat ons oorhou van ons oeroer-voormense. 'n Móét-leeservaring vir enigeen wat werklik bewus en met insig in Afrika wil leef.
- Hester Carstens

A Season of Leaves

A Season of Leaves, Catherine Law (Preface Publishing, R282)
Rose Pepper ontdek op haar oudag 'n bondel onoopgemaakte briewe wat haar minnaar
gedurende die Tweede Wêreldoorlog aan haar geskryf het . . . Die hartstogtelike, dramatiese liefdesverhaal van Rose en haar Tsjeggiese soldaat, Krystof, begin in die donker oorlogsjare in Engeland. Rose volg haar hart én Krystof na sy gevaarlike, oorloggeteisterde tuisstad, Praag. Maar haar verlede, en die koue, haatlike Engelsman met wie sy getrou het, haal haar in. 'n Pragtige, ontroerende verhaal van langverlore liefde. 'n Mens wil dié boeiende tranetrekker glad nie neersit nie.
- Lee-ann Steenkamp

Hollywood Crows

Hollywood Crows, Joseph Wambaugh(Quercus, R190)

Lesers wat hulle in Wambaugh se Hollywood Station verkneukel het, sal die opvolg net sogeniet. Nathan Weiss en Bix Rumstead, wetstoepassers in diens van die LAPD, beland in die kloue van Margot Aziz. Hulle is oortuig die wulpse Margot is net 'n skadelose donskoppie gewikkel in 'n nare egskeiding van Ali, haar skatryk wederhelf. Maar dié femme fatale draai hulle 'n rat voor die oë om met die perfekte moord weg te kom. Galgehumor en die brute realisme van misdaad broei onder een kombers in hierdie roman – die hansworstery van Wambaugh se eksentrieke karakters is verweef met geregsdienaars wat gekelder word
deur depressie en alkoholisme, aangewakker deur daaglikse konfrontasies met die mensdom se stertkant. Wambaugh was self tien jaar lank verbonde aan die LAPD.
- Emsie Viljoen