STERBOEK

Highlights & Footlights - Bob Martin

Highlights and Footlights: A Tribute to South African Stage and Screen, Bob Martin (Double Storey Books, R299)
’n Fantastiese fotografiese memoir van Martin se meer as 40 jaar as fotograaf in die SA teater- en filmbedryf. Ná sy aftrede is sy gunsteling-foto’s in ’n boks in sy motorhuis gehou. Hy het dit terloops aan sy dogter, Lyn Scmerczak, genoem. Sy wou onmiddellik daarna kyk en toe vertel Martin die staaltjies rondom elke foto. Lyn het besef dis stof vir ’n boek. ’n Beeldskone jong Annelisa Weiland en Elize Cawood, ’n teatrale Brümilda van Rensburg, die 53-jarige Margot Fonteyn in die rol van ’n 16-jarige - dis maar enkele hoogtepunte, met Martin se persoonlike vertellings oor almal voor sy lens. Phyllis Green

RESENSIES

Meulenhof se mense - Linda Joubert

Meulenhof se mense, Linda Joubert (Human & Rousseau, R125)
Hierdie klassieke briefroman, nou heruitgegee, het in 1956, onder die Hertzogpryswenner Henriette Grové se skuilnaam vir haar ligter werk, as vervolgverhaal in die destydse Sarie Marais verskyn. Dis in 1961 in boekvorm uitgegee. Hoe merkwaardig dat die verhaal steeds boei! En wat ’n vreugde om van ’n era sonder moderne tegnologie (1904) te lees, jy kan die stilte hóór. Drie susters, op die rand van oujongnooi-wees, woon saam in Meulenhof, ’n Kaaps-Hollandse opstal uit ’n meer welvarende tyd. Hul loseerder, juffrou Annemarie Herbst, vertel die verhaal in die vorm van briewe aan haar kêrel, Jan. Die susters se voormalige geliefdes en hul geldtekort skep deurentyd spanning terwyl Sarah, die oudste, die spulletjie probeer beheer. Op die agtergrond huiwer ’n trourok . . . Die verhaal is ouwêrelds, behoudend en sjarmant. Riette Rust

Manne wat bemoedig - Francine Rivers

Manne wat bemoedig, Francine Rivers (CUM, R169,95)
In hierdie boek word die verhale van vyf bekende Bybelse figure opverbeeldingryke wyse oorvertel, soos gesien deur die oë van diegene wat ná aan hulle geleef het. So word die verhaal van Moses uit die oogpunt van sy ouer broer, Aäron, vertel en Josua s’n uit dié van sy krygervriend, Kaleb. Gevolglik kry die ou verhale nuwe lewe en gee jou ’n idee hoe die sosiale omstandighede in die Bybelse tyd kon geweet het. Die boek lyk aanvanklik lywig, maar moet eerder as vyf afsonderlike, kleiner boeke benader word. Die verhale is boeiend, baie toeganklik en vol opwinding en is ewe goeie leesstof vir mans en vroue. Anrich Herbst

My kant van die saak - Jaco Kirsten

Mý kant van die saak, Jaco Kirsten (Tafelberg, R133)
Dié bundel bevat 68 van Kirsten se sketse wat in die rubriek “Van alle kante” in Die Burger verskyn het. Party is heerlik nostalgies en ander gee ’n onnutsige stekie na onbekwame politici en ander krapperige dinge in die samelewing. Dit word met ’n eiesoortige en soms aweregse humor aangebied. Van die sketse het duidelik aangesluit by die nuusgebeure van die dag - dis daarom ’n jammerte dat hulle nie datums by het nie. Gert Venter

Double Cross - Tracy Gilpin

Double Cross, Tracy Gilpin (Black Star Crime, R69,95)
Menseregte-aktivis Siobhan Craig is vermoor en haar werknemer en protégé, Dunai Marks, kom op haar lyk af. Die polisie vermoed Craig is tydens ’n mislukte inbraak vermoor. Dunai glo egter dit was ’n doelbewuste moord en stel self ondersoek in. Wat sy uitvind, skok en verbaas haar. Siobhan het baie geheime gehad, onder meer afpersery en lidmaatskap van ’n geheime organisasie. ’n Aksiebelaaide speurverhaal vol verrassings. Karien Labuschagne

