Tog het Connie Luyt se skrywersloopbaan eers afgeskop in haar veertigerjare nadat sy ‘n kort skryfkursus by Unisa voltooi het. Sy spot: “Ek het laat begin. My van is nie verniet Luyt nie.” Haar verhale draai om mense en die verhoudings wat hulle het. Maar sy het ook ‘n voorliefde vir Afrika en daarom speel meeste van haar verhale iewers in ‘n land op dié kontinent af.

FOTO: Verskaf FOTO: Verskaf

Haar jongste boek, Meer as net een grens (Human & Rousseau, R195) draai om die intrige tussen ‘n klompie vriende, Alexa, Ben, Stefan, Isabel, Emma en Phil,  wat vir ‘n naweek weggaan en dan verdwyn Alexa onverwags en oënskynlik sonder rede. Almal se lewens word dan deurmekaar gekrap, want vriendskappe en lojaliteite kom onder die loep. Alexa en Ben speel die hoofrolle in die drama, maar die geheimsinnige Janus se rol in verwikkelinge moet nie onderskat word nie. Mens moet die verhaal enduit lees om die gebeure wat teen ‘n vinnige tempo afspeel met mekaar te konnekteer. Dis ‘n boeiende verhaal en jy kan nie anders as om ingetrek te word by die intrige nie.

Alexa is Connie se gunstelingkarakter in die verhaal, al wou sy tydens die skryf haar soms skud. Sy sê: “My karakters is altyd denkbeeldig, maar ek leen gewoontetjies wat ek dan aan karakters toedig. Ek baseer dit nooit op werklike mense nie, want ek is bang ek kom iemand te na.” Dit was vir haar ‘n meer intense verhaal om te skryf en sy het baie meer getwyfel daaroor as haar ander boeke. “Ek het meer getwyfel oor hierdie verhaal, want ek was so bekommerd ek kry nie oorgedra wat ek wou sê nie.”

Het jy hard gewerk aan hierdie boek?

Nogal. Ek wou nog altyd ‘n storie geskryf het oor ses karakters, drie pare wat saam weggaan en dan verdwyn een. Oor die interaksie of  die hele wêreld van die ander vyf, hoe die weggaan hulle affekteer. Ek het dit so geskryf, maar ek het die verhaal so geskryf dat elkeen van hulle tog ‘n verbintenis het met Alexa. Maar die storie het nie heeltemal gewerk nie, daar was te veel toevallighede. Toe het ek dit oorgeskryf en later weer ‘n keer oorgeskryf. Ek het nogal baie intens met die karakters saam geleef.

Hoe het die storie vir jou begin?

Ek wou baie graag iets skryf oor die Grensoorlog. Dit was iets wat ek wou navors, want ek wou dit self verstaan. Ek wou ook verstaan watter effek die Grensoorlog gehad het op die mense na die tyd, omdat daar eintlik aan ons so min openbaar is en omdat daar nooit regtig enige hulp vir daai ouens was wat deel daarvan was nie. Daar was nie werklik ‘n ‘debriefing’ of so iets nie. Dit was my aansporing. En dan was daar die twee karakters wat ek wou gebruik, Alexa en Ben. Maar die storie het gegroei saam met die karakters. Dit klink altyd so ongeloofwaardig as mens sê die karakters het my gelei, maar dit was regtig so.

Het die karakters jou verras?

Beslis. Toe ek skielik dink dat Alexa ‘n baba gehad het – dit was vir my ‘n verrassing. Ek het dit nie van die begin af so beplan nie.

Hoe het jy aan die titel van die boek gekom?

Grens is vir my ‘n woord vol fasette, want dit beteken baie dinge. Dit beteken skeiding; dit beteken afstand; dit beteken ook omraming, beskerming en beveiliging. Dit beteken natuurlik ook om te huil. En dit beteken ook om op ‘n drumpel te staan, op ‘n grens van iets wat jy oorsteek. Ek wou graag met die titel wys dit gaan nie net oor die oorlog nie. Dit gaan oor die grense tussen mense en die grense wat ons eintlik almal om ons trek.

Hoe het jy die navorsing oor die Grensoorlog aangepak?

