Chris Karsten skryf met soveel empatie oor ’n onderdorpse gesin dat jy onwillekeurig ingetrek word in hul lewens.

Die Hartsliefs woon aan die verkeerde kant van Brixton. Antie Engel is die sement wat die gesin aan mekaar vashou. Sy het haar vier broerskinders grootgemaak, na hul ouers se dood. Maar die ander broer se vier kinders boer ook by haar. Boonop bedryf sy ’n sopkombuis ook. Die Hartsliefs bestaan uit Elie, Rasmus, Basie en Poppie en die Lerms is Boela, Sampie, Moks en Lottie. Dot, Elie se eertydse vriendin kon net sowel familie wees.

Basie word op ’n bisarre wyse vermoor deur die loodgieter, Lood, nadat Basie betrokke geraak het by die onderwêreldse boef, Bogdan Petrescu se minnares. Lood is nie sommer so ’n moordenaar nie. Hy is weliswaar verslonsd en lyk dalk afgeleef, maar hy luister na saksofoon jazz, drink tee en dra ’n fedora. Hy speel ook die saksofoon vir sy vyf honde op sy afgesonderde hoewe. Die Hartsliefs en Lerms se lewens word omvergewerp deur Basie se dood. En hulle soek antwoorde. Wanneer die polisie-ondersoek na Basie se moord nie vorder nie, besluit Elie om self in te spring. Elie, die respektabele meneer Hartslief, het ontsnap uit Brixton. Hy is mnr. Morkel van van Morkel Wealth in Sandton se regterhand. Sy nuwe posisie in die lewe maak dit vir hom moontlik om onafhanklik ondersoek in te stel na die omstandighede rondom Basie se dood en om al die Hartsliefs te help om hul lot te verbeter. Sy ondersoek krap ’n muisnes van onwettighede oop wat stelselmatig deur die verhaal ontvou en wat Morkel en Wanda (Elie se vriendin en Morkel se dogter), asook elke Lerm en Hartslief daarby insleep. Geweld, moorde, geldwassery en allerlei ander skelmstreke is aan die orde van die dag.

Karstens se keurige taalgebruik skilder geloofwaardige tonele wat jy voor jou sien afspeel. Sy fyn humorsin maak hierdie boek ’n plesier om te lees, ten spyte van die ernstige sosiale kwessies wat aangeraak word. Boonop is daar ’n verrassende einde waar Elie en Lood mekaar uiteindelik in die oë kon kyk en ’n paar situasies kon uitklaar. Die Respektabel Meneer Hartslief (Human & Rousseau, R220) is ’n juweel vir lesers wat hou van spanningsverhale waarin daar baie kinkels is.

FOTO: Verskaf FOTO: Verskaf

Hoe het jy aan die titel van die boek gekom?

Elie Hartslief is die witskaap wat uitstyg uit ’n familie van swartskape; hy het, soos ons almal, drome om ondanks sy armoedige agtergrond en omstandighede ’n sukses van sy lewe te maak. Hy kry dit aanvanklik ook reg om in die geldwêreld van Sandton ten minste uiterlik van gedaante te verander en ’n “meneer” te word – voor sy nuwe lewe dan weer begin verkrummel.

Die Hartsliefgesin is ’n disfunksionele klompie karakters. Waarom oor mense “van anderkant die spoor” skryf?

Ek dink hulle is kleurryke karakters wat terselfdertyd tog maar ook dieselfde behoeftes, drome en emosies ervaar as enige ander mens wat dalk gelukkiger is om in ’n meer gegoede familie ingebore te word. Hierdie Hartsliefs en Lerms is miskien van die “verkeerde kant van die spoor”, maar dit gee ander mense nie die reg om hulle te vinnig te beoordeel en veral te veroordeel nie.

Elie – waar kom die inspirasie vir sy karakter vandaan?

Elie is ’n bleeksiel wat uitstyg en in die proses ook sy familie (en gemeenskap) se lot probeer verbeter. Hy is dalk in mate verteenwoordigend van baie van ons eie aspirasies, en ook die teenpool van die gierige Morkels van Sandton vir wie selfverryking en ’n blink lewe die hoogste doel is.

Daar is ’n hegte band tussen die Hartsliefs en Lerms al woon hulle in ’n minder gegoede buurt. Elie het hard gewerk om homself uit sy eenvoudige omstandighede te verplaas na ’n rykmansbuurt. Ten spyte daarvan keer hy keer op keer terug na sy wortels. Waarom?

