Dis weer tyd vir Exclusives Books se Homebru-veldtog wat vandag afskop tot 21 Junie 2013. Vir my word dit nou ‘n instelling en ek kan nie anders as om verstom te wees oor hoeveel talent ons in ons land het nie. By die bekendstelling van die lys gister het die Australiese skrywer, Tony Park juis vertel hoe Suid-Afrika en Afrika hom inspireer. Een van die dinge wat hom opval wanneer hy by boekwinkels hier in Suid-Afrika ingaan, is met hoeveel trots Suid-Afrikaanse skrywers se boeke prominent uitgestal word. In sy tuisland word plaaslike skrywers se boeke heelagter weggesteek, so asof ander internasionale skrywers beter is. Dit het my net weer laat besef hoeveel waarde daarin steek om trots Suid-Afrikaans te wees, en dat ons met reg met ons skrywers en hul boeke kan spog.

The Concentration Camps of the Anglo-Boer War, Elizabeth van Heyningen (Jacana, R280)
Konsentrasiekampe bly ‘n emosionele saak vir baie mense, veral die wat voorsate het wat omgekom het of wat die kampe oorleef het. Hierdie boek bied ‘n vars perspektief wat na verskillende aspekte van die konsentrasiekampe kyk, maar met die klem op die mediese geskiedenis van die kampe. Die skrywer het toegang gehad tot die magdom dokumente in die Suid-Afrikaanse en Britse argiewe. Hierdie boek is nie sonder omstredenheid nie, want dit probeer uit alle oogpunte kyk na wie in die kampe gehuisves was en hoe die kampe bestuur is en wat die impak van die kampe in die breër geskiedenis was.

 The Great Trek

The Great Trek, Robin Binckes (30° South, R320)
Binckes se eerste boek, Canvas under the Sky, met die Groot Trek as tema het wyd aandag geniet en baie debat ontketen oor hoe die skrywer die Trekkers uitbeeld. Hierdie boek is ‘n omvattende oorsig oor die geskiedenis van die Groot Trek en hoe dit inpas by ander intogte en migrasies in Suider-Afrika. Volgens die boek was die Afrikaner, en is die Afrikaner steeds ‘n belangrike rolspeler in die Suid-Afrikaanse gemeenskap, maar dit wys ook hoe die Afrikaner deel is van ‘n baie groter prentjie.

 Vegter en Balling

Vegter en Balling, Chris Schoeman (Tafelberg, R160)
Schoeman het ‘n afskrif van veldkornet Charles von Maltitz se oorlog-dagboek bekom en die moeilik leesbare handskrif in verafrikaanste Hollands ontsyfer en getranskribeer. Boere-krygsgevangeneskap word boeiend uitgebeeld in sy dag tot dag vertellings wat begin van November 1900 tot Augustus 1902. Hy skets ‘n prentjie van die algemene lewe in die kampe in Groenpunt, St Helena, Ceylon en Indië en ander kampe elders. ‘n Waardevolle toevoeging tot die dokumentasie oor die Boere-oorlog.

 The Accidental Ambassador

The Accidental Ambassador, Tony Leon (Picador Africa, R220)
Die boek is Tony Leon se opvolg op sy biografie. Hy deel hoe hy die Suid-Afrikaanse ambassadeur in Argentinië geword het en hoe hy vinnig ‘n crash course moes kry oor hoe om ‘n ambassadeur te wees. Hy reflekteer ook oor die vreemdhede van die  politiek en hoe dit was om in Argentinië die ambassadeur te wees. Deur sy oë kry mens ‘n ‘agter die skerms’-kykie van die lewe van ‘n ambassadeur.

 Brand Pretorius: Aan die Stuur

Brand Pretorius: Aan die stuur, Brand Pretorius (Tafelberg, R195)
Die boek is eintlik gemik op sakelui, maar almal wat belangstel in leierskap sal baat vind daarby. Pretorius deel sy leierskapsreis en vertel wat dit verg om ‘n leier te wees. Hy praat oor die lesse wat hyself as leier geleer het en hy illustreer met staaltjies uit sy persoonlike en professionele lewe. Brand Pretorius was vier dekades lank die hoof van Toyota Suid-Afrika en die McCarthy-groep.

