Hoe het julle ontmoet?
By 'n jeugaksie waar ons uitgevind het ons studeer albei aan Wits. Craig is daarna byna dood in 'n motorfietsongeluk - ek het besef hy is die een vir my. Ná twee jaar het ons verloof geraak. Ná nog 'n jaar en my verpleegkwalifikasie is ons getroud. Craig het nog studeer. Ons was so arm dat ons net kon bekostig om in 'n omskepte motorhuis te woon!

Hoekom het julle dokters geword?
Craig: Ek wou op skool reeds een word - dis God se plan met my lewe. My skoolpunte was swak, ek moes eers 'n jaar van aptekerswese voltooi voor ek na medies kon oorskakel.
Rae: Ná tien jaar in verpleging was ek geroepe om 'n dokter te word. Craig was toe besig met spesialisopleiding en ons kon gelukkig saam studeer.

En nou?
Rae: Ek doen spesialisopleiding in snykunde by die akademiese hospitaal in Lusaka.
Craig: Ek bestuur ons welsynorganisasie, Mercy Flyers - van die administrasie en logistiek tot medisyne. My dagtaak sluit enigiets in van narkose, intensiewe sorg, akute medisyne of assisteer tydens operasies. As gekwalifiseerde kommersiële vlieënier vlieg ek dikwels kritieke pasiënte uit Zambië na spesialis- versorgingseenhede elders.

Hoekom juis dié werk?
Rae: Ek was voorheen in die oos-provinsie van Zambië en was geskok oor hoe min gekwalifiseerde spesialiste daar is. Daarom studeer ek verder. Goeie plaaslike basiese mediese dienste voorkom baie sterftes en gestremdhede.
Craig: Hier word narkose hoofsaaklik deur tegnici toegedien, eerder as deur medici. Dit gaan goed, gegewe die omstandighede en hulpbronne, maar beter opleiding en ondersteuning is nodig om lewensverlies te voorkom. Ek gee gespesialiseerde opleiding in die toedien van narkose.

Hoe oorleef julle?
Finansieel moeilik - ons moet geld verdien met deeltydse werk. Ons kry 'n bietjie hulp van die welsynorganisasie. Andersins het ons 'n goeie lewe hier!

Wat behels Mercy Flyers?
Rae: Ons vertel mense van die swak toegang wat landelike inwoners van Afrika tot gesondheidsorg het. Ons gee spesialis-sorg aan landelike hospitale en ondersteun sleutelpersoneel. Ons reis na afgeleë hospitale, lewer gespesialiseerde snykundige dienste en sien toe dat pasiënte op die pad na herstel is. Craig is as vlieënier en narkotiseur baie waardevol vir so 'n uitreikprogram. Ons werk nou saam met Flyspec (ortopediese en plastiese chirurge), Flying Mission (verskaffers van vlugte) en Health Help International. Mense kan meer te wete kom op ons webwerf, www.mercyflyers.org.

Raak julle soms depressief oor die stand van gesondheid in Afrika?
Maklik! Die gaping tussen ontwikkelde lande en onontwikkelde lande word groter. Ons wil gesondheidswerkers hier hoop gee, sodat hulle blý en bydra tot die welstand van hul eie mense.

Wat inspireer julle van Afrika?
Die weer en die wonderlike natuur- en wildlewe. Hier is 'n soort vryheid wat 'n mens net in Afrika beleef. Die gees van die mense is ongeëwenaar. Afrika is vir sterk mense wat kans sien vir uitdagings. As jy nog wonderwerke wil beleef, dan moet jy in Afrika woon en werk.

Hoe ontspan julle?
Ons hardloop, stap met die hond, swem en ry fiets wanneer ons tyd het.