The Enchantress of Florence - Salman Rushdie

The Enchantress of Florence, Salman Rushdie (Random House, R212)
Liefhebbers van magiese realisme en feeverhale kan gerus dié boek nader trek. Rushdie se intellektuele “silwertong” het my weereens betower; so ook sy filosofiese insigte en poëtiese skryfstyl. Die historiese vertelling het my egter intens verveel. Daar is baie stories: oor beeldskone vroue; oor godsdiensonverdraagsaamheid, die brutaliteit van mag en die verganklikheid van die liefde; oor die eendersheid van die Ooste en die Weste, en die eendersheid van alle mense. Rushdie glo stories gee ons insig in ons menslikheid. Arè van Schalkwyk

Phyllis Green

Lullabies for Little Criminals, Heather O’Neill (Quercus, R159,95) Ná Baby se tienerma in ’n motorongeluk sterf, word sy grootgemaak deur haar pa, Jules, ’n heroïen-verslaafde. Hulle swerf van een blyplek na die ander in die rooiligdistrik van Montreal, totdat Jules siek word en Baby in pleegsorg geplaas word. Haar daaglikse omstandighede sal enige ander kind se ondergang wees, maar Baby benader alles met humor en wysheid. Sy besef sy alleen is verantwoordelik vir haar oorlewing. ’n Inspirerende verhaal gevul met rou emosie, humor en dapperheid. T de Klerk

My life with the Duvals - Tim Keegan

My Life with the Duvals, Tim Keegan (Umuzi, R165)
Rex Duval, ’n debonair Oxford-gegradueerde, land aan die Kaap in die 60’s. Hy word ’n universiteitsprofessor en sleep akademici en sosiale vlinders in sy warrelwindlewe saam. Edward, die verteller, kan net hulpeloos toekyk hoe sy beste vriend, Rex, sy eie graf grawe. Die verhaal word met tipiese droë Britse humor vertel en het ’n hele paar kinkels in die kabel. Ek het egter by tye net soveel gegaap as gelag. ’n Lekker Sondagmiddag-boek om die tyd te verdryf. Lee-ann du Plessis

BEKENDSTELLINGS

Langverlof - Annemari Coetser

Langverlof, Annemari Coetser (Tafelberg, R143)

Hoe gemaak met twee vryers? Kleindorpse bibliotekaresse Kari Beyers het dié dilemma. Sy vergesel die onbekende stedeling Hagen van Tonder vir ’n week na Mauritius. Sy meisie het hom soos ’n warm patat gelos op die nippertjie van hul eilandvakansie. Kari is die plaasvervanger, gevind op die internet. Die tweede man is die stil, stoere boer Gottfried Schmidt, Kari se vryer wat geen aanstaltes maak om tot trou te kom nie. ’n Lekker ligte liefdesverhaal met amusante draaie.

 Guinness World Records 2009

Guinness World Records 2009 (GWR, R250)

Die eerste uitgawe het 54 jaar gelede verskyn en met elke jaarlikse uitgawe verstom die nuwe, vreemde en unieke rekords steeds. Byvoorbeeld: Die TV-reeks Dallas dra die louere as die suksesvolste sepie ooit met ongeveer 83 miljoen kykers in die VSA alleen, en hartebreker Jacques Kallis is die krieketspeler met die meeste speler-van-die-wedstryd-toekennings (20) tussen 1995 en 2008.

Cricket’s Great All-rounders, Kersi Meher-Homji (New Holland Publishers, R194)

’n Omvattende boek oor al die veelsydige krieketspelers van nege lande. Die profiele sluit toets- en eendagspelers in. Suid-Afrika spog met nie minder nie as sewe spelers. Uit die verlede is daar Aubrey Faulkner, Trevor Goddard, John Waite, Lance Klusener en Shaun Pollock. Die huidige helde is Jacques Kallis en Mark Boucher. Interessante brokkies gee lewe aan die boek - soos dat Lance Klusener aan die begin van sy loopbaan regs geboul en links gekolf het.