Boeke is die perfekte Kersgeskenke vir boekwurm-vriende -en familie. Hier is ‘n paar boekwenke vir selfverryking...

The Manhattan Diet

Eileen Daspin (Quercus, R139)

Daspin het met gesonde, maer vroue gesels oor die geheim van hul goeie figuur. Die boek bevat persoonlike stories, ’n 28-dag-eetplan, raad deur dieetkundiges en fiksheidskenners, en resepte van bekende sjefs van Manhattan, onder wie Mario Batali van Iron Chef-faam. Selfs die aktrise Sarah Jessica Parker en model Helena Christensen deel dieetwenke.

eboek R20,27 op kalahari.com

What the Most Successful People do Before Breakfast

Laura Vanderkam (Portfolio Penguin, R165)

Suksesvolle mense gebruik hul oggende vir drie dinge: die koestering van hul beroep deur strategie en gefokusde werk; om verhoudings met familie en vriende te koester; en om hulself te koester deur oefening en spirituele en kreatiewe praktyke. Vanderkam bespreek tydsbestuur aan die hand hiervan, toegelig met voorbeelde van suksesvolle mense.

eboek R28,41 op kalahari.com

Learner Husband – A Handy Guide for Avoiding Collisions with Your Wife

Stuart Taylor (Taylor-Made Productions, R120)

Die SA komediant Stuart Taylor, bekend vir sy vertoning Learner Husband, vergelyk in dié gelyknamige boek die bestuur van die huwelik met ’n gevorderde bestuurderskursus vir motoriste. Hy neem mans (en vroue) deur verskillende aspekte van die huwelik vir beter begrip en minder konflik.

Pitkos: Inspirasie, wyshede en antwoorde vir die lewe

ST Potgieter (Naledi, R139)

In Pitkos op RSG gesels dr. ST Potgieter oor interessante en lewensverrykende aspekte vir enige mens. Dié boek bevat die keur van sy gesprekke, wat reguit en inspirerend is.

eboek R88,91 op kalahari.com

52 Dinge wat ma’s moet weet

Angela Thomas (Christelike Uitgewers-maatskappy, R119,95)

’n Nuttige gids met voorstelle oor hoe ma’s situasies uit ’n oogpunt van genade moet beskou, eerder as om ’n superma te probeer wees. Angela Thomas doen dit deur stories en Bybelse waarhede as bemoedigende riglyne vir ma’s te gee.

eboek R67,20 op kalahari.com