Die tyd van die kombi's, Koos Kombuis (Human & Rousseau, R170)

In 'n neutedop: Koos en Kie. in hul kombi's op 'n toer wat Afrikaanse musiek vir ewig sou verander.Ten spyte van al die openbare moddergooiery, en Koos wat 'n paar skuins klappe saam met sy sinne uitdeel, lees hierdie een soos 'n lekker lang road trip. Daar's die usual suspects soos Kerkorrel, Dagga-Dirk, Bernoldus Niemand, KRUIK, die uitgewers en al Koos se vorige meisies (daar is letterlik 'n lys van hulle).

Eerlikwaar, ek laaik dié een. - Christine Nel

STERBOEK
Eye of the leopard
Eye of the Leopard, Beverly en Dereck Joubert (Rizzoli New York, R749)
Soms blaai 'n mens deur 'n boek en jy dink die foto's is pragtig. Maar eers as jy regtig daarna kyk en werklik sien hóé uitsonderlik hulle is, besef jy watter toewyding die saamstel van só 'n boek kos - ure en ure se geduld deur jare om die lewenspad van die luiperdwyfie Legadema te dokumenteer. Die Jouberts het in die veld gewoon met net die mees basiese geriewe en het elke dag reeds voor eerste lig die veld met hul kameras ingevaar agter Legadema aan. Dié projek is aangepak juis om noodsaaklike navorsing oor luiperds se oorlewingskanse te doen. Dereck vertel in die inleiding daar is tans net sowat 50 000 wilde luiperds in die natuur oor, van 'n geskatte bevolking van 700 000. Ek laat sak my kop in skaamte oor hoe die mensdom besig is om hierdie pragtige diere uit te wis. En ek is dankbaar vir mense soos die Jouberts wat 'n erfenis skep vir die nageslag met so 'n uitsonderlike boek.
- Phyllis Green
Eye of the leopard
RESENSIES
 
Die panorama in my truspieël

Die panorama in my truspieël, Daniel Hugo (Protea Boekhuis, R130)
As woordkunstenaar het Hugo geen bekendstelling nodig nie.

Duidelik beskik hy oor die gawe om sy waarnemings en beskouings ritmies, klankryk en beeldend weer te gee. Die trefkrag van dié hand vol verse lê juis daarin dat hy, met sy ingebore bewustheid van die estetiese, op sprekende wyse daarin slaag om sy gedagtes te verwoord sonder om in diepsinnige nadenke, ingewikkelde metafore, vreemde verwysings of hinderlike rymdwang te verval. In hierdie bundel lewer die digter kaalvuis kommentaar op herinneringe, hunkering, die liefde, die natuur en die digterlike werkwyse.
 -Emsie Viljoen

Versamelde Boesmanstories 1

 Versamelde Boesmanstories 1, saamgestel deur G.r.
von Wielligh (Protea Boekhuis, R161)

'n Mengsel van mitologie, legendes, dierestories en meer wat van 1870 tot 1883 deur Von Wielligh opgeteken is. Die stories is oorspronklik rondom 1919 gepubliseer en ontgin 'n skatkis van eg SA verhale deur meesters van die
vertelkuns, vir kinders én volwassenes genotlik.

Dit gee 'n kykie in die kultuur van die Boesman en voer jou weg na tye voordat die wêreld soos ons hom ken, geskape is. Die verhale kan meeding met die beste klassieke dierestories uit Europa.

Ek stem saam met Hennie Aucamp se pleidooi in die voorwoord dat dit in Engels vertaal word, sodat Von Wielligh se werk kan inskakel by 'n uitkringende diskoers oor die Boesman en sy kosmologie.
 - Gert Venter

