13 Desember

Ek het vandag by die dokter gehoor een van my kankervriendinne is oorlede en ek is tot in my siel geruk. Sy was saam met my deur die hele proses, sy het langs my in die hospitaalbed gelê toe ons gegaan het vir die knopverwydering. Sy het altyd vertel van haar besige 5-jarige dogtertjie en hulle het ook, soos ons, haar herstel met 'n oorsese vakansie gevier. Sy was dan gesond, soos ek?  

Ek is baie bang, want wat maak haar anders? As dit met haar kon gebeur, kan dit mos met my ook gebeur. In 'n kwessie van minder as 'n maand het sy gegaan van 'n gesonde vrou tot haar dood.

Dit wys ons net weer, kanker is nie jou speelmaatjie nie, jy moet vir geen oomblik dink jy het dit oorwin nie.  

Ek moet myself aansê om weer dankbaar te wees vir elke nuwe dag wat vir my gegun is. Lewe vir vandag, lewe elke dag asof dit jou laaste dag is en moet niks as vanselfsprekend aanvaar nie.

20 November

Ek is alweer besig om my seuntjie se verjaardag te reël en ek onthou hoe swaar my gemoed was laasjaar hierdie tyd. Ek het geskryf dat ek die jaar verbywens sodat ek kan terugkyk en kan sê ek het dit gemaak. Wel, ek het dit gemaak!! Ons het dit gemaak!!
 
Dit voel of ek rondloop met 'n geheim binne in my, wat net ek weet. Net ek weet hoe moeilik dit was, net ek weet hoe siek het ek gevoel, en net ek weet hoe trots ek eintlik op myself kan wees.
 
Noudat ek weer hare het, kyk niemand meer snaaks na my nie, en dit voel wonderlik!!  I feel pretty, oh so pretty!!

29 Oktober

Elke drie maande word daar 'n inplanting in my maag gemaak om my hormoonproduksie te stop, tesame met dit drink ek ook elke dag 'n pilletjie om dubbel seker te maak my lyf maak geen hormone nie.

Die newe effekte wat ek kry is nie so erg nie, ek kry regtig baie hot flushes en sweet baie, veral in die nag. My lyf is vreeslik droog maar ek is minder geïrriteerd as voorheen en ek het nogal baie geduld met die kinders, so oor die algemeen is dit eintlik beter.  

Die slegte deel van dit is die droogheid, vaginale droogheid, en die verlies van vroulikheid. Ek voel soos 'n dit, nie vroulik nie, ook nie manlik nie, net soos 'n dit.  Ek probeer opmaak vir dit deur mooi aan te trek en te probeer om so vroulik moontlik aan te trek, maar ek voel lelik. My hare krul vreeslik, dit staan alle rigtings, ek is eintlik bly dit krul, ek het nog altyd van krulhare gehou, maar nou is dit moeilik omdat dit so kort is, kan ek nie veel met dit doen nie.

22 Oktober

Gedurende die tyd wat ek behandel is het ek heeltyd gedink ek gaan as ek klaar is so mooi na my gesondheid kyk, ek wil my eetgewoontes verander, meer vrugte en groente eet en meer oefen, ek is so bang die kanker kom terug.   

Miskien is ek te haastig, maar ek doen dit nie, ek word kwaad vir myself, ek eet net soos altyd, ek oefen niks, en ek probeer baie slaai en vrugte eet maar met die groente gaan dit maar sukkel. Wat gaan ek vir myself sê as die kanker terugkeer?

Ek kan myself seker tegemoetkom en sê ek is darem nog onder behandeling (al maak dit my nie siek nie) en daar is tog newe effekte soos diarree en moegheid wat 'n rol kan speel.  Ek maak middel-Februarie heeltemal klaar met medisyne en ek neem myself voor om die 1ste dag van Maart 2011 op te hou met sleg wees en werk maak daarvan om te begin oefen.

9 Oktober

Vandag is dit presies 'n jaar gelede wat ek gediagnoseer is met borskanker. Wat 'n jaar was dit nie!

Ek het soveel geleer van die siekte. Van hoe algemeen dit eintlik is, hoe meer en meer mense dit daagliks kry.

Ek het geleer van die behandeling, wat chemoterapie is, dat elke mens se kanker verskillend is en dat daar soveel verskillende chemoterapie-behandelings is. Ek het altyd gedink dit is maar dieselfde. Van bestraling het ek geleer dat dit nie so erg is nie. Dit is eintlik niks, en ek het geleer dat daar baie mense is wat nie weet wat die verskil is tussen chemoterapie en bestraling nie.  

