Wanneer is julle weg uit SA?
Ons het in 2006 besluit om te emigreer en verskillende lande oorweeg. Ek was al vantevore in Australië en is mal oor die plek - groot, oop ruimtes, plat-op-die-aarde-mense en heelparty van my ou SA vriende woon hier. Ek het by stadsrade dwarsoor Australië aansoek gedoen (daar was 'n groot tekort aan stadsbeplanners) en het ná verskeie telefoniese onderhoude 'n paar werkaanbiedings gekry. Ons eerste keuse was Queensland. Dis aan die ooskus, byna die KZN van Australië, net sonder die majestieuse Drakensberge.

Wat doen julle?
Ek het 'n pos as ontwikkeling-koördineerder: stadsbeplanning aanvaar in Yeppoon, sentraal- Queensland. Ek is een van agt Afrikaanse stadsbeplanners hier en die meeste van ons ken mekaar sedert die vroeë negentigs in Pretoria. Colette het besluit om weer heeltyds te studeer. Sy doen grafiese ontwerp by die technikon in Rockhampton.
Vrydae werk sy by In Da Belli, die Suid-Afrikaanse winkel in Rockhampton waar 'n mens kaaskrulle, Mrs Ball's-blatjang, Carrol Boyes-kunswerke en allerlei ander SA lekkernye kan koop. Die koeksisters en biltong smaak vorentoe en verkoop soos soetkoek.

Is daar baie Suid-Afrikaners daar?
Om hier Afrikaans te wees is nie vreemd nie. Daar is meer as 250 Afrikaanse gesinne in die omgewing en die getal groei weekliks. Ons het ook twee Zimbabwiese families in ons straat.

Was die aanpassing groot?
Ons lewens het baie verander. Ons het baie gegroei, is meer ontspanne en tob minder oor die toekoms. Hoewel die gemiddelde ‘true-blue' Aussies besonder vriendelik is, is hulle baie privaat - soveel so dat die meerderheid van ons vriende ander expats (Kiwi's of Suid-Afrikaners) is. Beide ek en Colette kom goed met die Aussies oor die weg en ken nou al 'n verskeidenheid Australiese uitdrukkings wat ons in ons daaglikse taal gebruik. Die lewe hier is baie ongekompliseerd: Jy gaan werk, betaal belasting, hou by die spoedgrens en smeer sonskerm aan. Verstommend is egter die Aussies se werksetiek. Hulle is uiters pligsgetrou.

Jul leefwyse?
Ons leef heelwat buite, braai Tasmaniese salm en scallops en drink koue pinot gris. Ek sny soms gras. Die klimaat is lieflik en die wêreld is perfek vir ons gesamentlike liefdes van motorfietsry, reis, kook en fotografie. Ons het ons motorfiets saamgebring en ná 'n jaar aan 'n ander eks-Suid-Afrikaner verkoop om 'n nuwe een hier te kry. Ek studeer aanlyn vir 'n Australiese MBA en dit gee ons die geleentheid om heelwat in Asië te reis. My universiteit het kampusse dwarsoor Asië en in Frankryk. Ek het al klasse in Viëtnam en Maleisië gehad en ons bou dan 'n vakansie daarom.

Wat mis julle?
Woolies Food en "sagte" spoedgrense, donderstorms en die reuk van mielies op die land. Ons mis ons vriende en familie geweldig. Skype en e-pos help darem, maar naby, warm kontak is nie moontlik nie.My ouers het kom kuier en Colette probeer om jaarliks vir vier weke SA toe te gaan. Kerk en godsdiens is anders hier. Die Aussies is oor die algemeen min gespin oor godsdiens, maar 'n mens leer Christene ken en kuier saam. Sommige Suid-Afrikaners kla die Aussie-kinders is ongedissiplineerd - ek as 'n oud-rebel kan dit egter nie bevestig nie.