Dis op Plaza Dorrego, oorkant die Café Dorrego, waar daar elke Sondag antiekmark (Feria de San Telmo) gehou word terwyl die tango soos van ouds in die straat gedans word ...

Die musikant trek sy bandoneón oor sy skoot en laat dit sing en verlang na verlore liefde en verre lande. Op die plaza mik die man na die mooi vrou in die swart kuitlengte rok en elegante hoëhakskoene. Met ‘n knik van die kop – die cabezazo of teken – aanvaar sy sy aanbod. Hy glimlag en stap nader, hand uitgestrek. Hy trek haar sagkens nader. Hulle kyk mekaar stip in die oë, neuse wat amper raak. Hy gee ‘n tree vorentoe, sy ‘n tree agtertoe. Sensueel en met ferm beheerstheid gooi hy haar elegant soos ‘n jas oor sy arm.

Dan begin die passiespel ... Hy wil, sy wil nie. Hy oortuig haar weer en die oorredingsbewegings is stadig, sensueel. Dan weer aggressief, met hoog trap en kort treë. Die bandoneón snak na sy asem op die musikant se knie.

Dié instrument is die siel van die tango. Wanneer dit oopgetrek word, is die klank heeltemal anders as wanneer dit toegetrek word. Met die ooptrek is die klank briljant suiwer. Met die toetrekslag word dit gedemp, melancholies. Daarom is dit die enigste instrument wat die inherente tweestryd van die tango in klank kan vasvang.

Op die verhoog van die intieme El Viejo Almacén tangohuis, op die hoek van Balcarce en Avenida Independencia, bied ‘n terugblik op die goue jare van die tango.

Die tango is Argentinië se trots. Dis ‘n huldeblyk aan die passie waarvoor twee nasies legendaries is: die Spanjaarde en die Italianers. Daarom is dié passievolle dans juis in die nou keisteenstraatjies van die hawe-barrios van Buenos Aires gebore. Dit is gevoed uit die verlange, nostalgie en opwinding wat die immigrante elke dag met hulle saamgedra het.

Stories in die Europese kafees en op straat het gelui: Die Rio de la Plata-rivier het met sy loop uit die Andesgebergtes goud en silwer saamgespoel en hier in dié riviermonding kom uitspoeg. Die rykdom lê as’t ware rond en wag om geskep te word.

Gou het elke skip uit Europa ‘n vrag immigrante hierheen gebring. In barrios aan die soom van die stad het hulle lêplek gekry. Vroue en kinders is in die moederland agtergelaat, want Pa sou net vinnig sy stukkie rykdom kom opeis en dan terugkeer na sy hoopvolle gesin.

Maar die stories was net stories. Duisende immigrante moes noodgedwonge langer bly as wat beplan is. Die verlange het met tyd vervaag. En soos die dae, weke en maande verbygegaan het, het die behoefte aan vroulike geselskap die oorhand gekry.

Daar was slegs ‘n handjie vol vroue wat die manlike immigrante se “honger” moes stil. By die bordele aan die oewers van die rivier het die mans tougestaan. Die enkele musikant met
sy bandoneón moes vir ‘n bietjie atmosfeer sorg.

Die wagtende mans het hul danspassies met mekaar begin oefen, want ‘n goeie danser kan baie makliker die meisie van sy drome ontmoet. Musiek en dans het die gemeenskaplike taal
geword waarmee immigrante uit die verskillende wêrelddele mekaar beter kon leer ken.

Só het ook ‘n driejarige seuntjie op die heup van sy enkelma Europa vir Buenos Aires verruil. Sy naam was Carlos Gardel. Sy mooi stem was sy erfenis. As jong seun het dit vir kos op die
tafel gesorg en as jong man het hy ‘n stem aan die tango gegee met die eerste tango-liedere of canción. Wêreldwyd was hy die El Zorzal Criollo, die Sangvoël van Buenos Aires.

Dit was die tango se goue jare.

In Junie 1935 het ‘n Kubaanse vrou in Havana selfmoord gepleeg en ‘n New Yorkse vrou haarself probeer vergiftig. Die nuus dat Gardel pas in ‘n tragiese vliegtuig-ongeluk in Colombia
omgekom het, was net te veel om te verwerk.

Hy is in die Cementerio de la Chacarita begrawe waar ‘n brandende sigaret gereeld tussen die vingers van sy lewensgroot standbeeld gesien word. Sy volgelinge of gardelianos
pak gereeld ‘n “pelgrimstog” aan om aan hom hulde te bring. Oral is sy foto’s steeds in straatkafees, huise, restaurante en winkelvensters te sien.

Die militêre staatsgreep in 1955 het die tango se vlam vir eers gedoof. Daar was ‘n verbod op die samekoms van meer as drie persone, die aandklokreël het die strate ná ‘n sekere
tyd verlate gelaat en sommige tango-liedjies moes ander titels kry of is verban. Dit was inderdaad donker tye wat deur ondergrondse bedrywighede gekenmerk is. Vrees het die Argentyne
verlam en vandag nog vra mense vrae oor geliefdes wat oornag verdwyn het ...

Ná die val van die militêre regering in 1983 het mense stadig maar seker begin terugkeer na die elegante danssale en rokerige restaurante om hande uit te reik en hulle oor te gee aan een van die wêreld se mees sensuele danse.

Vandag is die tango se magiese krag sterker as ooit. Mense uit alle windrigtings vind hul pad na die tango-klaskamers oral in Buenos Aires om dié enigma van die dansbaan te probeer
tem.

Carlos Cardel: