Ons verwyl ook tyd op die stoep van Antony Osler op sy plaas in die Karoo. Net die regte manier om jou tyd te verwyl, boek in die hand!

Ons eie boek!

SARIE-40 Flitsverhale verskyn net betyds vir SARIE se verjaardag!
Dis 'n heerlike versameling van ons beste flitsverhale die laaste jare, met gevestigde skrywers soos Helene de Kock, Jeanne Goosen, Rachelle Greef, Koos Kombuis, Nataniël, Pat Stamatélos en Marita van der Vyver.

En nie gedink akteurs kan skryf nie? Daar's ook verhale van Anna- Mart van der Merwe, Henriëtta Gryffenberg en Neels van Jaarsveld. Asook Riette Rust en Chris Botha, wat vir SARIE werk!

Dit sal jou laat dink, glimlag en ontspan.
Die boek is saamgestel deur André le Roux (Human & Rousseau, R165).

STERBOEK
Stoep Zen, Antony Osler (Jacana, R179)
So sit hy op sy stoep en kyk op sy Zen-manier na die Karoo wat uitgestrek voor hom lê. Hy meet die seisoene af aan die veranderende kleur van die veld. En dan filosofeer hy oor dit wat hy sien én dit wat hy nie sien nie.
Osler se boek is een van daardie wat onmiddellik 'n kalmte oor jou bring wanneer jy daardeur blaai. Sy mymeringe oor die lewe help 'n mens om weer te fokus op die eenvoudige (maar baie belangrike) dinge. 'n Voëltjie wat met sy kruppel voetjie op die stoepmuurtjie kom sit, kinders wat in die stof dans, die son wat deur die bome se blarekroon skyn. Die swart-en-wit foto's wat deur die teks vleg, help om dit 'n besonderse boek te maak. - Phyllis Green
Stoep Zen Stoep Zen
RESENSIES
 
&aposn Vurk in die pad 'n Vurk in die pad: 'n memoir, André P. Brink (Human & Rousseau, R310)
In hierdie epiese ode aan sy vrou, Karina, gee Brink 'n intieme kykie op die sensitiewe mens agter sy stringe romans, dramas en vertalings. Tipies-keurige taal maak dié memoir baie leesbaar en interessant. Soos hy in die epiloog skryf, getuig dit van sy dankbaarheid teenoor verskeie mense wat sy lewe geraak het. Wat veral opval, is die humoristiese anekdote oor Nico Hagen se besoek in Parys, met 'n traan vertel. Brink vertel ook hoe Picasso hom laat "sien" het dat skryfwerk primêr oor die skrywer se "intieme verhouding met die engel van taal" moet gaan, en nie soseer oor idees nie.
Die boek het diepgaande kultuurhistoriese waarde: die kruisbestuiwing van
musiek, kuns en medeskrywers, vars detail oor die studente-opstande in
Parys, en onthulling van politieke laagtepunte uit ons verlede.
- Mariette Postma
Norrevok  Norrevøk, C. Johan Bakkes (Human & Rousseau, R140)
In Bakkes se derde reisverhaalbundel kry lesers nogmaals die geleentheid om al drinkende en swetsende saam met dié baardman en sy pyp die wêreld in te neuk. Wanneer huis en haard vir hom te veel raak, pluk hy sy stoute skoene aan en spring saam met 'n paar makkers op 'n vliegtuig, trein, boot of viertrek die vreemde in (hierdie keer vanaf die Paarl na Moskou, dwarsoor Siberië en anderkant China uit).
Êrens jeuk die man, en dan begin hy krap: Sy kleurryke vertelling is deurspek met humor. Tog word dit plek-plek deur diepe oorpeinsing en filosofiese uitlatings getemper. Vlak voor die einde van Bakkes se staaltjies verval hy
in nostalgie en haal Baudelaire aan: "The real travellers are those who leave for the sake of leaving."
- Emsie Viljoen
T&apossats van die Kalahari  T'sats van die Kalahari, Willem D. Kotzé (Protea Boekhuis, R120)
Diep in die Kalahari kom 'n jaggeselskap op 'n verhongerde Boesmanseuntjie af. Oom Kolie neem die optelkind saam terug plaas toe, waar dit T'sats se werk word om lammerooie op te pas. Maar T'sats bly hunker na sy stam en as jongman koers hy eendag diep die Kalahari in waar hy in dié ongenadige
landskap vir oorlewing op sy oer-instinkte moet staatmaak. Ná vele avonture ontrafel hy die raaisel van sy herkoms, herenig hom met sy mense en word nie net 'n legendariese jagter nie, maar ook die aanvoerder van 'n gedugte Boesmanbende. Volgens die skrywer was T'sats 'n Boesmanseun saam met wie hy as kind by Oom Kolie, sy pa se broer, skaap opgepas het langs die Nossobrivier in die Kalahari. Die res van die vertelling is egter fiksie.
- E.V.
Simfonie vir begenadigdes

