Elke jaar volg die joviale wynmakers van hierdie vooruitstrewende wynstreek in die Overberg ‘n tradisie van ‘geen skeer of salon besoeke gedurende die oesseisoen nie’, en kom pronk hulle dan op die aand van die Barrels & Beards makietie met hulle verspotte, na-oes voorkomste tydens ‘n ‘baard-parade’ – tot groot vermaak van die gaste. Saam met erkende beoordelaars, kan die gaste dan ook vir die beste baard in Botrivier stem en sal die manne die kollig met van hulle jongste 2013 kelderskatte deel wat aanhangers dan sommer daar en dan direk vanuit die vaatjies kan geniet. “Ons kry slegs eenkeer ‘n jaar die kans om ons passie vir wynmaak uit te leef en ons nooi ieder om saam met ons te kom skouer skuur terwyl ons vir oulaas met ons woes-kroes baarde, snorre en harige skeppings spog. Maar gelukkig lê die skoonheid mos eerder in die bottel en sal daar op hierdie eksklusiewe aand van die jongste asook immer-gewilde wyne vanuit ons geweste wees om te proe,” verduidelik wynmaker Sebastian Beaumont van Beaumont Landgoed. Die unieke Botrivier Wynroete is die tuiste van ‘n uiteenlopende boeket van wynkelders wat wissel van die historiese, meer tradisionele staatmakers tot ultra-moderne, glanskelders wat almal toegewyd is tot individualistiese, gehalte-gedrewe wyne. Saam met Beaumont sal Barton, Eerstehoop, Feiteiras, Gabriëlskloof, Genevieve, Goedvertrouw, Luddite, Maremanna, Rivendell en Wildekrans ook by vanjaar se Barrels & Beards met hulle wol-bakkies en wyne paradeer. “Tydens die Barrels & Beards aand bring ons hulde aan al die aandag, bederf en mooimaak wat ons aan ons wyne, en nie aan onself, gedurende die afgelope maande geskenk het,” voeg vonkelvrou Melissa Nelsen, van Genevieve Cap Classique, by. Die gesellige aand sluit ‘n bobaas ‘van plaas tot tafel’ potjiekos verlustiging in van unieke smake en produkte eie aan die streek, terwyl gesogte wyne van meer as agt plaaslike produsente te koop sal wees. Die boereorkes, Die Stoepsitters, sal ‘n lekker sakkie-sakkie atmosfeer aan die ontspanne samesyn verleen. Barrels & Beards 2013 vind plaas by Die Ou Skuur by Anysbos-plaas (op die Swartrivier pad, Botrivier) en begin om 5nm. Daar sal ook ‘n pendelbussie op die aand beskikbaar wees ter ondersteuning van verantwoordelike alkoholgebruik. As verlede jaar se eerste Barrels & Beards, wat soos soetkoek uitverkoop het, enigsins ‘n indikasie is, moet jy seker maak dat jy dadelik jou kaartjies bespreek. Die kaartjies is beperk en kos R250 per persoon wat ‘n gratis vatproe van die jongste Botrivier wyne; ‘n soewenier wynglas; die aandete; musiekvermaak, asook hartlike plattelandse gasvryheid insluit. Vir meer inligting oor die Botrivier Barrels & Beards Oesfees of om jou kaartjies te bespreek skakel Nicolene Heyns by nicolene@botriverwines.co.za. Geen kinders word toegelaat nie. Botrivier is geleë in die rigting van Hermanus op die N2 – Net so oor ‘n uur se ry vanaf Kaapstad.