Ons moet meer gesond eet, ek het geleer hoe belangrik mens se leefstyl is, groente en vrugte en oefening is baie belangrik.  

Ek het baie geleer van my verhoudings, my verhouding met my familie, met my kinders en seker die meeste met my man. Ek het geleer dat ek op hom kon staatmaak no matter what.

Ek het geleer van vriendskap. Die meeste van my vorige vriendinne het min of geen belangstelling in my herstelproses getoon nie. Ek het nuwe vriendinne gemaak, ware vriendinne.  

Geduld, ek het geleer van geduld. Ek is baie impulsief, en ek wil 'n ding nóú gedoen hê. Met kanker leer jy geduld, elke ding gebeur op sy tyd en daar is niks wat jy daar omtrent kan doen nie.

Maar ek het die meeste geleer van myself, en hoe sterk ek is. Ek het geleer om my kop op te lig en te maak of ek sterk voel. Vir my was dit belangrik om my lewe sover moontlik normaal vol te hou, ek moes mense in die oë kyk al was ek so verskriklik skaam om met die bandanas op my kop op straat te verskyn.

Ek vind dit nou nog erger want die lappies het eintlik mooi gelyk, nou is my hare net vrek kort en dun en dit pas my glad nie. Ek kry skaam skaam vir myself en ek word elke liewe dag weer van voor af ontnugter as ek in die spieel kyk. Ek probeer nog leer dat uiterlike mos nie saak maak nie, eintlik weet ek dit lankal maar dit is nie so maklik as mens heeltemal van alles wat jou vroumaak gestroop word nie.

As daar mans is wat hier lees sê asseblief vir jou kankervrou sy is mooi Sê dit sommer elke dag 'n paar keer. Nie almal kry in 'n leeftyd kans om sulke belangrike dinge te leer nie.

7 Oktober

Vandag, 3 dae kort van 'n jaar na my diagnose het ek die voorreg gehad om weer haarsalon toe te kon gaan. Ek het my hare gaan kleur want dit was so 'n ligvaal kleur en ek dink as dit donkerder is dan sal dit hopenlik bietjie meer opsigtelik wees.  Dit was sooo lekker, van die hare was tot die droogblaas, ek het elke liewe oomblik terdeë geniet. Waar die alewige gewassery my voorheen geirriteer het want dit vat so lank, was dit vandag vir my 'n voorreg om weer soos 'n vrou te voel. Wonderlik!

29 September

Mens raak stelselmatig gewoond aan die hare, hoewel ek geensins vir myself mooier begin lyk nie. Ek dink ek lyk baie lelik, en ek sukkel om dit te stileer. Ek het gel probeer, nou weet ek nie of ek dit moet plat maak of bietjie "spikey" of die nuwe deurmekaar-styl nie, als voel vir my so manlik. Maar iets moet ek doen? Nou maak ek dit maar so tussenin, half platterig, bietjie kantpaadjie, bietjie deurmekaar, ek dink elk geval niemand sien die styl raak nie want hoewel my kopvel toe is, is daar maar bittermin hare op my kop. Dit lyk of dit krul, en by my kroontjie agterop my kop staan dit nou regop. so ek dink ek lyk vreeslik. Maar ek weier om weer lappies te dra, dit is in elk geval te warm, ek gaan deurdruk.

Met my siel gaan dit baie baie goed. Na 'n jaar van emosionele wipplank ry, is ek uiteindelik weer myself, en ek is baie baie dankbaar vir als wat ek kon deurmaak, ek het soveel geleer. Skielik word daar soveel mense om my gediagnoseer met kanker. Of is dit net ek wat daarop ingestel is? .

20 September

Ek het vandag vir die eerste keer uit die huis gegaan sonder 'n lappie op my kop, ek voel vreeslik selfbewus. My hare is nog maar baie kort, en plek plek nog effens yl maar ek het besluit ek is so moeg vir die lappies en mense kyk in elk geval vir my of ek nou met of sonder die lappies loop, dit voel net vir my bietjie minder opsigtelik sonder die lappies want ten minste is daar nou hare op my kop. 

Ek voel steeds baie lelik, baie onvroulik.

31 Augustus

Ek het vandag iemand gebel wat onlangs uitgevind het sy het borskanker, die doel van die oproep was om haar bietjie moed in te praat. Vanuit die eerste hallo kon ek hoor dit gaan nie so maklik wees nie. Haar hele lewe het in duie gestort en sy voel totaal oorweldig.

Wat sê ek?