Elie besef dat hy gelukkig was om oorerflik bietjie van die room van sy familie se vlak gene-poel af te skep en toe hy die geleentheid kry om sy merk te begin maak in die wêreld van groot geld, is dit net natuurlik en in sy aard om sy nuwe materiële welvaart in sy familie en gemeenskap terug te ploeg – veral aan sy sopkombuis-antie wat soveel vir hulle opgeoffer het. Ook is daar die knaende vertwyfeling in sy hart of hy die regte ding gedoen het om sy Brixtonse liefde te verruil vir sy Sandtonse liefde.

Jou aandag aan detail met die skep van kleiner karakters is steeds genuanseer. Weet jy met die aanvang van ’n nuwe boek reeds wie al jou karakters is, of meld daar soms een hom tydens die skryfproses aan?

Ek probeer my karakters vooraf taamlik goed bedink, maar soms gebeur dit tog dat ’n nuwe karakter met die verloop van die storie opduik, of dat ’n aanvanklike randkarakter skielik meer lyf begin kry. Dit gebeur selfs dat ’n karakter vir wie ek baie hoop gehad het, nie regtig uit die verf wil kom nie, en dan moet hy/sy maar agterweë gelaat word omdat so iemand later net ’n onnodige stremming op die storie kan plaas – “murder your darlings”, is Quiller-Couch se wysheid van honderd jaar gelede en vandag nog ewe geldig.

Lood is ’n baie enigmatiese karakter. ’n Boosaard in die ware sin van die woord wat die fyner dinge in die lewe waardeer. Wat het jou geïnspireer om hom so te skep?

Soos Elie verteenwoordigend van die goeie in ’n mens is, is Lood verteenwoordigend van die bose. Maar ek glo dat daar selfs in die mees bose mens ’n speldekop van goed verskuil kan wees, en as dit vroegtydig raakgesien en bearbei word, is daar redding vir so iemand. Niemand het die goeie in Lood raakgesien nie en hy het onredbaar geword. Maar ons, die lesers, kry tog as’t ware agter die skerms ’n vlugtige en persoonlik blik op Lood se afgesonderde lewe: sy liefde vir sy saksofoonmusiek en sy liefde vir sy honde. Soos iemand ’n slag opgemerk het: Iemand wat vir diere lief is, kan tog nie regtig so boos wees nie. Die leser moet maar self oordeel.

Daar is dikwels musiek in jou boeke – watter rol speel musiek in jou lewe?

Ek is lief vir musiek en gebruik dit graag om ’n karakter se gevoelslewe toe te lig – en miskien te suggereer dat selfs die wreedste boosaard ontvlugting kan vind in die skoonheid van musiek, soos Abel in viool en Lood in jazz. Ook luister ek graag na sulke musiek wanneer ek oor so ’n spesifieke karakter skryf, asof dit my help om sy kop beter te verstaan.

Die temas in hierdie verhaal is baie kompleks en lewer sosiale kommentaar op vele aktuele aspekte van die samelewing: swak speurwerk deur die polisie, kuberboelie, selfies, die onderwêreld waaruit baie geld gemaak word, geldwassery en fluitjieblasers. Hoe kom jy by hierdie temas uit en hoe wyd doen jy navorsing daaroor?

Ek dink my joernalistieke agtergrond speel ’n rol om in my skryfwerk sekere aktuele temas aan te haak by karakters wat hulle daartoe leen. In hierdie geval is daar ’n mate van kritiek op die polisie wat onlangs weer van die regbank af van swak ondersoekwerk beskuldig is, tieners wat tot selfmoord gedryf word deur kuberboelies, Ponzi- en piramide-skemas waarin liggelowige beleggers al hulle geld verloor, ensovoorts. Om hierdie temas geloofwaardig aan te raak, verg baie navorsing en gee dikwels ook vir myself ’n duideliker kykie in obskure wêrelde.

Hoe werk jou skryfproses? Plot jy die verhaal vooraf uit?

Ek gebruik gewoonlik een of meer interessante of eksentrieke karakters as invalshoek en probeer dan ’n plot en storie om hulle opbou. Die moordenaar is ook dikwels van die begin af aan die leser bekend, wat my dwing om die elemente van spanning op ander terreine te plaas as in die tradisionele plot-gedrewe “whodunit”.

Waarom is jou verhale oor Suid-Afrikaners en speel dit af in Suid-Afrika?

Ek skryf in Afrikaans en die lesers van my boeke is Afrikaans, daarom is dit belangrik dat ook my karakters binne bekende Suid-Afrikaanse (en Afrikaanse) ruimtes dink en optree.