Angaza Afrika

Sterboek


Angaza Afrika: African Art Now
,Chris Spring (Francolin, R642,52)

Spring is 'n kunstenaar en kurator van die Sainsbury-Afrika-galerye van die Britse Museum in Londen. Sy passie is Afrika-kuns en dié boek verteenwoordig sy persoonlike keuse van 60 hedendaagse Afrikakunstenaars. Dit sluit skilders, beeldhouers, pottebakkers, fotograwe en installasie-kunstenaars in. Hy bespreek die kunswerke op 'n interpreterende manier en wil dit meer toeganklik maak om te wys hoe divers die hedendaagse kuns van ons kontinent is. Van die SA kunstenaars in die boek is William Kentridge, Sandile Zulu, Willie Bester en Karel Nel. 'n Goeie visuele bekendstelling aan die ernstige kuns van Afrika. - Phyllis Green

                                                       RESENSIES                            


Franse Briewe

Franse briewe: Pos uit Provence, Marita van der Vyver (Tafelberg, R154)
'n Versameling rubrieke wat die afgelope 5 jaar in onder meer SARIE gepubliseer is. Vanuit haar kliphuis in Provence skryf Marita met humor oor haar dikwels onidilliese lewe op die idilliese Franse platteland. Die leser word ingetrek in die lewe van die skrywer, haar Franse man, Alain, en hul 4 kinders. Veral werkende ma's sal hierby aanklank vind - Marita vertel hoe sy haar rolle as taxi-bestuurder, verpleegster, huishoudster, skrywer en ma gelyktydig probeer vertolk. Sy skryf met savoir-faire oor vreemde kos, rare weerpatrone, onbetroubare openbare vervoer en sonde met die bure. Kleurryke karakters en die sprinkeling Franse woorde maak dat jy dit sommer weer wil lees. - Lee-ann du Plessis


Willemien Brümmer

Die dag toe ek my hare losgemaak het, Willemien Brümmer (Human & Rousseau, R143)

In 12 kortverhale vertel Brümmer met ragfyn aanvoeling van Mia Ragel Albertyn se grootword- en mensword-jare. Die broosheid van menseverhoudingsis deurgaans die onderliggende tema. Komplekse verhoudings word met 'n minimum omhaal van woorde vlymskerp weergegee. Mia is fynbesnaard. Haar byna magtelose stryd om te probeer sin maak van die alledaagse geveg om emosionele oorlewing in 'n harde en, by tye, selfs bedreigende buitewêreld word uitstekend uitgebeeld. - Gert Venter


Die Hemelbodes

Die hemelbodes, Jaco Thom (Christelike Uitgewersmaatskappy, R96,95)
Die engele is aan die woord (Boek Een). Deur húl oë kry ons nuwe insig in die reeds bekende Bybelverhale. Ons kyk in verwondering saam hoe God die mens skep. Lucifer, die mooiste engel, raak jaloers en onenigheid heers in die hemel. God se geduld met die sondige mens verstom Gabriel en Migael, maar op Sy bevel tree hulle op die regte tyd in om sterflinge te help. Op aarde wil Lucifer 'n gemeente in twee skeur (Boek Twee). Dié roman oor engele in diens van God endie mens, van die skepping tot die wederkoms, is ideaal vir klein en groot. - Mercy Morkel


Silence

Silence, Thomas Perry(Quercus, R174,95)
Jack Till, 'n afgetrede polisieman en nou private speurder, het 6 jaar gelede vir Wendy Harper gehelp om te verdwyn ná iemand haar probeer vermoor het. Toe sy nie weer te voorskyn kom nie, het almal aanvaar sy is vermoor. Nou word haar vorige minnaar en besigheidsvennoot aangekla van haar moord. Al manier om sy onskuld te bewys, is vir Till om Wendy te vind - dít terwyl iemand haar nou wél wil vermoor. Dié riller sal jy nie kan neersit nie. Perry skep fassinerende karakters met intense verhoudings en handhaaf die spanning enduit. - Nerisa Coetzee

