Vir drie maande het sy alleen, met ‘n tent en rugsak, wat sy Monster doop, die Pacific Crest Trail aangedurf. Die staproete van Meksiko na Kanada strek oor nege bergreekse en loop deur onherbergsame wildernis met enkele plattelandse oornagplekke.

Toe Strayed 22 is, sterf haar geliefde ma aan kanker en dit ontspoor haar jong lewe op ‘n selfvernietigende manier. Sy sukkel om dit te verwerk en ook hoe haar gesin uitmekaar spat, omdat die ma nie daar is om almal bymekaar te hou nie. Sy is ook kwaad oor hoe haar sibbe hul ma se dood hanteer. Haar eie lewe en huwelik val uitmekaar en sy besef sy sal iets drasties moet doen. Vier jaar na haar ma se dood, om te probeer ontsnap uit die kringloop van selfvernietiging en om haarself te probeer red, pak sy dié epiese staptog aan. Sy is onvoorbereid op die uitdagings wat dit fisiek en emosioneel aan haar bied. Terwyl sy haar daaglikse ontberings van blase en seer rug beskryf, vertel sy ook alles wat in haar verlede gebeur het. En ook hoe haar ma se dood ‘n impak op haar gehad het.

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Plek-plek is haar boek, Wild (Atlantic Books), skreeu snaaks, maar terselfdertyd hartroerend en emosioneel. Jy bly lees om te sien of Strayed heel anderkant gaan uitkom, teen alle verwagtinge in. Dis ‘n inspirerende verhaal van iemand wat durf en moed aan die dag gelê het om haar lewe om te draai en haar eie duiwels te besweer. Nie alleen beskryf sy die epiese tog en die landskap boeiend nie, maar neem sy jou ook op ‘n binnereis van refleksie en bepeinsing oor die lewe. Mens besef die lewe is ‘n reis en dat jy soms baie moeilike uitdagings in die oë moet staar om aanvaarding en vrede te kry.

Jy het Wild geskryf nogal lank nadat jy die Pacific Crest Trail (PCT) gestap het. Waarom so lank na die tyd en was dit maklik om alles te onthou?

Ek het die boek in 2008 begin skryf, 13 jaar nadat ek die roete gestap het. Ek het voor dit nie genoop gevoel om oor die reis te skryf nie. Ek wou wag totdat ek iets te sê gehad het oor die ervaring voordat ek daaroor skryf. Ek wou eers bietjie meer perspektief oor daardie tyd in my lewe gehad het. En in die jare na my staptog was ek besig met my eerste boek, TORCH, wat in 2006 in die VSA uitgegee is. Ek het dagboek gehou tydens my staptog, want ek was ‘n ywerige dagboekhouer reg deur my 20’s tot in my 30’s. Dit was handig toe ek die boek geskryf het, maar ek het ook baie op my geheue staat gemaak. Party gebeure was helder in my gedagtes, ander meer vaag, maar as jy eers begin skryf oor jou lewe, raak jou kop oop en word die onthou sterker en onthou jy dinge wat jy gedink het jy het vergeet. Ek kan dit vergelyk met wanneer jy ‘n ou vriend weer raakloop en julle begin gesels. Aanvanklik dink jy jy het baie vergeet en dan kom die “o ja, ek onthou dit!”-oomblik. Skryf laat jou ook toe om in dit wat in die onderbewuste lê in te tap. In teendeel, dit vereis dit.

Het jy altyd ‘n dagboek gehou?

In my vroeë 20’s het ek baie gereeld in my dagboek geskryf tot so in my middel 30’s toe my eerste kind gebore is. Ek het aan en af dagboek gehou van toe af, maar nie so gereeld nie. Om ‘n ma te wees, beteken ek het baie minder tyd en ek is meer daarop ingestel om my boeke te skryf. ‘n Dagboek is ‘n waardevolle stuk gereedskap wanneer dit kom by refleksie oor jou lewe en om jou gevoelens te verwerk. Ek hou daarvan dat ek ‘n rekord van my jong volwasse lewe het. Miskien sal ek een van die dae weer begin dagboek hou.

As jy terugkyk na jou pelgrimstog, wat was die belangrikste ding wat jy oor jouself geleer het?

Ek het geleer wat ek eintlik al geweet het: Ek het die krag gehad om aan te gaan, al was dit moeilik om dit te doen. Dit was waar op ‘n fisieke manier, die staptog was dikwels baie moeilik, maar dit was ook waar emosioneel en dit was moontlik die waardevolste les. Ons kry swaar, maar ons kan desondanks aanbeweeg. Ons moet; ons het nie ‘n keuse nie.

Jy het baie onvoorbereid op hierdie tog gegaan. As jy vooraf geweet het wat die uitdagings van die PCT is, sal jy dit weer aanpak?

