Van waar kom jy oorspronklik? Pretoria, maar ek het laas in 1996 permanent daar gewoon.

Watter rugbyspan ondersteun jy? Is daar dan ander spanne as die WP in SA? Gelukkig kry ons rugby op satelliet-TV te sien.

Jy werk in toerisme? Dis my beroep. Vroeër het ek twee jaar lank tussen Engeland, Amerika en Skandinawië getoer, en van bouwerk tot kroegwerk gedoen.

Waar het jy al oral gewerk? Ek was langer as drie jaar in die Laeveld. Eers by die Sabi Sand-wildtuin en die Thornybush-wildreservaat en toe drie jaar by die Welgevonden-reservaat by Shibula Game Lodge. Alles het begin toe ek gehelp het om paaie te skraap in Sabi Sand. Van daar het ek gevorder van gids en volwaardige gids tot die bestuur - waar ek steeds moes paaie skraap!

Jy is nou by W Retreat & Spa op die Maledive-eilande?  Ja, sedert November 2007 as operasionele bestuurder. Ek sorg saam met my bestuurders en hul spanne dat alles vir ons gaste vlot verloop - van hul aankoms, etes, ontspanning, villas en die spa.

Voel jy soms afgesny van die res van die wêreld? Nee, wat. Ná al my jare in die bos is dit vir my niks snaaks om lang tye weg van alles te wees nie.

Dink julle ooit aan natuurrampe? Dis alles in die Here se hande. Van ons kant doen ons gereeld ontruimingsoefeninge vir brande en tsoenami's. Gaste en werknemers se veiligheid is die belangrikste.

Die ontwerp van die oord is luuks, fabelagtig en stylvol. Is dit ook omgewingsvriendelik? Waar moontlik, ja. Ons is streng oor energiebesparing. Ons ontsout ook seewater en herwin behandelde afvalwater vir besproeiing. En al die plastiek, glas en papier word geskei. Ons mariene bioloog gee gereeld lesings oor die seelewe en op snorkel-uitstappies leer ons gaste oor die belang van die koraalriwwe.

"W - warm, wonderful, witty and welcome" is jul leuse. Het jy 'n spesiale soort persoonlikheid nodig om daar te werk? Die W belowe ook whatever, whenever. As dít nie elkeen van ons se ingesteldheid is nie, sal ons nie suksesvol wees nie.

Coetzer Deysel

Interessante gaste, bekendes? Beslis. Ek wens ek kan meer vertel, maar ons gaste se privaatheid is belangrik. Mense moet maar self kom kyk!

Raak die wêreldresessie julle enigsins? Sekerlik. Die positiewe gevolg is dat ons baie krities kyk na elke afdeling van die onderneming. Ons maak seker alles gebeur so doeltreffend en ekonomies moontlik.

Kinders onder 13 word nie toegelaat nie. En werknemers se kinders? Dis meestal 'n taamlike jong groep wat hier werk. Ons leef heeltemal afgesonder van die gaste, so dis nooit 'n probleem nie.

Watersport is 'n groot deel van die oord se ontspanningsgeriewe. Is jy self 'n entoesias?  Ek was maar 'n man van die bos toe ek hier beland het, maar die see het gou in my hart gekruip en ek gryp nou vinnig 'n suurstoftenk en duik.

Het jy darem vrye tyd? So nou en dan het ek 'n tydjie af en gaan dan gewoonlik duik of seil.

Stokperdjies? Deesdae is dit duik, maar ek was nog altyd lief vir lees. Ek het al ál Wilbur Smith se boeke gelees, van hulle selfs drie keer.

Wat is die lekkerste van jou werk? As jy gaste groet en jy weet hul wildste drome is oortref. Die slegste is as dit aaneen reën. Ek voel so jammer vir gaste wat ver reis om ons paradys te kom beleef en dan kry hulle twee of drie dae net reën. Gelukkig gebeur dit baie min.

Is jy self 'n kritiese gas wanneer jy reis? Oor die algemeen, nee. Dis my wegbreektyd en dan probeer ek nie daarop fokus nie. Maar dit kruip so nou en dan in! Ek is mal oor Asië, een van die redes hoekom ek hier is. Ek gaan gereeld verder oos na Thailand en sulke plekke.

Mis jy SA? Natuurlik, elke nou en dan! Gelukkig het ek 'n ma wat mal is oor 'n telefoon – ek kry gereeld updates uit SA!

Wat is jou volgende doelwit? Dit los ek in ons Vader se hande. Hy lei ons waar ons moet wees.