Six Suspects

Six suspects, Vikas Swarup (Random House Doubleday, R186)
Vicky Rai, 'n minister se seun, word vrygespreek van die moord op die kroegmeisie Ruby Gill. Sy is in 'n besope woedebui koelbloedig doodgeskiet omdat sy Vicky nie ná toemaaktyd wou bedien nie. Op sy beurt word Vicky doodgeskiet op 'n partytjie wat bedoel is om sy kwytskelding te vier. Ses verdagtes word oor dié moord ondervra. Ontrafel saam met die joernalis Arum Advani die beskuldigdes se lewens en dryfvere, asook die uiteinde van die moordsaak. Die intriges en menslikheid boei. - Karien Labuschagne


After River

After River, Donna Milner (Quercus, R128)
Dis die 60's en die 16-jarige Natalie Ward en haar gesin woon op 'n Kanadese melkplaas. Dié idilliese bestaan word versteur met die koms van 'n saggeaarde vreemdeling. Die boek spring heen en weer tussen dié verteltyd en 'n middeljarige Natalie wat haar verlede moet konfronteer: die mooie én die traumatiese. Die skokkende gebeure in Natalie se tienerjare word soos 'n wortel voor die leser se neus gehou. Wanneer dit onthul word, bevredig dit egter nie as motivering vir haar jarelange selfopgelegde ballingskap nie. - Lydia van der Merwe


Chasing the Dream

Ryk Neethling: Chasing the Dream, Clinton van der Berg (Zebra Press, R154)
Swem is 'n eensame sport en 'n swemmer moet toegewyd en sterk gefokus wees om sukses te behaal. Ryk se verhaal lig dié eienskappe in hom uit. Dit vertel van die opofferings wat hy en sy familie gemaak het sodat hy sy droom kon najaag. Dis merkwaardig dat hy Suid-Afrika al op 4 Olimpiese byeenkomste verteenwoordig het! In die proses het hy vriende gemaak, maar ook vyande. Dis 'n oop, eerlike verhaal oor sy loopbaan, die gebreke in die strukture van swem in SA en hoe Ryk die pad vorentoe sien. - P.G.

Fixing Climate, Hot Topic

Fixing Climate: The Story of Climate Science - and How to Stop Global Warming, Robert Kunzig en Wallace Broecker (Profile Books, R214)

'n Fassinerende boek oor die ontwikkeling van klimaatstudie. Onder meer die veranderinge in klimaat, droogtes en vloede word ondersoek, en maniere om koolstofvlakke in die atmosfeer te verlaag word bespreek. Broecker is 'n vooraanstaande wetenskaplike wat reeds in 1975 sy kommer uitgespreek het oor aardverwarming en die kweekhuiseffek. Nié 'n boek vol droë feite nie - dit vertel ook die storie van wetenskaplikes: van hul intense studies, hoe hulle mekaar beïnvloed en hoe hulle saamwerk om oplossings te soek vir dié globale kwessie.

The Hot Topic: How to Tackle Global Warming and Still Keep the Lights On, Gabrielle Walker en sir David King (Bloomsbury, R194,95)
Aardverwarming is 'n werklikheid en 'n kwessie waarvan die mensdom sin móét maak. Met die massa inligting oor die onderwerp is dit moeilik vir gewone mense om al die aspekte van aardverwarming goed te verstaan en te weet wat die man in die straat kan doen om dit te help verhinder. Dié boek is 'n toeganklike opsomming in eenvoudige taal en verskaf haalbare oplossings vir Jan en alleman. - Karien Labuschagne

Bekendstellings

Binding met jou boepie, Dr Miriam stoppard (Malan Media, R199 plus R35 posgeld)

Nuttig vir vroue wat hul eersteling verwag. Al die emosionele aspekte van swangerskap en binding met jou baba word bespreek: die verloop van swangerskap, geboorte, verskillende geboorte-opsies, swangerskapverlof vir julle albei, ens. Suid-Afrikaanse inligting is oral bygewerk waar dit relevant is. Bestel by www.malanmedia.co.za, stuur e-pos aan orders@malanmedia.co.za of skakel 082 602 7733.

Flux Trend Review

The 2009 Flux Trend Review ,Dion Chang (Pan Macmillan, R175)     

'n Insiggewende oorsig van al die tendense wat ons lewe in die 21ste eeu raak: in die politiek, ekonomie, verbruikersvoorkeure, jeugkultuur, ouerskap, opvoeding, ontwerp en dekor en nog 'n hele rits ander onderwerpe. Elke afdeling is deur kundiges op dié spesifieke vakgebied geskryf.