Quiche is gewoonlik plat, maar jy bak dié een in ’n broodpan.

genoeg vir 6-8

• 1 x 400 g-rol broskorsdeeg, ontdooi

• 45 ml olyfolie

• 2 x 250 g-pakkies spek, grofgekap

• 2 uie, in ringe gesny

• 1 x 100 g-pak babaspinasie

• sout en varsgemaalde swartpeper

• 250 g beleë cheddarkaas, gerasper

• 3 eiers, geklits

• 125 ml room

Verhit oond tot 180 °C. Voer ’n 20 cm-broodpan met bakpapier uit en spuit met kleefwerende kossproei. Voer pan met broskorsdeeg uit en bak blind vir 10 minute. (Blind bak beteken jy voer die deeg met bakpapier uit en vul dit met rou rys of bone voor jy dit bak.) Verhit olie in braaipan en braai spek en uie vir 5 minute. Verwyder van hitte en roer spinasie deur. Geur met sout en peper. Sprinkel kaas in gebakte kors en skep spinasiemengsel bo-op. Meng eiers en room. Gooi oor mengsel. Bak vir 30-40 minute of tot gestol. Laat in pan afkoel en verwyder versigtig. Sit louwarm voor.