Christiaan Bakkes is sinoniem met Stoffel Matthysen. Dié karakter het in 1998 sy opwagting gemaak in Bakkes se eerste roman, Die lang pad van Stoffel Matthysen.

Hierin het Stoffel eintlik maar Christiaan se eie verhaal vertel, en later het Stoffel sy avonture voortgesit in die kortverhaalbundels wat verskyn het. So het lesers bekend geraak met al sy avonture wat in die wildernis afgespeel het. In Bakkes se jongste boek, Krokodil aan my skouer (Human & Rossouw, R190) begin hy by die begin. Hierin vertel hy van Stoffel se lewe as kind. Skool en studeer was nie sy sterk punt nie en hy was telkemale in die moeilikheid. Ook was hy bietjie van 'n alleenloper, maar tog wou hy iewers hoort. Hy gaan saam met 'n vriend veld toe en daar besef hy, dís waar hy hoort. Maar eers is daar sy verbroude filmstudies, voordat hy besluit hy wil natuurbewaring studeer. Wonder bo wonder vaar die uiters middelmatige student heel goed met sy studies in natuurbewaring.

'n Deel van die boek vertel van Bakkes se ervaringe in die weermag, toe hy sy grensdiens in die Wes-Caprivi moes doen. Dit het in hom die verlange ontketen om eendag  in daardie ongerepte wildernis te wil werk. Eers loop sy lewe ‘n paar ander draaie. Maar dan word sy arm in die Krugerwildtuin deur 'n krokodil afgebyt. Nà sy herstel ryloop hy deur Afrika. 'n Saamrygeleentheid deur Kaokoland skep 'n toevallige ontmoeting met die direkteur van 'n bewaringsorganisasie wat daartoe lei dat Bakkes uiteindelik in Damaraland beland, waar hy veldwagters oplei. Maar dan raak die geld op en hy beland noodgedwonge in die toerismebedryf as 'n safarigids. Deesdae 'n internasionale bekroonde safarigids. Die werk bring hom weer nader aan natuurbewaring en so voltooi Stoffel die sirkel. Dis 'n boeiende vertelling wat sonder frilletjies en valletjies geskryf is. Bakkes se menslikheid beïndruk. Hy eindig sy boek so: “Só voltooi ek die kring. Ek kom terug na waar ek begin het. Ouer en wyser, en met net een arm”.

Christiaan Bakkes en sy hond, Tier. Christiaan Bakkes en sy hond, Tier.

In Bakkes se kortverhale het lesers bekend geraak met sy hond, Tier wat hom oral vergesel het en meegemaak het aan die avonture. Christiaan het laat weet: “My hond, Tier is deur 'n springbok deurboor. Hy het dapper en waardig gesterf.”

Vanwaar die titel, Krokodil aan my skouer?

Daar is al baie geskryf oor die krokodil aanval. Dit neem 'n sekondêre plek in die roman in. Die titel gaan maar meer oor die bagasie wat ons saamdra.

Is dit vir jou makliker om as “Stoffel” te skryf, want as jy as outobiograaf skryf, sny dit te na aan die been?

Stoffel het 'n gerieflike buffer geword. Hy stel my in staat om myself van die storie te distansieer. Deur hom mag ek ook die waarheid manipuleer. Met my kort verhale was dit nodig om fiksie uit werklike gebeure te skep. Ek en Stoffel loop 'n lang pad saam.

Waarom skryf jy eerder as Stoffel en nie as Christiaan nie?

Hierdie roman gaan hoofsaaklik oor 'n jong veldwagter se vormingsjare. Die lesers het hierdie veldwagter leer ken in Die Langpad van Stoffel Mathysen. Met my eerste boek was die krokodil wonde nog rou. Ek wou afstand skep. Stoffel het met die ander boeke gegroei en bekend geword. Krokodil aan my skouer is eintlik die begin-verhaal. Hoewel dit nou makliker is om oor myself te skryf, het ek steeds besluit om Stoffel as my anti-held te behou.

Waarom wou jy hierdie boek skryf?

Daar was nog om te vertel. Wat beweeg 'n jongmens om 'n pad te kies? Watter invloede speel 'n rol? Wat laat 'n stadsjapie die wildernis kies? Die omstandighede waarin mens groot word, het baie daarmee te doen. Die tyd in ons geskiedenis was ook van groot belang.