SA Geweldenaars sonder genade  Suid-Afrikaanse geweldenaars sonder genade, Chris Karsten (Human & Rousseau, R145)
Die sesde boek in Karsten se "Ware misdaad"-reeks het tien verhale van wrede, gewelddadige moorde. Motorkapers wat selfs nie 'n eenjarige baba spaar nie - hoe sou sy hulle ooit kon eien? 'n Man word van moord en verkragting in Burundi aangekla. Terug in Suid- Afrika, terwyl hy wag vir sy saak om voor die hof te kom, skiet hy sy twee klein kindertjies dood en verwond sy vrou. 'n Sewentienjarige seun raak betrokke by satanisme en dwelms. Hy vermoor 'n pensioenaris omdat sy kwansuis in tale met hom gepraat het. Koue feite, sonder sensasie weergegee.
Ná die lees van die boek bly die vraag by die leser: Waarom? Waarom moord pleeg as die moordenaars net kon vat wat hulle wou hê?
 - Karien Labuschagne
Tribute  Tribute, Nora Roberts (Penguin GroupSA, R120)
Cilla McGowan koop haar ouma, 'n Hollywood-legende, se plattelandse eiendom en begin om die ou plaashuis op Little Farm te restoureer. Sy het groot planne om haarself in die klein gemeenskap te vestig. Dan vind sy briewe van 'n onbekende minnaar aan haar beroemde ouma en sy begin rondvra om vas te stel wie dit was.
Haar verhouding met haar nuwe, aantreklike buurman, Ford Sawyer, vorder geleidelik totdat haar vorige man, met wie sy baie goed bevriend is, kom kuier. Hy word wreed aangerand in die plaasskuur - en Ford is nié die skuldige nie. Dit lyk asof iemand wil keer dat Cilla haar ouma se geheime liefdeslewe ontrafel . . . Spanning bou geleidelik op.
Roberts-aanhangers sal hierdie blitsverkoper geniet.
 - Alida Vos
Late nights on air  Late Nights on Air, Elizabeth Hay (Quercus, R260)
Harry Boyd, 'n lewensmoeë radio omroeper, keer terug na die radiostasie in Yellowknife, Kanada, waar sy loopbaan jare gelede begin het. Die verhaal wentel om Harry (en verskeie ander karakters) se hunkering na Dido Paris -
'n verleidelike stem oor die laatnag-radio. Hierdie eksentrieke karakters vorm 'n onwaarskynlike groupie in die middel van nêrens.
Hulle reis per kano na die Arktiese wildernis waar die ongetemde prag van die toendra en die fragiele dinamika binne die vriendekring onderhoudend beskryf word. Die storielyn ontvou egter traag en die leser stuur op die verhaal se einde af sonder enige momentum. Die soort boek wat jy parallel saam met 'n ander een moet lees.
 - Lee-Ann Steenkamp
The solitude of prime numbers  The Solitude of Prime Numbers, Paolo Giordano (Doubleday, R173)
Alice en Mattia is albei alleen, toegespin in kleintydse trauma. Sy is mank ná 'n ski-ongeluk; hy 'n wiskunde-genie, maar patologies skaam.
Hy sny homself, sy het 'n eetversteuring. Mattia vergelyk hul vriendskap met priemgetalle soos 11, 13, 17, 41 en 43, wat net deur een en hulself gedeel kan word: Hulle is eensame mense wat ewig aan mekaar gekoppel maar tog
verwyderd is. Die boek was 'n wegholsukses vir die 27-jarige Italiaanse skrywer. Die sterkte lê in die krag waarmee die karakters geteken word, stoei en groei, eerder as in die storielyn. En dankie tog, geen voorspelbare einde nie.
 - Lydia van der Merwe
Daughter of the crocodile  
Daughter of the Crocodile, Duncan Sprott (Faber and Faber, R282)
Die storie van die Ptolemeërs - Griekse faraos in Egipte - vanaf Alexander die Grote tot die val van Cleopatra. Die glorie van hierdie familie het sy hoogtepunt bereik. Nou begin die bizarre afdraande na die onvermydelike ramp wat hulle gaan tref . . .
'n Verhaal van 'n wêreld van intrige, gode, moord, en bloedskande - die dekadensie van Egipte ken geen perke nie. Chaos heers in die land wat uiteindelik regeer word deur die 6-jarige Ptolemy V.
Nie maklike leesstof nie, maar tog baie interessant, veral omdat dit gegrond is op geskiedenis.
 - Chris Botha