Sê ek dit is nie so erg nie, klink ek dalk onsensitief want dit is erg, dit is baie erg. Ek weet sy wil nie nou al die goeie dinge hoor van hoe gou die tyd verbygaan nie, sy is vrek bang. Sy gaan oor 4 dae vir 'n mastektomie. Ek het probeer om haar te oorreed om vir 'n tweede opinie by my dokter te gaan (dit is in haar dorp) maar dit klink ook verwaand van my want ek (en baie ander vroue) mag dalk dink sy is die beste borskanker-dokter in die land maar ander kan dalk van my verskil.  

Ek weet hoe confusing dit is, ekself het van een dokter na die ander gegaan en het my ouers en my man genooi vir 'n "vergadering" en het alles voorgelê, die voor en die nadele van al die opsies, en so het ons 'n besluit geneem, ek dink dit is so belangrik om meer as een opsie te hê. Jy is dit aan jouself verskuldig om soveel moontlik uit te vind, vra uit lees op en maak 'n ingeligte besluit!

Jy hoef ook nie binne 24 uur 'n besluit te neem nie, die kanker was waarskynlik al baie jare in jou lyf. Ons vroue is tog intelligente wesens, hoekom aanvaar ons als wat die eerste dokter vir ons vertel? Die moderne mediese tegnologie is wonderlik! Een van my borskanker vriendinne het die hele proses deurgemaak met "oogklappe" aan, sy het gevra sy wil nie te veel weet nie, sy raak verbouereerd, sy wil net weet wat gaan vandag gebeur en dan het sy een dag op 'n slag vrede daarmee gemaak. Ek is anders, ek wil als vooruit weet sodat ek kan beplan.

'n Juffrou by my kind se skool het ook so paar maande terug uitgevind sy het borskanker, sy het ook vir 'n mastektomie gegaan, die dokters het vir haar gesê geen verdere behandeling is nodig nie, ek wil haar aan haar skouers ruk en vir haar sê dat sy vir 'n tweede opinie moet gaan. Die meeste kankers kom terug, dan is jou borste verwyder so jy tel dit nie so gou op nie. Ek weet chemoterapie is skrikwekkend vir almal, maar as dit vir jou 'n verdere 5 of 10 jaar van lewe kan beteken is dit mos niks nie.

Hierdie een telefoon oproep het my laat besef ons almal verskillende wesens is wat borskanker op verskillende maniere hanteer, en dat my manier nie noodwendig altyd die regte manier is nie, ek kan net vertel hoe ek gevoel het en hoe ek dinge ervaar het, ek kan net vertel van dinge wat ek gesien het. Meer kan ek nie doen nie, maar ek het besef dat ek eintlik trots op myself kan wees, want nie almal kry iets goeds uit 'n slegte ding nie.

15 Augustus

My hare wil nie groei nie! Dit voel vir my asof dit net niks groei nie, en ek is nou moeg gewag. Ons was oorsee met vakansie en dit was verskriklik warm en ek lyk vir myself so simpel op elke foto met die lappie op my kop.

Omdat ek so goed voel, vergeet ek amper van die kanker dan is dit asof dit weer van voor af terugkom as ek myself sien. 

13 Augustus

Vandag kry ek my laaste bestraling en dit voel vir my of ek dit van die dakke af kan verkondig. Ek is so verlig dat hierdie fase klaar is. Vanoggend dink ek terug aan die dag toe ek gehoor het dat ek beslis bestraling moet kry en hoe swaar my gemoed was. As die dokter sou vra dat ek moet kies tussen bestraling en nog 'n kursus chemoterapie is ek amper seker ek sou chemoterapie gekies het want dit was vir my bekend. Ek het nie geweet wat wag vir my by die bestraling nie en ek het soveel verskriklike stories gehoor. .

Dit was 'n ervaring wat vir my weereens laat besef het hoe dankbaar ek kan wees. Daar is soveel pasiente wat regtig regtig siek is, ek was dit nie gewoond nie want by die borskliniek het meeste vroue borskanker en lyk hul relatief gesond. Hierdie mense kom dag na dag vir hul bestraling en hulle groet elke dag met 'n groot glimlag op hul gesigte, hulle kla nooit nie.

Die dames by die Clinton bestralingseenheid was ongelooflik vriendelik en dit is iets wat my altyd sal bybly.

My bors lyk net soos altyd net bietjie rooier. Die ergste van die bestraling is die tyd. Ek het nooit genoeg tyd om als te doen wat ek regtig wil doen nie en die bestraling het 'n groot hap uit elke dag gevat, maar as jy vroegoggend gaan dan werk dit beter. Dit is nie seer nie, dit is net soos xstrale. Ek voel vandag lus om 'n bottel sjampanje te koop en te celebrate!