Hoeveel van hierdie boek is die waarheid?

Die boek is op dieselfde trant geskryf as Die lang pad. Dit is so outobiografies as wat my geheue my toelaat.

Het die gebeurtenis van die krokodil wat jou van jou arm beroof het, jou lewe eintlik rigting gegee?

Dit was 'n belangrike gebeurtenis wat ingrypend was. Dit het saam met belangrike lesse gekom. Ek moes my lewe oor begin. Dit was goed. Dit is twintig jaar gelede. Ek is anderdag deur Conde Nast Traveller aangewys as nommer sewe op hul lys van top-25 safari gidse. Nadat ek my arm verloor het, het mense vir my gesê ek sal nooit weer 'n veldwagter kan wees nie. Geregtigheid het geseëvier. Ek sou dit nie anders wou gehad het nie.

Voel jy soos 'n buitestaander?

Ek was my hele lewe 'n buitestaander. Dit is hoekom ek maklik in die wildernis aanpas. Ek ag die massas wat bo-op mekaar bly in die stede as onnatuurlik. Alles om hulle word besoedel en verdring. Die mens het sy kontak met die natuur en die wildernis verloor. So ook sy respek. Hy vernietig alles wat hy vrees. Daarom is die aarde in so 'n toestand.

Watter invloed het die Bosoorlog op jou gehad?

Dit was die mees betekenisvolle tyd van my lewe. Daar het so baie dinge gebeur wat my beïnvloed het. Ek het so baie van myself en van die lewe geleer. Soos die meeste ouens was ek teësinnig om te gaan. Toe ek twee jaar later huis toe kom, sou ek die ondervinding vir niks in die wêreld verruil nie.

Waar bevind jy jou deesdae en wat doen jy?

Ek is die veldwagter van die Palmwag-konsessie. Dit is 'n halfmiljoen hektaar van klipwoestyn waarin ons swartrenosters bewaar. Meeste van die tyd is ek op patrollie deur die wildernis. Ek doen nog safari's op aanvraag.

Wat hou jy in die bos?

Die vryheid en die wydheid van die wildernis hou my in die bos. Die avontuur en die opwinding. Die stilte van 'n woestyn sterrenag. Die harmonie waarin mens en dier nog lewe. Die feit dat dit wat nog oor is van die wildernis jaloers bewaar moet word. Dat daar bedreigde spesies is wat moet oorleef.

Skep jou boeke vir jou 'n platform om mense in te lig oor bewaring?

Bewaring vir my geskied op alle vlakke. Om daaroor te skryf en mense in te lig is ook 'n vorm van bewaring. Ek hoop dat my stories die jeug sal inspireer om bewaringsgesind te wees. Om respek vir die aarde te hê. Ek hoop dit inspireer selfs mense om hul lewens aan bewaring en die wildernis te wei. Ons is op 'n kruispad wat ons planeet aanbetref. Die mensdom moet sy houding verander.

Gaan ons die renosters vir die nageslag kan red?

Al wat ons kan doen, is om te verseker dat dit wat oor is op aarde in ons tyd nog daar is vir die volgende geslag. Renosters is op aarde vir 'n rede. Die mens het geen reg om hulle uit te wis nie. Ons het geen keuse nie. Waar is die avontuurlustige jongmans en -vroue wat bereid is om vir renosters te veg?

Waaroor is jy elke dag dankbaar?

Ek is dankbaar om elke dag in die wildernis te kan wees. Ek is dankbaar dat ek my gesondheid, sintuie, bene en meeste van my arms het om die wildernis te kan dien.

Het jy 'n hoogtepunt in jou lewe tot dusver wat jy wil uitsonder?

Daar is soveel opwinding en hoogtepunte in die wildernis. Die dag wat nog steeds vir my uitstaan, was toe ek en my teenstropereenheid 'n gedugte ivoorstroperbende in die ruigtes van die Wes-Caprivi vasgetrek het. Ons het hulle meedoënloos gejag. Ons het nooit tou opgegooi nie. Die stropers het 'n bloedspoor van vyftien dooie olifante agtergelaat. Die ivoor was kru uit die skedels geslag. Ons was vasberade, jonk en fiks. Mens leer baie van jouself in sulke tye.

Lees ook Christiaan se onderhoud oor Stoffel in Afrika.