 She Left me the Gun She left me the gun, Emma Brockes (Faber & Faber, R202)
Brockes, ‘n joernalis, het teruggegaan op haar ma se spore in die verlede, nadat haar ma aan kanker dood is. Sy het grootgeword met die gedagte dat daar ‘n storie agter haar ma se lewe in Suid-Afrika was, maar haar ma het haar nooit vertel waarom sy haar geboorteland vir Engeland verruil het nie. Wat sy gevind het, is ‘n verstommende verhaal van kindermishandeling en herhaalde verkragting waarin haar ma die slagoffer was. Die ergste is die dade is deur haar ma se eie pa gepleeg. Ten spyte van ‘n tragiese persoonlike geskiedenis, verval die boek nooit in ‘n treurmare nie. Dis ‘n boeiende weergawe van ‘n intense persoonlike lewensverhaal wat vreemder as fiksie is.
 Wolf, Wolf

Wolf, Wolf, Eben Venter (Tafelberg, R225)
Michiel Heyns sê oor die boek: “Met sy sterk gay-inslag is Wolf, Wolf weer iets nuuts in die Afrikaanse letterkunde: kosmopolities maar tog met voete in eie bodem, uitgesproke en soms kru, maar tog vol deernis en begrip . . .” Die jongste verhaal deur Venter gaan oor die verhouding tussen Mattheüs Duiker en sy sterwende pa, hoe bros die draad van kommunikasie tussen hulle is. Mattheüs en sy pa sukkel om eerlik van aangesig tot aangesig met mekaar te praat en jy leer ken hul diepste wesens en gevoelens eintlik deur die gesprekke wat hulle met hulself voer. Venter se taalgebruik en die manier hoe hy oor ‘n moeilike onderwerp skryf, is boeiend.

 At the fireside

At the Fireside, Roger Webster (Johanthan Ball, R185)
Webster se eerste boek met ware Suid-Afrikaanse stories het tien jaar gelede verskyn. Hierdie nuwe bundel met nog ware verhale uit eie bodem vertel van mense en dinge wat gehelp het om ons land die plek te maak wat dit is. Baie van die verhale is vergete of is nooit vertel nie, omdat die tyd nie geleë was om dit te doen nie. Hierdie verhale van mannemoed en durf, hoop en verslaentheid, suksesse en mislukkings, uitsonderlike prestasies en die ongewone gebeurtenisse van gewone mense dien as inspirasie vir ‘n land waarin inwoners probeer om ten volle te versoen met mekaar.

 The Imagined Child

The Imagined Child, Jo-Anne Richards (Pan Macmillan, R152)
Odette is ‘n skrywer vir ‘n gewilde sepie, maar sy wil haar lewe vereenvoudig. Sy probeer ‘n nuwe lewe begin op die klein Vrystaatse dorpie, Nagelaten. Die lewe daar is eintlik glad nie so eenvoudig as wat mens dink nie, want dié dorpie het sy eie donker geheime nes Odette. Soos wat haar eie verhaal met al die dramatiese gebeure daarvan ontvou, raak haar lewe al hoe meer gekompliseerd. En stadig maar seker onthul Nagelaten ook sy raaisels aan haar. Hierdie is ‘n uitmuntende sielkundige spanningsverhaal wat jou enduit boei.

 Sister Sister

Sister-Sister, Rachel Zadok (Kwela Books, R195)
Europese en Afrika folklore het die skrywer geïnspireer om die storie te skryf. Dit vertel van die tweelingsusters Sindi en Thuli wat ná hul ma se ou village toe gestuur word, omdat ‘n oom van hulle moeilikheid kom maak deur weer ou koeie uit die sloot te grawe. Hulle was salig onbewus van sy bestaan. In hul nuwe tuiste ervaar hulle vyandigheid en is verlore omdat hulle gekonfronteer word met bygelowe wat hulle nie verstaan nie. Hulle trotseer die een nare ervaring na die ander en hierdie ontwrigtende dinge beïnvloed die sussies se verhouding.