5 Augustus

Soggens vroeg wanneer ek op pad is na die bestraling (ek het gesien dit werk beste as ek vroegoggend gaan) dan sien ek elke oggend die son opkom. So pragtig.

Vir my is dit elke oggend besonders en simbolies, ek is op pad na iets wat vir my 'n nuwe begin gaan beteken.

Ek is kankervry en ek gaan so bly. Ek het die laaste maand nie myself gevoel nie, ek het gevoel soos iemand wat niks beteken nie, want ek kry net niks gedoen nie, als draai om my bestraling en die behandeling en ek was al so moeg daarvoor.

Maar ek het 'n besluit geneem, ruk jouself reg Minette, begin beheer neem. Ek het besluit om ten eerste bietjie gewig te verloor, want ek was 'n paar kilo's oorgewig, en wanneer mens in elk geval lelik voel, help dit glad nie as jou broeke stywer sit nie, ek wil in elk geval my leefstyl verander om seker te maak die kanker kry nie weer vatplek in my liggaam nie, so ek sal sê dit is eerder slegte gewoontes afleer as diëet as sulks.

Ek lag meer en skree minder op my kinders en ek probeer elke dag minder oor die klein goed te bekommer. Ek raak weer opgewonde, nog net 7 bestralings dan is dit vir altyd klaar, my bors lyk pragtig, my vel is elke middag effens rooi maar in die oggend lyk dit weer soos altyd. Ek hoop dit bly so.

26 Julie

Vandag is die 3de week van bestraling klaar en ek kan nie glo die tyd het so vinnig verby gegaan nie. Ek voel goed, my bors is gevoelig binne in maar ek sien geen verskil op my vel nie. 

Die hokkieseisoen het begin en ek loop nou soveel ma's raak en ek moet amper daagliks aan iemand verslag lewer van hoe dit met my gaan. Ek besef net weereens hoe bevoorreg ek is! Vir party mense klink dit seker baie maar ek het net nog 10 doktersbesoeke oor voor die hele proses verby is!

Dit is ongelooflik om te dink waardeur ek alles is en hoe ek verander het die afgelope 10 maande. Soms voel dit vir my of ek buite my lewe staan. Een ding van kanker wat ek kan uitsonder behalwe die onvoorspelbaarheid is dit feit dat ek baie alleen voel, al het ek soveel mense wat omgee en belangstel is dit steeds net ek en die kanker. Niemand weet hoe ek voel nie, soms weet ek self nie eers hoe ek voel nie.  

My hare groei só stadig, dit is sulke 1mm lange klein stoppeltjies en dit is nog baie yl, ek merk darem elke dag op dat dit digter word, maar dit vat heeltemal te lank na my sin. 

Ek is bang vir die volgende 3 weke van bestraling want dit is wanneer jou vel begin pla, jy mag glad nie water op die area kry nie, ook nie parfuum of rome of enigiets aansmeer nie en so min as moontlik wrywing aan die area kry. Ek probeer so ver as moontlik die reëls nakom en ek hoop ek is een van die gelukkige dames wat geen newe effekte toon nie.

7 Julie

Ek voel vandag sommer net huilerig, ek weet almal sê dat dit normaal is om sulke dae te beleef, ek het net altyd gedink ek het nie nodig om so te voel nie, my omstandighede is anders, ek is dan so bevoorreg.

Maar ek kan dit net nie help nie, met die bestraling is my dae so dol, ek jaag van een punt na 'n ander net om betyds orals te kan wees en dan het ek eintlik niks produktiefs vir die dag gedoen nie.    

Ek weet dit was my keuse om 'n onkologie eenheid te kies wat ongeveer 'n 3/4 uur se ry van my huis af is, net omdat hulle beter is as ons plaaslike eenheid, maar ek het nog net 3 bestralings gehad en ek is seker ek gaan doodmoeg wees aan die einde van hierdie 6 weke.

Veral met die skole wat begin volgende week. Ek sal net op  my tande moet byt en deurdruk. Die bestraling het beslis alreeds 'n effek op my bors, na 3 sessies is my vel reeds rooierig en my bors is gevoelig, ek wonder hoe erg gaan dit word.

5 Julie

Nuwe hare, nuwe begin.  

Ek het vandag vir die tweede keer my hare afgeskeer, en vandag was dit sonder die trane, vir my was dit simbolies dat ons nou klaar is met nog 'n fase van hierdie proses.  Ek het gedink ek was baie gelukkig, my hare het vir 'n hele lang ruk nie uitgeval na die rooi chemo nie en ek het gedink net dalk gaan dit nie uitval nie (wishfull thinking), maar na hierdie laaste chemo het hulle als sommer so op een slag uitgeval en net so 'n paar ou yl krullerige haartjies oorgelos.  

