oorblyfsel/voice over, Breyten Breytenbach (Human & Rousseau, R150)
Breyten Breytenbach tree in gesprek met Magmoed Darwiesj, 'n briljante Arabiese digter en vriend. Breyten vervleg Darwiesj se poësie met sy eie stem.
Die digter is letterlik op reis, maar swerf ook deur Darwiesj se poësie én siel. Verganklikheid, identiteit, uitdagings rondom volk-wees en die digproses word ondersoek.
Afrikaans tree ook in gesprek met Engels. Die gedigte word op die teenoorstaande bladsye vertaal, nie direk nie. Die vertalings is egter nie van so 'n hoë gehalte soos die Afrikaans nie.
Só klink Breyten se moedertaal: ". . . want
so word woorde gebou/
wanneer jy die hart/afrig
om blomme en dorings
te omvou . . ."
Daar is net een Breyten Breytenbach. Kom proe sy taal. - Riette Rust

Sterboek

Pot Plant Owl Pot Plant Owl

Pot Plant Owl, Allan en Tracy Eccles (Phoenix Design, R340 + R30 posgeld)

Wat 'n verrassende boek! Tracy Eccles hou dagboek namens 'n uil wat haar kuikens in 'n potplant by hul huis in voorstedelike Johannesburg uitbroei. Die egpaar het die uil-paar dopgehou van 21 Augustus 2009 - die dag waarop die twee broeis voëls besluit het die potplant op die Eccles se balkon is die ideale broeiplek - tot 18 November 2009, toe die kuikens die nes verlaat het. Die Eccles het hul slaapkamer in 'n voëlkyk-skerm verander en uit die veiligheid van die vertrek het Allan pragfoto's van die uile en kuikens geneem. Die uile moes nie gewoond raak aan mense nie en die Eccles moes ook hulself beskerm - die uile het 'n paar keer op hulle afgepyl as hulle dit naby die balkon waag.
Tracy het dagboek gehou en alle waarnemings aangeteken. Die ma-uil het húlle ook dopgehou en hulle moes versigtig uitsluip om die potplant water te gee sodat die uile se skaduwee-boompie aan die lewe kon bly. Op www.potplantowl.co.za is 'n lys winkels waar die boek beskikbaar is. Dit kan ook aanlyn bestel word. En o ja, die broeipaar is terug en die gesin kan met vreugde uitsien na nóg uilskuikens! - Phyllis Green

Pot Plant Owl
 

Resensies

 
Skrywersblok

Skrywersblok en ander verhale, Jaco Fouché (Protea Boekhuis, R150)
Helaas voeg dié skrywe niks besonders tot Fouché se oeuvre by nie.
Die beste manier om hierdie bundel kortverhale op te som is om die skrywer aan te haal uit 'n onderhoud wat in Julie 2009 op LitNet verskyn het: "Dit maak my raadop om te lees hoe ander skrywers meen skrywersblok bestaan nie, of dat jy net gaan sit en jouself daardeur werk. Ek sit my
rekenaar soggens aan en my maag draai, want ek sien dag na dag dat ek niks het om te sê wat ek nie al klaar gesê het nie. Dit sal weer beter gaan, ek weet."
Getroue lesers hou saam met hom duim vas; sekerlik skuil daar meer in sy ervare pen as net raak beskrywings van agterlike karakters en hul voorstedelike lewens, tot oorlopens gevul met teëspoed en verleentheid.
       - Emsie Viljoen
Die ander vennoot

 
Die ander vennoot, P.J. Haasbroek (Human & Rousseau, R195)
Haasbroek vertel van Herklaas Pretorius en sy sakevennoot, John Heckrodt, se oorlewing in 'n ongenaakbare sakewêreld. Hulle is jagters en boere en die verhaal begin by 'n beesplaas in die ou Suidwes.

Politieke omwentelinge dwing die twee ná 1994 om na Suid-Afrika uit te wyk. Hier het hulle, deur harde werk en entrepreneurskap, grootskaalse sukses in 'n snelveranderende
ekonomiese klimaat.
Haasbroek se agtergrondkennis van ekonomie, gekoppel met sy uitstekende talent om lewensgetroue en unieke karakters te skep, maak die boek uiters realisties en boeiend.

