French Essence, Vicki Archer (Penguin Australia, R380)

Vicki Archer is ’n Australiër wat vyftien jaar gelede in ’n liefdesverhouding betrokke geraak het, een wat haar hele lewe verander het. Dis ’n verhouding met Frankryk en spesifiek met Provence wat haar so betower het dat sy tien jaar gelede daarheen getrek het. Sy en haar gesin het ’n verweerde plaashuis, Mas de Bérard in Saint-Rémy-de Provence, gekoop en dis nou haar lewenstaak om die eiendom liefderyk op te bou en te restoureer. Die boek gaan oor dié proses en vertel van die huis met sy tuin en olyfboord en hoe sy probeer om die Franse flair vas te vang in haar tuiste. Haar liefde vir die plek en wat sy die “ambience” noem, is duidelik uit hoe sy skryf en ook dit wat sy wys – die verskillende fasette van haar omgewing en hoe elke seisoen anders, maar tog ook dieselfde is. Vicki maak my lus om onmiddellik ’n tas te pak en haar wêreld te gaan opsoek. - Phyllis Green

Dis koue kos, skat, Marita van der Vyver (Tafelberg, R185)
Clara (“soos in lig”) Brand (“soos in vlamme wat alles wegbrand”) sien ’n ooreenkoms tussen tienerjare en ’n egskeiding – die vordering van onverantwoordelike afhanklikheid na verantwoordelike onafhanklikheid. Lesers kry ’n diepsinnige kyk in die gemoed van ’n verlate en verkulde vrou. Clara kan net die “gif” in vergifnis sien, erken dat leedvermaak “liederlik” is, maar skaam haar geensins daaroor nie, want sy is bevry van die strewe na ordentlikheid. Die roman is uit Clara se oogpunt geskryf, in die vorm van verskillende soorte korrespondensie.
Clara skryf postmodernisties aan Marita van der Vyver en Griet Swart. Voorbeelde van galgehumor is volop, die taalgebruik is eerlik, en weerspieël die intensiteit van haar pyn. Hanteer versigtig – dié een is nie vir sissies nie! - Mariette Postma

Landskap met diere, Welma Odendaal (Human & Rousseau, R145)
Dis Odendaal se vierde bundel kortverhale en bes moontlik ook haar beste.

Nes haar voriges is die algehele indruk een van gestrooptheid: Die karakters, die ruimtes en die vlugtige indrukke in elke kortverhaal is “gestroop tot ’n dun membraan”. Soos die title aandui, maak diere hul verskyning om die emosionele landskap se orde te versteur – ’n likkewaan skuil onder ’n dogter se bed en bosvarke versteur mensgemaakte grense. In “Mooinooi” lig ’n kind haar hand en maak dit oop en toe, “soos ’n klein hondjie wat aanmekaar hap”.

Die bundel is voorwaar stemmingsvol en takel elke menslike emosie – van eensaamheid tot verdriet en gewelddadigheid. Die verhale is vol suggestie en dikwels is dit die dinge wat nié gesê word nie, wat die hardste praat. - Lee-Ann Steenkamp

Die rebellie van Sloet Steenkamp,  Paul C. Venter (Lapa Uitgewers, R140)
As jy die gewilde TV-reeks Arende geniet het en van avontuur met baie skop hou, is Sloet se rebellie vir jou. Venter se storielyn, taalgebruik en skryfstyl hou enduit die aandag. Arende-karakters wat op St. Helena ’n indruk gemaak het, soos die peinsende Christen PJ Buys en die Engelsman James Kerwin, is ook deel van die verhaalgebeure in Duitswes van 1914.

Alles begin met ’n soektog in ’n Doppeldecker-vliegtuig na verlore vee in die omgewing van die Visrivier. Sloet is die passasier en die vlieënier is Hildegard Fick, ’n uitstekende skut. Nadat hulle in die woestyn neergeskiet word, begin die poppe dans. Die verskillende intriges verg kophou, want daar’s baie karakters. Die spanning loop heeltyd hoog – tot die finale doodskoot ... -Alida Vos

Resident Alien, Rian Malan (Jonathan Ball Publishers, R185)
As ’n mens ondersoekende joernalistiek definieer as die vreeslose uitsnuffel van die waarheid, onderhoudend neergepen, dan is hierdie ’n briljante voorbeeld daarvan.

Dis ’n versameling van 27 artikels en essays, wat in verskeie internasionale koerante en  tydskrifte van 1993 tot 2008 gepubliseer is. Malan sien kans vir enige heilige koei,  van politiek en liefde tot MIV/vigs en kultuur, en die “Nuwe Suid-Afrika” met al sy teenstrydighede van hoop en wanhoop bied hom oorgenoeg stof tot nadenke.  Uiteindelik trek hy ’n vergelyking tussen Suid-Afrika en die tuimelende Romeinse Ryk.

Wees gereed om tot in jou mees patriotiese wortels geskud, ontstel én gesus te word. - Ilse van Staden

Far North, Marcel Theroux (Faber & Faber, R194,95)
“We live in a broken world.” Só begin die ek-verteller, Makepeace, haar relaas oor ’n postapokaliptiese wêreld. Aardverwarming het die mensdom gedruk tot op die rand van blote bestaan en Makepeace woon eensaam in die noorde van Siberië. As sy begin vermoed dat daar dalk ander oorlewendes is wat iewers ’n “beter” lewe lei, lok dit haar om die onbekende aan te durf. Hierdie tog begin ’n persoonlike baan van lyding wat tot ’n baie dieper begrip van die menslike toestand lei.

Die boek is ’n moderne Western in die styl van Cormac McCarthy – Makepeace is wel ’n vrou, maar sy’s ook ’n hardekwas cowboy in ’n ongenaakbare wêreld. Dis ’n ontstellende verhaal wat jou tot nadenke stem. - Julia Boltt

Refuge, Andrew Brown (Zebra Press, R189,95)
Wanneer ’n fiktiewe verhaal aan alles raak wat sleg is in die gemeenskap en dit gebeur boonop in jou eie agterplaas, slaan dit baie harder en is dit soveel boeiender.
Die intrige draai om ’n welgestelde, effe wêreldmoeë regsgeleerde, sy korrupte Russiese kliënt en ’n pragtige Nigeriese masseuse en haar man (politieke uitgewekenes). Die verhaal speel af in Kaapstad en raak aan rassisme, xenofobie en die duister kant van Suid-Afrikaanse vrese. Van die begin af word jy meegesleur deur die geloofwaardigheid van die afwaartse spiraal waarin die regsgeleerde vasgevang word.

Dis ’n noodsaaklike, kragtig geskrewe boek, wat jy nie kan neersit nie. Glo my, as jy van gelukkige eindes hou, is dié een nie vir jou nie! - Deirdre Holzer

"Die afgelope drie of vier jaar het soveel goed gebeur. Dit was asof ek besig is om ’n brander te ry en dan breek die volgende een al. Ek kon nie terugsit en contemplate nie. Die boek was terapeuties, soos een lang sielkundige sessie. Ek was so moeg ná die boek. Dit was moeilik om uit te gaan, maar terselfdertyd was ek op ’n high.”
Deon Maas oor die skryf van sy boek, Witboy in Afrika (Tafelberg, R180)