Nou is dit af en ek weet die nuwes wat gaan uitkom, gaan vir altyd wees, en ek gaan hulle soos goud oppas.

25 Junie

Die radioloog het my geskakel en gevra dat ek moet kom vir die scan. Ek is heeltemal oningelig wanneer dit by bestraling kom en dit was vir my interessant om meer te leer oor die bestralingsproses.  

Heel eerste gaan jy vir 'n scan, die masjien lyk vir my baie dieselfde as die PET scan s'n, jy lê op 'n bed met jou arms bo jou kop en dan beweeg die bed in en uit 'n groot tonnel, dit is nie seer nie, net effens ongemaklik want jy mag glad nie beweeg nie en jy moet onthou presies in watter posisie jy gelê het want jy moet elke keer in dieselfde posisie lê, dan maak hulle merke oor jou lyf met 'n permanent marker en as hulle seker is oor als maak hulle gaatjies in jou lyf waar hulle dan ink insit om permanente tattoo's te laat sodat hulle kan seker maak die masjien bestraal elke keer op dieselfde plek.

Dit was effens seer, soos inspuitings. Die merkies is sulke klein swart kolletjies. Nou wag ons vir die mediese fonds se goedkeuring en ek behoort dan binne die volgende 2 weke te begin met die bestraling, elke dag vir 6 weke lank. Ek het sulke vreeslike stories al gehoor oor bestraling, en ek is nogsteeds glad nie lus vir dit nie, ek is bang hulle brand my, ek weet tyd is kosbaar en mens moet dit nie verby wens nie, maar ek wens ek kon vir die volgende ses weke net verdwyn.

15 Junie

Ek het vandag die radioloog gaan sien om reëlings te begin tref vir die bestraling en ek was sommer geirriteerd want ek is nie lus vir die bestraling nie, ek wil nie, ek wil dit nie doen nie.

Nadat ek met haar gesels het voel ek heeltemal anders, sy het aan my genoem dat ek regtig bevoorreg is om op die studie te kon wees, sy dink ek het fantastiese behandeling gekry en ek moet positief wees, dit is nie te sê dat die kanker gaan terugkom nie, dit is mos wat die studie wil bewys.    

In haar wagkamer was daar ook ander kankerpasiente, regtige siek mense en ek het net weereens met 'n ander oogpunt na die lewe begin kyk, want jy moet net hanteer wat jou kant toe kom. Ek dink spesifiek aan die mense wat ernstiger kanker kry, wat jaar in en jaar uit met hierdie siekte moet worstel.

Wat chemo op chemo kry, en jy is nie seker wanneer indien ooit die behandelings gaan ophou nie. En dan is hulle nog positief daarby. Ek dink met bejammering aan die mense wat nie eers behandeling kan kry nie, die wat te laat besef het daar is fout, en dan ook sommer in die algemeen dink ek aan die mense wat in hierdie bittere bittere koue buite moet wees. Ek dink aan my bediende wat in 'n sinkhuisie moet slaap en selfs ons tuinman wat vandag in hierdie vreeslike koue sy daaglikse loon moet verdien.

En ek kla omdat ek nie lus het vir bestraling nie, ek wat in my gemaklike warm kar na die luukse spreekkamers van die beste dokters in die land toe ry, wat net die beste medisyne kry, wat 'n man en familie het wat my bystaan, dan kry ek sommer skaam vir myself.

14 Junie

Uiteindelik is dit verby! Geen chemoterapie ooit, ooit weer in my hele lewe vir my nie! (Ek kan net daarvoor bid.)  

Ek wonder of dit 'n mens se liggaam is wat rebelleer teen die medisyne of is dit net "all in the mind" maar toe hulle net die drup in my arm insit en elke keer as ek nou nogsteeds net dink aan 'n drup in my arm dan maak my maag so 'n draai en ek word verskriklik naar en ek kry so bitter smaak in my mond.

Ek hoop ek hoef dit nooit weer te ervaar nie.

Ek moet nou weer die 1ste Julie begin met die Herceptin elke 3 weke en die Lapatinib-pille elke aand vir die volgende 8 maande, my laaste drup van Herceptin sal ongeveer 27 Februarie 2011 wees. Ek begin ook die eerste week van Julie 2010 met bestraling 5 dae 'n week vir ses weke lank, en ek voel glad nie lus vir dit nie, dit is vir my onbekend, ek weet nie wat behels bestraling nie en die stories wat ek omtrent dit gehoor het is nie als so mooi nie.