  -Gert Venter

Vreeslose Drienie

 Vreeslose Drienie: Die lewe van Hendrina Joubert, Celestine Pretorius (Protea, R225)
Die verhaal van Drienie Joubert, vrou van generaal Piet Joubert, word vertel met woorde, sketse en foto's. Met die eerste oogopslag lyk dit uit die foto's asof sy stug, nors en hooghartig was, maar eintlik was sy baie liefdevol en saggeaard.
Sy is op 27 September 1830 gebore, het die Groot Trek beleef en is in 1916 oorlede. Sy het haar man op oorsese besoeke vergesel en was aan sy sy deur menige veldslae. Tydens die Anglo-Boereoorlog het sy haar ontferm
oor vroue en kinders in konsentrasiekampe. In 1915 het sy die optog na die Uniegebou gelei om 'n petisie vir die versagting van die rebelle se vonnis te oorhandig.
'n Merkwaardige vrou wat haar plek in die geskiedskrywing van Suid-Afrika verdien.

  - Karien Labuschagne

The good plain cook

 The Good Plain Cook, Bethan Roberts (Faber and Faber, R189,95)
Losweg gegrond op die lewe van Peggy Guggenheim, haar minnaar, Douglas
Garman, en hul dogters. Die storie word vertel deur Kitty Allen, die goeie, gewone kok, wat deur die eksentrieke Ellen Steinberg in diens geneem word. Ellen se dogter, Geenie, self vreemd, is elf en smag na moedersorg. Ellen se mansvriend, George Crane, woon by hulle in Ellen se herehuis in Sussex, en laat mettertyd vir Kitty swymel. George se dogter, Diana, kom woon van tyd tot tyd ook daar, wat uiteindelik tot moeilikheid lei. Ellen tik die liefde van haar lewe, 'n vorige minnaar, James, se briewe oor om haar skuldgevoelens oor sy
dood te paai . . .
'n Buitengewone groep mense en 'n vreemde verhaal wat meesleurend vertel
word. Vir lesers sonder vooroordele.

  -Mariette Postma


 Thanks for the Memories, Cecelia Ahern (HarperCollins, R214,95)
Joyce Conway verlaat 'n hospital in Dublin, Ierland, ná 'n hartverskeurende
ongeluk. Haar hart en huwelik is aan flarde en sy trek terug na haar bejaarde pa se huis om die stukke weer op te tel. Sy onthou dinge wat sy nie behoort te weet nie, ervaar déjà vu oor plekke en herinneringe waaraan sy geen aandeel gehad het nie.
Justin Hitchcock is 'n Amerikaanse professor in argitektuur en kuns en gee 'n paar lesings in Dublin. Hy is onlangs geskei, eensaam en rusteloos - totdat 'n verleidelike dokter hom oorreed om bloed te skenk . . .
'n Heerlike, ligte romanse. Die kleurryke karakters en humor sorg vir die ideale romantiese komedie. Die enigste swak punt is die voorspelbare einde.
  -Lee-Ann Steenkamp
Gone Tomorrow

 
Gone Tomorrow, Lee Child (Bantam Press, R215)
Dis twee-uur in die oggend. Op die ondergrondse treinstelsel van New York bestudeer Jack Reacher, afgetrede majoor in die militêre polisie, sy vyf
mede-passasiers. Die vyfde passasier laat lui waarskuwingklokkies in sy kop.

Punt vir punt gaan hy deur "Die lys". Dié lys, wat meer as twintig jaar tevore opgestel is, bestaan uit 12 punte om selfmoordbomaanvallers uit te ken.
Elkeen van die blokkies op die lys word in Jack se verbeelding met 'n rooi pen afgemerk. Wat gaan hy doen? Gaan lewens gespaar of geneem word - syne inkluis?

'n Verrassende spanningsverhaal vol intrige.

   -Karien Labuschagne

The Red Book

The Red Book, Meaghan Delahunt (Granta, R219,95)
Françoise is 'n Australiese fotograaf; Naga, 'n vlugteling uit Tibet; en Arkay, 'n Skot wat hom tot Boeddhisme wend in sy stryd teen alkoholisme. Dis 'n meewarige en aangrypende verhaal van dié drie vreemdelinge wat mekaar in Indië ontmoet, van lewens wat inmekaar vleg en dan weer uitmekaar skeur.

Met 'n lewendige verbeelding vang Delahunt die hart van die land vas - die intensiteit van kleur, menslike verhoudings en komplekse geestelike en politieke geskiedenis. Françoise se foto's vertel stories van liefde, stryd en transformasie. Treffend en meer as net 'n verhaal.

  - Chris Botha