Stolen deur Lesley Pearse het 'n boeiende intrige. Lotte word halfdood op 'n strand gevind met geheueverlies. Daar verskyn 'n artikel oor haar en 'n alarm lui in Dale se kop. Sy glo sy het Lotte al ontmoet. Met hul herontmoeting word 'n spul geheime ontbloot: Waar was Lotte al oral, wie probeer haar vermoor en waar is die baba waaraan sy onlangs geboorte gegee het? Daar's 'n klomp kinkels soos Dale en Lotte hul vriendskap weer opbou en die verlede ontrafel.

The wife&aposs tale Lori Lansens se The Wife's Tale is 'n stemmingsvolle boek oor 'n vrou se onsekerheid
oor haarself en haar huwelik. Mary Gooch wag haar man in op die aand van hul huweliksherdenking. Tevergeefs. Oorgewig Mary besluit op aksie en gaan op reis om haar man te vind. In die proses ontdek sy haarself.
A Million miles from normal  A Million Miles From Normal deur Paige Nick vertel van Rachel Marcus se afdanking. Sy emigreer na New York en probeer 'n nuwe lewe maak. Sy sukkel, maar op die laaste nippertjie ontmoet sy Jerrod Craig, wat haar help om haar lewe tog in orde te kry.
STERBOEK
 
Alf Kumalo Alf Kumalo:Through my Lens, Alf Kumalo (Tafelberg, R350)
Ek was gelukkig genoeg om in my koerantdae 'n paar keer op dieselfde tonele as die legendariese Alf Kumalo te werk. Ek kon altyd iets by die meester leer. Alf is een van die ikoniese kiekiemakers van Suid-Afrika en bekend vir sy passie vir fotografie. Hy's 'n ietwat eksentrieke karakter wat jy altyd deur 'n ring kan trek. 'n Mens sien hom nooit sonder sy kamera nie en bowendien het hy 'n slag met mense wat hom keer op keer binne bereik van 'n uitstekende foto bring. Hierdie boek is 'n pronkstuk met foto's wat Alf deur die jare geneem het - historiese oomblikke vasgevang vir die nageslag. Baie van die foto's het 'n spontaneïteit wat die emosie van 'n moment vasvang. Alf som sy lewenstaak die beste op: "I have won many awards, met amazing people, and never lost my passion for what I do best - take pictures."
Mag Alf se kamera nog aan vele kiekies die lewe skenk.
- Phyllis Green
Alf Kumalo inside Alf Kumalo inside
Alf Kumalo inside Alf Kumalo Inside
RESENSIES
 
Karoonag en ander verhale Karoonag en ander verhale, Deon Meyer (Human & Rousseau, R160)
Meyer is internasionaal bekend as spanningsverhaalskrywer van meestal romans. In dié kortverhaalbundel kry hy dit ook reg om die leser aan die raai te hou tot die einde van elke verhaal.
Hy skryf ewe vernuftig oor hoe om die perfekte moord te beplan as oor die vervaardiging van skoene. "Die skoen in Maria", waarin inspekteur Ferdinando Adornato die moord van 'n model ondersoek, is dié leser se gunsteling. Dis briljant nagevors en geskryf.
Meyer se karakters is régte mense, al is hulle fiktief. 'n Mens hou van hulle, swakhede en al. Die karakters se name (dikwels uit die telefoongids gekies, sê Meyer) pas perfek by hul beroepe of persoonlikhede.
Sy sin vir humor (soms die galge-soort) is deurentyd aanwesig. 'n Karakter se hare is "die soort deurmekaar wat baie euro's kos". Hy kan 'n ding ook lekker sê. Soos: "Hulle arresteer jou nie omdat jou vrou en jou lewe jou doodverveel nie."
'n Bonus is die Nawoord by elke storie waarin Meyer lig werp op die ontstaan van sy verhaal. Interessant vir veral aspirant-skrywers. - Riette Rust
Gister is &aposn ver land  Gister is 'n ver land, Malene Breytenbach (Tafelberg, R175)
'n Aangrypende verhaal wat jy nie kan neersit nie. Maureen, wat in Kenia gebore is, het 'n bevoorregte lewe gelei op die pragtige plaas Mbiga. Sy moet dit egter alles prysgee ná die wrede moord op haar geliefde man en klein seuntjie deur die Mau-Mau. Sy moet saam met haar dogter 'n nuwe lewe begin in Zimbabwe.
Sy vind weer geluk en liefde, maar vir haar dogter is dit baie moeiliker om te keer dat die verlede die hede beïnvloed. Die grusame gebeure in Kenia word ook op 'n veel erger vlak herhaal in Zimbabwe.
Hul moedigheid en durf, die aanhou veg en hoop op 'n beter toekoms: Alles is tevergeefs, met die enigste uitweg 'n ylingse vlug na Suid-Afrika.
- Nikki Strassburg
Van Zuma tot Zille  
Van Zuma tot Zille en ander politieke
Kaperjolle,
Fred Mouton (Human & Rousseau, R150)