Simfonie vir begenadigdes, Cules Hammann (Biblaridion, R115, posgeld ingesluit)
In dié boek leer ons verskeie randfigure in die samelewing van naderby ken. Dit vertel van William se stryd om aanvaarding as gay Christen, asook van sy stryd met God oor hoe moeilik die situasie vir hom is. Stereotipering van verskeie karakters help met die uitbeelding van onbegrip en gepaardgaande nieaanvaarding deur 'n groot deel van die samelewing.

Die debat oor homoseksualiteit en Christenskap word op verskillende vlakke gevoer en sal beslis 'n positiewe bydrae lewer tot beter insig en begrip.
Bestel by 072 223 4563.
- Gert Venter

Op &aposn hoë noot

Op 'n hoë noot, P.H. Nortje (Tafelberg, R165)
P.H. Nortje is 88 en die 30 sketse in dié bundel gee 'n beeld van sy skryfwerk oor 40 jaar. Dit vertel van sy kinderjare in die Baviaanskloof en sy wedervaringe as gesinsman en afgetredene op Wellington.

Nortje is 'n knap verteller en sy humoristiese en positiewe lewensuitkyk maak van die alledaagse 'n opwindende avontuur. Die stukke is deur Danie Botha gekies en maak jou lus om die oorspronklike boeke te gaan soek om al die stories te kan lees.
- G.V

The Natural Disorder of Things  The Natural Disorder of Things, Andrea Canobbio (Quercus, R174,95)
Claudio Fratta, 'n bekende tuin-ontwerper, wroeg oor die dood van sy vader, wat gebroke gesterf het nadat hy sy sakeonderneming deur slegte vennote verloor het. Claudio sweer wraak, maar ken net een van die sakemanne. Hy agtervolg hom en sien hoe hy in 'n tref-en-trapongeluk sterf. Maande later vra Elisabetta Renal vir Claudio om haar tuin uit te lê. Hy herken haar as die bestuurder van die motor. Wraak word vir hom 'n obsessie, maar dan raak hy verlief op Elisabetta . . .
'n Spannende moordverhaal met 'n sterk romantiese lyn.
- Karien Labuschagne
The Story of Maha  The story of Maha, Sumayya Lee (Kwela Books, R140)
Vandat Maha Jacobs agt jaar oud is, bly sy by haar oupa en ouma in "Slumurbia", Durban. Hier leer sy die streng reëls van 'n Moslemleefwyse.
Dit keer haar nie om te eksperimenteer met die dinge van 'n moderne tiener nie. Sy is besonder lief vir lees en hoop om eendag verder te studeer. Soos haar 20ste verjaardag nader kom, word daar egter net op een ding gefokus - 'n geskikte man. Die dilemma van 'n jong, moderne Moslemvrou, vasgevang in 'n samelewing waar dit belangriker is om die perfekte roti te maak as om eie geluk te vind, word sensitief beskryf.
- Lounette Fourie
The Heretic Queen  The Heretic Queen, Michelle Moran (Quercus, R194,95)
Nadat Nefertari se hele familie vermoor is, word sy alleen groot in die paleis van die nuwe farao. Die reputasie van haar berugte tante, Nefertiti, ketter-koningin van Egipte, vertroebel haar jong lewe. Sy raak verlief op die jong
farao Ramesses en trou met hom. Maar daar is verskeie struikelblokke wat verhinder dat sy as koningin gekroon word. Weer eens, soos in dié boek se voorganger, Nefertiti, skryf Moran 'n verhaal wat lekker lees - 'n moet as jy belangstel in Egiptiese geskiedenis.
- Chris Botha