Maar nou ja, as ek sover al gekom het kan ek nie nou tou opgooi nie. Ek word kwaad vir myself want ek is nie positief nie, ek dink dit is omdat ek gedink het as ek klaar is met die chemo dan is dit tipe van als verby en dit is nie, ek het nog eintlik 'n lang pad om te stap voor als verby is, en ek wonder of als ooit regtig verby sal wees.

Ek is wel opgewonde omdat my hare nou weer gaan begin groei, so op 'n manier kry ek darem my lewe weer terug.

20 Mei

Ek het gevoel soos 'n stout kind wat op die grond kan neerval en skree en skree toe ek hoor my telling is te laag ek kan nie chemo kry nie, ek moet 'n hele week wag. 'n Hele week langer!  

Ek wou huil van teleurstelling. Ek het die dokter gesmeek, ek kan nie glo dat ek ooit in my lewe sou smeek om chemoterapie te kry nie, gelukkig het dokter ingestem dat ek twee dae later weer my telling herhaal en toe was die telling reg. Ek het Vrydag chemo gekry.  

Ek was vreeslik siek, het verskriklike hoofpyn gehad en kon net nie uit die bed uit opstaan nie. Ek het net geslaap en geslaap. Gelukkig het dit net so 4 dae lank so aangegaan en vandag voel ek weer amper heeltemal reg. Ek sukkel met my korttermyngeheue, ek kan deftinitief 'n verskil agterkom, ek dink dit is "chemobrain". Hulle sê dit sal weer regkom, ek hoop regtig so.

Ek skat ek is gelukkig as ek luister na van my vriendinne se newe-effekte, een se tande val uit en pyn, haar toonnaels word swart, dan weet ek ek is eintlik gelukkig.

My laaste chemo is geskeduleer vir die 3 de Junie 2010  en ek wil sê ek kan nie wag nie, maar ek weet nie of ek reg is nie, as ek net dink aan die drup in my arm dan maak my maag klaar so 'n draai, hierdie rondte was regtig vir my nogal erg.  Ek moet hard met myself praat, want ek MOET positief bly, nog net een om te gaan. Gelukkig het ek nog 'n hele paar dae om te vergeet hoe erg dit regtig was.

7 Mei

Dit voel amper onwerklik, ek gaan elke dag voort met die normale dinge asof daar niks fout is nie, so nou en dan word ek weer herinner dat ek nie normaal is nie, ek het kanker.  Ek voel baie goed, behalwe vir seer spiere is daar regtig niks waaroor ek kan kla nie, ek is eintlik ongelooflik bevoorreg, mens verloor nie net dinge wanneer jy kanker kry nie, daar is ook soveel dinge wat jy bykry, ek kan die volgende belangrikstes uitsonder.  

1. 'n Waardering vir die lewe: Jy weet dat jy kan doodgaan en as ietsie pyn dan wonder jy of die kanker nie versprei het nie, ek dink dit sal seker altyd so wees, so jy waardeer dit as jy gesond voel, jy kry jou saak met die Here reg, en jy probeer die beste van elke dag maak.  

2. Ware vriende: Ek het gemerk dat meeste van my vriende net mooiweersvriende was, baie min van hulle stel werklik belang in hoe dit met my gaan, baie min van hulle hou enigsins kontak nadat hulle gehoor het ek is siek. Daar is dan ook ander vriende wat baie belangstelling toon en wat nou uitstaan as ware vriende, ook die vrienskappe wat gevorm het tussen my en die ander wonderlike vroue wat almal ook saam met my die stryd aanpak teen borskanker is net ongelooflik.  

3. Familie:  Dit het altyd vir my gevoel of my familie nie regtig belangstel in my lewe nie, die jare het verbygevlieg en ek was altyd die een wat gereël het dat ons bietjie bymekaarkom, ek het altyd moedeloos gevoel want dit het gevoel of hulle my nie raaksien nie, maar deesdae is dit anders, ons is beslis nader aan mekaar.  

4. 'n Ware huweliksmaat:  Ek het gesien dat my man een uit 'n duisend is, soos hulle in engels sal sê "he stepped up to the plate". Ons is nou nòg nader aan mekaar. 

Op 'n ligter noot het ek ook nou geleer om te accesorize. Ek was altyd 'n Plain Jane, ek het nie van groot oorbelle gehou nie, ek het nooit iets op my kop gedra nie, ek het nie daarvan gehou om uit te staan nie, ek het selfs nie eers bont klere gedra nie, maar nou moet ek groot oorbelle dra want dit lyk beter saam met die lappies, ek het verskillende kleure lappies, een vir elke uitrusting, selfs bontes en ek dra meer grimering om die aandag van die lappies te probeer aflei. 'n Ander dame by die borskliniek sê noudiedag, hoe minder hare sy het hoe meer cleavage wys sy!  As vrou voel jy regtig glad nie meer mooi nie.  Ek kan nie wag om weer hare te hê nie, ek gaan so mooi lyk!