Die hele ding het begin jare gelede toe ek ‘n praatjie by die biblioteek gereël het met genl. Jannie Geldenhuys wat kom praat oor sy boek oor die Grensoorlog. Daar het mans van heinde en verre gekom. Ons het ‘n vol saal gehad. Ek het langs hom gesit en gekyk na hierdie mans en die intensiteit waarmee hulle geluister het. Ek het skielik besef ek verstaan nie waarom die mans so aan sy lippe gehang het nie en ek wou weet. My seun was self daardie tyd in die weermag en hy is ook Grens toe. Ek het toe begin oplees en boeke uitgeneem. Hulle sê mos na elke oorlog moet ‘n periode van sowat 15 jaar verloop voordat mense genoeg afstand het om daaroor te praat.  Skielik was daar nogal ‘n taamlike hoeveelheid boeke oor die onderwerp.  Dit was asof die oorlog na my toe gekom het. Skielik was die koerante vol; dit was in die tyd van Boetman. Ek het baie gelees, met mense gepraat en lank steeds niks verstaan nie. Ek dink dis baie moeilik vir ‘n vrou om te lees van taktiese bewegings. Ons gaan meer op die emosionele in, maar ek wou verstaan hoe en waar hulle wat gedoen het. Eendag in ‘n koffiewinkel luister ek hoe twee mans gesels en ek hoor twee name wat ek herken, Mavinga en Lomba. En die kaart spring op in my kop en ek besef ek weet wat daar gebeur het en ek weet waarom die plekke en die veldslae belangrik was. Toe dink ek, dalk kan ek nou begin skryf. Ek het met baie groot huiwering geskryf. Dit was nogal vir my ook grensverskuiwend om so onderwerp aan te pak en te probeer om dit uit ‘n man se oogpunt te vertel.

Was dit moeilik om die spesiale band tussen Ben, Stefan en Phil te skep en elkeen sy eie stem te gee?

Dis moeilik as skrywer om jou eie stem terug te hou, want mens is altyd bang dit klink soos jyself wat praat.  Maar ek het nogal my verbeelding gebruik. Ek het vir ‘n paar mans gevra of ek die scenario’s geloofwaardig uitgebeeld het. Hulle het gesê daar is inderdaad ‘n besonderse band tussen mans as julle so iets soos oorlog saam deurgemaak het. Dit maak nie saak of julle mekaar vir 20 jaar nie gesien het nie, maar as julle mekaar weer raakloop, is die band weer daar. Ek het aanvanklik vir Stefan baie anders beskryf, want Stefan het eintlik die swaarste gekry. Ek het nie van hom gehou nie en toe het ek aan hom geskaaf en hom bietjie meer van ‘n grapjas gemaak, en iemand wat ‘n front voorhou, maar wat nog steeds swaar gekry het.

Daar is baie geheime in die verhaal, waarvan heelwat met politiek verband hou. Is dit ‘n onderliggende tema in die boek?

Definitief. Dis ook een van die dinge wat my verras het. Ek wou nie regtig oor politiek skryf nie, maar dit het net gebeur. Dis maar dinge uit die verlede wat my aangespreek het en wat ek graag wou weergee. Die dood van Alexa se oupa en ouma het ‘n klokkie gelui met die dood van Robert Smit. Die dood van haar ouma-hulle het later gekom in die ontwikkeling van die verhaal. Ek wou van die begin af gehad het dat Alexa die woede of nie-verwerking van haar grootouers se dood gebruik teen die land. Sy kon nie ‘n gewone mens wees daarna nie. Sy moes uitstaan in ‘n rigting. Alles wat ek al ooit gelees het oor mense wat ingetrek word in die geheime diens is dat hul agtergronde so moet wees dat dit iemand is wat niks het om te verloor nie, en iemand wat half skade gely het. Daai mense is meer vatbaar.

Was Alexa se karakter vir jou helder van die begin af?

Ek het haar aanvanklik as klein van gestalte gesien. Maar toe het ek gedink dis nie reg nie, sy moet lank wees en sterk, maar steeds fyn. Ek het haar eers gesien as Audrey Hepburn, maar eintlik is sy meer soos Susan Sarandon.

Is jy ‘n gedissiplineerde skrywer?

As ek regtig in die boek is, wens ek ek kon twintig ure ‘n dag skryf. Maar met ‘n huishouding is dit nie altyd moontlik nie. Ek is nie gedissiplineerd genoeg om elke dag te gaan sit en skryf nie. Veral aan die begin van ‘n verhaal, maar ek probeer om elke oggend te werk. Ek werk op ‘n rekenaar. Ek krap te veel dood om met die hand te skryf. Ek kan naderhand nie meer sien wat ek geskryf het nie. My studeerkamer front wes en dit word in die somer in die middag baie warm daar. Ek het agtergekom ek begin baie keer eers in Maart regtig in die patroon kom. Dit vat my nogal lank om ‘n boek te skryf. Hierdie een het amper twee jaar geneem. Ek tob lank. Ek hou vreeslik van die navorsing en kry soveel boeke oor die onderwerp en maak gedurig notas. Die karakters dink ek in my kop uit. Ek weet verskriklik baie van die karakters wanneer ek begin skryf. Wat ek wel doen,  is ek maak ‘n definitiewe tydlyn, sodat die karakters geloofwaardig is.

Is jy besig met ‘n nuwe boek?

Ek is bang om te praat oor iets waaraan ek werk, want ek is bang die energie rafel uit of dit verander. Maar ja, ek is besig om te lees en ek soek nou boeke oor Bechuanaland. Ek het al karakters, maar nog nie name nie.