Dié winter moet elkeen ’n modieuse warm mus hê. Brei dit sommer self!

Benodigdhede

  • 2 x 50 g-bolle Elle Classic Wool Aran (kleur Froth 014)
  • 5,5 mm- en 4,5 mm-breipenne
  • ’n kabelpen

Brei so

Heg aan 102 ste (steke) met 4,5 mm-penne. Brei 22 rye dubbelrif [= r (regs) 2, aw (aweregs) 2].

Gaan oor na 5,5 mm-penne en brei soos volg verder:

Eerste ry: r 2 (aw 5, r 8, aw 5, r 2) 5 keer.

Volgende ry: Brei ste soos dit voorkom.

Derde tot sesde rye: Brei ste soos dit voorkom.

Sewende (kabel) ry: r 2 (aw 5, glip vlg 4 ste op kabelpen en hou agter werk, r 4 op linkerpen en r 4 op kabelpen, aw 5, glip 1 st op kabelpen en hou agter werk, r 1 op linkerpen en r 1 op kabelpen) 5 keer.

Volgende rye: Brei reguit vir 14 rye soos ste voorkom.

Volgende ry: Herhaal die 7e (kabel) ry. Herhaal hierdie 15 rye nog 3 keer, of so lank soos jy die mus wil hê.

Volgende 2 (verminder) rye: Brei ste soos dit voorkom en terselfdertyd (brei 1 st, br 2 ste tesame) tot einde van elke ry. Heg af oorblywende ste.

Afwerking: Werk sy- en bonaat toe.

*Gepubliseer in die Junie-uitgawe van SARIE