25 April

"One down - two to go".

Uiteindelik is die eerste rooi chemo verby en ek kan eerlikwaar getuig dat dit nie so erg is nie. Daar loop 12 sakkies vloeistof in jou arm in, en daar is geen twyfel dat jy kan voel daar is sterk medisyne in jou lyf nie, maar ek het nog nie eenmaal naar geword nie. Dit voel wel soos swangerskap naarheid, so mislike gevoel in jou maag, ek het amper permanent hoofpyn en 'n gesuis in my ore, en dit voel of elke spier in my bo arms en nek in spasma is. Ek gaan slaap baie vroeg saans en ek slaap die lekkerste slaap tot bietjie later as gewoonlik in die oggend, maar as ek eers op is dan gaan my dag voort net soos altyd.  

Ek tel die dae af tot my volgende chemo, want ek wil nou klaarkry, ek is nou moeg vir medisyne, moeg vir die lappies op my kop, moeg om moeg te wees.

23 April

Die dag het aangebreek, en nie sonder 'n hol kol op my maag nie. Ek dink nie ek was al ooit so senuagtig vir enigiets in my lewe nie. Ek kry vandag die "red devil". En ek weet nie wat om te verwag nie. Al die stories wat ek gehoor het oor hierdie chemoterapie het almal een gemene faktor: geen energie en slaperigheid.

Dit alleen is genoeg om my bang te maak, want ek kan nie net lê en slaap nie, ek het 3 kinders wat totaal en al afhanklik is van my vir hul daaglikse bestaan, en met die dat hulle skool gemis het, is dit absolute chaos tuis, en dan is daar nog al die buitemuurse bedrywighede. My man help baie, maar ons was vir 2 weke met verlof en dinge gaan dol by sy werk.

Behalwe die verpligtinge tuis is ek ook bang vir siekvoel, ek het nou vir 'n paar weke die voorreg gehad om relatief gesond te voel, en ek kom agter dat ek alklaar stil en teruggetrokke geraak het die afgelope paar dae, dit is maar my manier om dinge te verwerk.

Maar aan die ander kant is ek ook opgewonde om te begin, kan nie glo dit is sulke tyd nie, hoe gouer dit gebeur hoe gouer is ons klaar. Ek kan nie wag vir my hare om weer te groei nie.

26 Maart

Die operasie is verby en ek is nou amptelik kankervry!  

Die dokter het een klier onder my arm verwyder en dit het skoon getoets en hy is seker dat hy die hele area waar die kanker was verwyder het uit my bors want die rande het ook skoon getoets. Die weefsel is weggestuur vir mikroskopiese ontleding maar die uitslag sal geen verskil maak in my behandeling nie.

Die operasie was seer, maar my bors lyk nie veel kleiner nie.  Die sny onder my arm is die ongemaklikste want ek kan nie my kinders optel nie, maar dit gaan elke dag beter.

Ek is bly dit is verby, dit was iets waarna ek opgesien het. Daar is nou nog net een slegte ding wat voorlê en dit is die 9 weke van rooi chemo (red devil).  Ek behoort die week van 22 April met dit te begin, intussen gaan ons bietjie met vakansie.

My hare groei nou baie vinnig, dit is seker so 1cm lank, maar dit is sulke fyn ou effens gekrulde haartjies. DIt gaan alles weer uitval met die volgende chemo. Ek voel weer myself, ek is baie positief, en baie dankbaar.

19 Maart

Dit was met nostalgie dat ek die paadjie na die radioloog se spreekkamers toe gery het om die chirurg te ontmoet. Ek het gedink aan al die kere wat ons soontoe gery het, al die biopsies, ek onthou ook die dag wat die radioloog die nuus aan my oorgedra het dat dit kanker is, ek onthou alles en ek is so dankbaar dat ons al so ver in die proses is.  

Die radioloog het weer 'n sonar gedoen en daar is geen teken van 'n knop meer nie, dit het net weereens 'n vurige debat aangevuur tussen die dokter en die radioloog oor hoekom alle vroue nie eers besin voordat hulle gaan vir 'n mastektomie nie, as hierdie behandeling dan weer en weer bewys dat dit werk, hoekom volg alle dokters dan nie hierdie paadjie nie. 

JY HOEF NIE JOU BORSTE TE VERLOOR NIE!  

