Sy vertel meer oor die dorp waar hulle gewoon en werk het.

Campione d'Italia, of sommer net Campione, val binne die Italiaanssprekende kanton van Ticino in Switserland, geleë langs die Lugano-meer. Polities Italiaans, maar prakties is die mense inwoners van Switserland. 'n Italiaanse seuntjie met Switserse uniform. Voertaal is Italiaans.

Reisgidse  beskryf  Campione as glimlaggend en kleurryk – dis presies wat ons ervaar het oor 'n tydperk van elf jaar dat dit ons tuisdorp was. Ons was dikwels geamuseerd deur die verwarring van ons besoekers oor waar hulle op 'n gegewe oomblik is – in Italië of in Switserland!

Campione d'Italia kan vertaal word as 'Kampioen van Italië'.  Die inwoners, genoem Campionesi, is trotse Italianers in murg en been.

Bowenal het ons Christenwaardes op straat beleef: vriendelikheid, eerlikheid, hulpvaardigheid, beleefdheid, en respek vir almal - selfs hulle wat die nederigste werk verrig. Die formele groet, 'Buon Giorno', word dikwels vervang deur die meer informele groet 'Salve' (seën vir jou) of  'Pace' (vrede vir jou).

Gedurende die Middeleeue het die kuns van werk in klip sy oorsprong in Campione  gehad. Die meester kunstenaars, 'Maestri Campionesi', het oral in Noord-Italië gewerk. Volgens rekords was hulle reeds in 1162 in Milaan bedrywig nadat Barbarossa dié stad verwoes het.  Die merkwaardigste en bekendste  van hul werke is die Duomo van Milaan. Die eerste plan vir dié gebou, wat deur Gian Galeazzo Visconti, heerser van Milaan in daardie tyd, goedgekeur is, was die werk van Marco da Friscone. Die straat waarin ons woonstel was, is na hom genoem – Viale Marco. Geslagte 'Maestri Campionesi' het aan die Duomo van Milaan gewerk.

Hulle was nederige mense – kunstenaars wat van plek tot plek met hul besittings en materiaal in 'n sak op die rug gereis het. Vandag is die trotse dorpsembleem van Campione d'Italia 'n slakkie - ter ere van die 'Maestri Campionesi'.

'n  Imponerende argitektoniese boog, bekend as l'Arco, met die woorde CAMPIONE D'ITALIA verwelkom besoekers by die ingang van die dorp. Per motor is daar net een ingang en een uitgang – met die ingang is jy in Italië, met die uitgang is jy in Switserland. Daar is ook talle vasmeerplekke vir bote aan die meerfront. Dit maak dit dus onmoontlik om paspoortbeheer toe te pas.

Uit  'n artistieke oogpunt gesien, bied Campione baie. Die 'Santuario della Madonna dei Ghirli' – eerste keer gerestoureer in die 8ste eeu - is 'n Nasionale monument. Die piazza Roma het gesellige straatkafeetjies, waar cappuccino en die aroma van egte Italiaanse pizza jou in jou spore stuit. Elke gereg vertel aan jou palet: hierdie is 'n gastronomiese hoogtepunt - 'mangiamo bene!' Hier op die piazza Roma, by die fontein van die 'serpente', sien jy die skrif uit Numeri 21:9 op die plaveisel ingelê (vgl Joh 3:14). Om die waarheid te sê, jy kan in Campione nie 100m stap sonder om op een of ander manier herinner te word aan Jesus Christus se genade nie.

Julie in die somer gaan gepaard met verskeie buitelugfeeste. Geen mensgemaakte dekor is nodig nie – die meer is 'n vertoning van swane, eende, trapbootjies, seilbootjies en ferries. 'n 'Spettacolo' van vuurwerke op vlotte in die meer, gepaardgaande met opera en klassieke musiek laat jou sintuie elke oomblik regop staan.

'n Hoogtepunt is die seremonie waar die meer met alles daarin en almal wat 'n lewe uit die meer maak, geseën word. Dis 'n kleurryke gewyde seremonie soos net die Rooms Katolieke Kerk dit kan doen. Die plaaslike Monsignor met sy gevolg vaar 'n entjie weg op die meer en na skriflesing, gebed, en die uitspreek van die seën word 'n krans op die water gegooi – 'Genade Onbeskryflik Groot' (Meravigliosa grazia!) word deur 'n Italiaanse tenoor gesing. Daarna word gebraaide vissies uit die meer, tjips, Switserse sjokolade en wit wyn aan al die besoekers bedien. Teen hierdie tyd is die plaaslike orkes aktief besig om nostalgiese Italiaanse liedjies soos 'O Sole Mio' te speel en natuurlik is elke Campioneso bedrywig met sy ingebore, spontane manier, asof in ‘n opera, om hul storie te vertel – almal praat gelyk! Ons fees heerlik saam en geniet die ambiance – als GRATIS!

Die wilde blomme van die Alpe gedurende lente en somer, die ontploffing van kleur in die herfs, en die rustige atmosfeer van winter maak Campione 'n aangename plek in elke seisoen.

Een van die frescoes in die Santuario della Madonna dei Ghirli wat in die veertiende eeu geskilder is, is van Adam en Eva in die Paradys. As jy mooi kyk, sien jy dat die agtergrond – dws die Paradys – die landskap is van Campione en die aangrensende meer. In die skilder se verwysingsraamwerk was daar dus nie 'n mooier landskap op aarde om uit te beeld nie. Ons kan ons nogal daarmee vereenselwig!