Ek sal dit beslis weer doen. Om die PCT te stap, is een van die beste dinge wat ek ooit gedoen het. Ek het voor ek die PCT aangedurf het al baie gestap, maar nooit met ‘n rugsak nie en daar is ‘n groot verskil tussen die twee! So baie van die beste dinge in die lewe - skryf, ouerskap, langafstand stap en die huwelik - is meer uitdagend as wat ons verwag, maar die moeite is dit werd. Ek dink dis omdat dit moeite is dat ons dit beleef as die beste ervarings.

Jy het die staptog gedoen as ‘n manier om vrede te maak met die dood van jou ma. Tot watter insigte het jy gekom oor jou verhouding met jou ma?

Dit het my insig gegee in my verhouding met my ma, asook in my smart oor haar dood. Ek het vrede gemaak met die jammerlike feit dat sy dood is. Dit lyk so eenvoudig; op ‘n rasionele wyse het ek altyd geweet sy is dood. Maar op die PCT het ek dit regtig aanvaar, wat beteken het ek moes haar op ‘n dieper vlak laat gaan. Ek het oorgegee aan die werklikheid dat nie woede of hartseer haar na my sou terugbring nie. Ek sal altyd my smart dra, maar ek kan dit verduur omdat ek ook altyd haar liefde vir my en my liefde vir haar binne my dra.

Is daar dinge wat jou ma jou geleer het wat jy sal oordra aan jou kinders?

Ja, alles! My ma het my en my sibbe so totaal lief gehad. Soos wat ek in WILD skryf, haar liefde vir ons was “full-throttle.” Dis hoe ek my kinders ook lief het, ‘n seun (8) en ‘n dogter (9). Hulle, tesame met hul pa, Brian is die by verre die beste ding in my lewe.

Jy skryf baie oor om te kies om alleen te stap en nie saam met ander stappers nie. Wat beteken dit vir jou om alleen te wees en wat is die waarde daarvan in jou lewe?

Ek dink om alleen te wees, is goed vir ons. Om alleen te stap op die PCT het my gedwing om net op myself staat te maak en het my ingekeer in my eie gedagtes. Ek het dit nie net gedoen om my innerlike krag te toets nie, maar om dit weer te vind. Omdat ek alleen was, kon ek dit doen sonder enige afleiding.

Regdeur die boek onderspeel jy die prestasie van jou staptog, veral wanneer ander stappers jou raakloop wat in verwondering staan oor wat jy doen. Sien jy dit vandag as ‘n prestasie?

Wanneer ek daaraan dink, voel ek ek het ‘n groot prestasie behaal. Maar ek weet ook ander mense het verder, vinniger en beter gestap. Dis nie ‘n kompetisie nie. Die punt van Wild is nie “kyk na my, ek is so fantasties want ek het ver gestap met ‘n rugsak!” nie, nog minder is dit “arme ek! Ek het meer gely as ander” nie. As ‘n skrywer stel ek belang in die dinge wat ons met mekaar verbind, die universele menslike toestand. Meeste van ons het avonture en lewensreise gehad. Meeste van ons het al gesukkel en verlies ervaar. Al lyk dit verskillend van mekaar, is die kern daarvan tog dieselfde. Ek skryf in daardie kern in. Ek het my storie gebruik om ‘n brug tussen my en ander te bou, nie om myself te verwyder nie.

Die boek gaan gedeeltelik oor jou geneigdheid om keuses te maak wat nadele vir jouself inhou, soos om heroïen te gebruik, om seksueel promisku te wees. Het die PCT jou genees van sulke selfvernietigende keuses?

Ek glo so. ‘n Deel van die genesing is bloot grootword. Ek is nie spyt oor die betreurenswaardige goed wat ek gedoen het nie, want daardeur het ek het iets belangrik geleer. Daardie moeilike selfvernietigende tye het my gehelp om die gelukkige mens te word wat ek nou is.

Het jy kontak met jou sibbe en het jou ervaring jou empatie gegee met hoe hulle julle ma se dood hanteer het?

Ja, ek het altyd kontak gehad met my sibbe, alhoewel ons nou meer op ‘n afstand met mekaar in aanraking is as voor ons ma se dood. Ons het nooit die gesin hervorm soos dit eens was nie en dis jammer. Maar ons is almal lief vir mekaar en leef met welwillendheid teenoor mekaar. Ek het ook geleer dat ons almal verskillend rou. Daar is nie ‘n regte manier nie. Ek het dit waarlik aanvaar.

 Was jy verras oor die reaksie op en sukses van “Wild”?

Verstom. En dankbaar. Nooit in my wildste drome het ek dit verwag nie.