Mouton is al veertig jaar 'n spotprenttekenaar by Die Burger. Hy het al onder 5 redakteurs gedien en het in sy loopbaan derduisende sketse gemaak van politici se doen en late.
Deesdae is koerante losser, sê hy, en kan hy iemand uitbeeld nes hy wil. Hy soek nie mooi mense om te teken nie - hoe leliker hoe beter, want dan kan hy egte karikature van hulle maak. In dié versameling is heelparty van Zuma en Zille. Dis vir Mouton lekker om Zuma te teken, want "hy lyk 'n bietjie anders as die ouens om hom en hy het die gawe om die verkeerde ding te doen. Zille is nou weer eksie-perfeksie en in 'n klas van haar eie. Die twee teenpole is heerlik - dit gee my baie materiaal." Mouton se sketse maak die politiek verteerbaarder deur 'n (wrang) glimlag op jou gesig te sit. P. G.
The secret scripture

 
The Secret Scripture, Sebastian Barry (Faber & Faber, R 199,95)
Hierdie aangrypende verhaal word weergegee uit wisselende oogpunte: Enersyds kry die leser te doen met die herinneringe van Roseanne McNulty, die oudste inwoner van Roscommon ('n inrigting vir geestelikversteurdes) en andersyds met die kommentaar van Dr. Grene, die mees senior psigiater verbonde aan dié hospitaal.
Weens die gebou se vervalle toestand gee die bestuur opdrag dat die inwoners na 'n kleiner perseel verskuif moet word. Dr. Grene word aangesê om die pasiënte te herevalueer sodat besluit kan word wie met veiligheid na die samelewing kan terugkeer. In reaksie hierop besluit Roseanne, wat op die vooraand van haar honderdste verjaarsdag staan, om haar lewensverhaal neer te skryf en só ontvou 'n roerende kroniek van onreg, hartseer, verlies en vergeefse hoop.
Barry se skryfstyl is meesterlik; sy sensitiewe karakterbeskrywings, treffende gebruik van dialoog en fyn hantering van stemming sal lesers ongetwyfeld meevoer.
Dié komplekse roman met sy verrassende einde is beslis die lees werd.

Die boek is bekroon met die Costa Book of the Year Award 2008. - Emsie Viljoen

The Messenger of Athens  The Messenger of Athens, Anne Zouroudi (Bloomsbury, R188,95)
Die idilliese lewe van eilandbewoners verander in 'n oogwink van hemels na hel op aarde. Irini was vir die eilandbewoners die uitlander, die indringer wat met een van hulle getroud is - asof daar nie genoeg hubare vrouens op die eiland is nie. Maar die lewe en liefde is nie altyd regverdig nie - soos die dood vir Irini. Toe Irini haar laaste asemteug intrek, het sy aan haar geliefde gedink en gewonder hoekom?
Die skindertonge is vas oortuig hulle ken die waarheid en hul stories woed soos 'n veldbrand deur die dorpie. Almal met geraamtes in die kas is aan mekaar gekoppel. Wat vir die mans 'n speletjie was, was vir die vrouens 'n bittere lewensverloop wat maar verdra moes word. Die waarheid kom egter altyd uit, al is dit soms verdraai . . .
- Trudy Booyens
 Jelly Dog Days  
Jelly Dog Days, Erica Emdon (Penguin SA, R190)
Nog 'n verhaal van grootword in die 1960/70's - dit lyk asof die generasie wat toe op skool was nou graag vertel van hul kinderdae.
Die roman speel af in Johannesburg en omstreke en is skokkend, maar absoluut geloofwaardig en boeiend geskryf. Dit gaan oor Terry, wie se ma
vir haar pragtig en byna altyd reg is.
Ongelukkig is die ma ook 'n alkoholis. Terry is die oudste en neem verantwoordelikheid vir die vier ander kinders in die huis, en toenemend ook vir haar ma. Haar stiefpa se goedgunstigheid en partydigheid wat haar bo die ander kinders uitsonder, is al wat goed lyk aan haar lewe - totdat hy terugbetaling eis. Haar innerlike krag maak dié tragiese verhaal van vertroue en verraad draagbaar.
- Mariette Postma