Verbeel jou dis somer, Abraham H. de Vries (Human & Rousseau, R145)

De Vries se stories is soos meesterlike pentekeninge - elke lyntjie word versigtig en presies neergelê en inmekaargevleg en as jy weer sien, het die kaal oppervlak diepte en substans gekry. Dit is verhale oor gewone mense op gewone plekke, eg en sonder fieterjasies. Jy kan jou telkens verbeel die verteller sit net hier langs jou, besig met 'n relaas oor 'n groot tragedie of groot liefde, sonder om ooit sy stem te verhef.

Die realiteit van die hedendaagse Suid-Afrikaanse bestaan met sy wanhoop, verval en onsekerheid is 'n belangrike tema - 'n wêreld van verdorde drome, van spieëls en raaisels, waar 'n mens soms voel "alle gevoel van tuis wees het verhuis . . ."   - Ilse van Staden

Books that changed the worldBooks that changed the world, Andrew Taylor (Quercus, R239,95)

Enige lysie wat aanspraak maak op die beste dít of die beste dát, is altyd betwisbaar. Só is dit ook met hierdie een: Jy sou dalk ander boeke gekies het. Die samesteller sê hierdie boeke het 'n verskil aan sy lewe gemaak, maar het ook 'n verandering in die wêreld gebring - hetsy op politieke, godsdienstige, mediese, literêre of geografiese front. Van die boeke wat hy lys, is Nineteen Eighty-four deur George Orwell, wat kritiek uitspreek teen te veel politieke mag. Dan is daar Lady Chatterley's Lover deur D.H. Lawrence, wat nie noodwendig sy beste boek is nie, maar dit het 'n debat oor sensuur ontketen - en dit is oor hierdie kulturele waarde dat die boek die lys haal. Verder is daar Avicenna se Canon of Medicine, wat 'n basis vir moderne gesondheidsorg gelê het. Betwisbaar of nie, Taylor se boek is interessante leesstof. - Phyllis Green Books that changed the worldBooks that changed the world

Daai DaeDaai Dae, Ben Beukes (Izinduli Media, R149)

Die 49 kort, humoristiese vertellings is bymekaargemaak en ingekleur deur die storieverteller Ben Beukes. Afrikaanse storievertellers soos Jan Spies, Tolla van der Merwe, Koos Meyer en Pieter Pieterse word ál skaarser en stories vertel in Afrikaans is 'n kuns wat besig is om uit te sterf. Beukes slaag met die bundel om die gaping te vul.

Die vertellings uit eie bodem sal jou laat lag en laat verlang na mense en situasies wat jy ook al beleef het. Die lys van verklarings van Afrikaanse streektaal is op sigself leesgenot. Wie ken nog woorde soos "steppieng" vir borstrok en "begrouenis" vir begrafnis? Beukes het 'n gemaklike verteltrant en die stories lees maklik. Bewaar die boek en gee dit vir jou kinders om ook te lees. - Gert Venter

Donatello en VolksieDonatello en Volksie, Marion Erskine (Tafelberg, R149,95)

Dis snaaks. Dis hartseer. Dis 'n moet-lees.

Hierdie boek vertel die verhaal van Zoe Zietsman, die airy-fairy blondekop, en Anton Badenhorst, die konserwatiewe advokaat. Waar anders as in cyber space vind die ontmoeting plaas? En net soos Mars en Venus teenoor mekaar staan, is hierdie twee mense ewe sterk teenoorgestelde pole.

"Volksie" ry op 'n Vespa, gee jogaklasse aan swanger vroue en is telkemale in die moeilikheid met haar impulsiewe geaardheid. Donatello ry met 'n Audi TT, is kompulsief netjies, glo 'n man sonder 'n das is ongeklee en sit nooit 'n voet verkeerd nie. Albei is op soek na ware en onvoorwaardelike liefde. Gelukkig het hulle die hulp van 'n gay buddy en 'n onstuitbare huiswerker. Die boek met sy menslike emosie en alledaagse hunkeringe het my telkens hardop laat skaterlag. - Nikki Strassburg

Collected Stories

Collected stories, Hanif Kureishi (Faber & Faber, R194,95)

'n Yslike bundel deur 'n skrywer wat nie wegskram van moeilike onderwerpe nie. Hy skrik ook nie vir die banale nie en skryf oor politieke spanning, verwikkelde gesinsverhoudings, wat die gebrokenheid van ons tyd verteenwoordig, en wys die verspothede uit wat deel is van mens-wees. Sy skryfstyl is humoristies, eroties en teer.

Die bundel bestaan uit vier groeperings van 36 kortverhale wat oor tien jaar geskryf is. Dit gee 'n goeie idee van sy gevierde skryfwerk. Daar is ook agt nuwe stories, waaronder een oor Azhar, 'n Pakistani wat in Londen gebore is, wat saam met sy pa krieket kyk in hul oorvol huis :

"Azhar was accustomed to being with his family while grasping only fragments of what they said. He endeavoured to decipher the gist of it, laughing . . . and whirling, all the while, in incomprehension."    - Mariette Postma

Ford County 

Ford County, John Grisham (Century, R217,95)

Grisham beweeg weg van sy bekende rillers met dié sewe kortverhale oor die lewens van die inwoners van Ford County in Mississippi, 'n gemeenskap in Amerika se Deep South. Dis 'n fiktiewe plek waar sy eerste boek, A Time To Kill, ook afspeel.

Die stories het almal daardie ongedefinieerde kwaliteit wat simpatie by die leser wek. Die karakters bevind hulle in moeilike omstandighede en in die meeste gevalle is daar nie 'n gelukkige einde nie. Ná die eerste paar verhale mag jy dalk hunker na meer aksie. Tog is die stories interessant omdat ons nie gewoond is aan die situasies en omstandighede nie.

Wat Grisham baie goed regkry, is om 'n eeue-oue vraag in die leser se gedagtes te plaas vir debat: Kan iemand se optrede geregverdig word deur die omstandighede waarin hy is? - Liesl du Toit