‘n Gesoute span wynmakers van dié area, wat bekend is vir sy bekroonde rooiwyne asook gehalte wit- en vonkelwyne, het kragte saamgesnoer om ‘n liplekker viertal seisoen-en-variëteit-geïnspireerde middagetes by verskillende deelnemende wynplase op die laaste Sondag van Augustus, November asook volgende jaar, Februarie en Meimaand op te dis. Die Bottelary Hills Wynroete wat noordwes geleë is van Stellenbosch, is die tuiste van menigte vooraanstaande en gewilde wynplase insluitende Villiera, Hartenberg, Stellenrust, Beyerskloof, Bellevue, Goede Hoop, Groenland, Kaapzicht, Mooiplaas en talle meer. Die eerste Bottelary Hills Wynmaker Middagete sal ‘n ontspanne, bistro-styl kos-en- wynervaring met koesterende wintersmake bied, verryk met gehoute witwyne en breëbors rooiwyne. Dus is dit dan ook heel gepas dat Hartenberg, een van Suid-Afrika se beste Shiraz produsente, gasheer sal wees van hierdie watertand geleentheid. Na ‘n wynproe, sal sjef Christophe Dehosse van Joostenberg Bistro ‘n viergang feesmaal in Hartenberg se bekende ondergrondse kelder voorsit, wanneer elk van sy disse met ‘n gepaste wyn vanaf die area gepaar en bedien sal word. Verbeel jou wêreldklas wyne, opregte gasvryheid en heilsame kos by tafels waar vreemdes vriende raak oor ‘n viergang middagete saam met die karakters en kelderskatte van die Bottelary Hills Wynroete – die perfekte hoogtepunt om jou naweek met smaak af te sluit. Die Bottelary Hills Wynmaker Middagete by Hartenberg begin 11vm en kos R250 per persoon wat die wynproe, asook ‘n viergang ete met ‘n glas wyn vir elke gang insluit. Voorafbesprekings is noodsaaklik siende sitplek beperk is. Om jou plek te bespreek skakel Tel: (021) 886 8275 of stuur ‘n epos na marketing@wineroute.co.za. Die volgende Bottelary Hills Wynmaker Middagete sal die geur en kleur van die lente vier by Beyerskloof Wynlandgoed op 25 November.