Terwyl ek wag om die chirurg te ontmoet, beleef ek saam met 'n nuwe jong pasient die hartseer om te hoor dat dit kanker is, ek sien hoe haar man haar probeer troos en ek weet, ek weet presies hoe sy voel, ek wil haar druk en vir haar sê hou moed, dit is nie so erg nie. Ek beleef saam met 'n ouer dame die trane van blydskap toe die chirurg vir haar sê dat dit net 'n vals alarm was, dit is nie kanker nie, ek kan nie help om te wonder of sy alreeds deur die proses is nie.   

Ek is dankbaar dat ek die voorreg het om al hierdie dinge te kan beleef en in my hart weet ek, ek is 'n beter mens as gevolg van borskanker.

14 Maart

Ek het die afgelope 2 weke baie sleg gevoel. Ek dink dit is dalk omdat ek verwag het om gesond te voel, en nou is ek gefrustreerd omdat dit so lank vat. Ek het omtrent 20 koorsblare op my lippe en binne in my mond, ek kon vir die afgelope week net met 'n strooitjie drink. Ek kon nie eet nie, een van die baie medisyne wat ek gekry het het my korneas uitgedroog, so ek sien 'blur" en dit irriteer my. Gelukkig was ek betyds by die oogspesialis, en dit sal met tyd beter word. My bo-arm spiere is verskriklik seer en ek hoor die hele tyd my hart klop in my ore, en ek is verskriklik slaperig.  

Ek sien Woensdag die chirurg om die operasie te bespreek. Ek is vrek bang.

22 Februarie

Laasweek by die dokter sit ek en gesels met 'n mede-pasient. Sy is self 'n dokter en sy reis baie ver om elke 3 weke na ons dokter te gaan vir chemo. Sy het in 1984 vir die eerste keer borskanker gehad, deur die hele proses gegaan, chemo, operasie en sy was skoon vir 15 jaar.

Nou is sy terug, weer borskanker in dieselfde bors. Dit het my weer opnuut laat dink. 'n Mens weet nie wat vir jou voorlê nie. 

Miskien is ek tè positief, miskien moet ek nie te ver vooruit beplan nie, die dokters het dan uitdruklik vir my gesê die tipe kanker wat ek het kom altyd terug, daarom moet ek deur soveel chemoterapie gaan en bestraling kry- als voorkomend. Wat as dit terugkom? Ek wil nie daaraan dink nie.

19 Februarie

My lyf wil glad nie meer saamwerk nie, waar daar gewoonlik net party dae was wat ek so flou gevoel het, voel ek nou elke dag flou.  Ek praat hard met myself en ek probeer hard, maar dit is 'n konstante ge-op en af.  

Nog net 1 taxol chemoterapie oor. Dokter sê ek is een van die top-20% wat die toloransie van chemoterapie aanbetref, en ek wonder of dit dalk is omdat ek 3 klein kindertjies het, ek kan net dooreenvoudig nie oorgee aan die moegheid nie.  

Ons gaan hierdie naweek bietjie weg en ek wonder hoe gaan ek in die openbaar swem met hierdie kaalkop van my, het gedink ek moet dalk vir my 'n swempet kry, of dalk maar met die lappies swem en net nie my kop onder die water druk nie? Sal maar sien hoe ek voel.  

Die operasie is geboek vir 23 Maart 2010, ek is bang vir die operasie. Ek is bang vir die volgende sarsie chemoterapie, maar ek is opgewonde om vir amper 2 maande van 25 Februarie tot 22 April sonder enige medisyne te wees. Ek wonder hoe gaan dit voel?  Ek wonder of die ou ek gaan terugkom?

9 Februarie 2010

My oudste dogtertjie van 9 jaar oud kom vandag hoogs verontwaardig van die skool af. "Mamma" sê sy "Iemand, iemand het vir die HELE skool gaan staan en vertel dat jy kanker het". By verdere ondervraging kom ek agter dat die kinders van haar skinder by die skool oor haar ma wat kanker het. Toe ek vir haar vra of sy dan 'n probleem daarmee het, sê sy ja. Hoekom? Sommer net omdat dit nie lekker is om die enigste een in die skool te wees wie se ma kanker het nie. Maar dit maak jou mos meer spesiaal, was my antwoord, maar nee, dit is nie goed genoeg nie, dit is sleg om 'n ma te hê met kanker as jy in die skool is en klaar. Ek moet tevrede wees met geen spesifieke rede nie.

Kinders is mos wonderlik aanpasbaar en dit het vir my gelyk of my siekte amper geen effek op hulle toon nie, maar hierdie paar woorde het my laat wonder of hulle nie tog baie swaarder kry as wat ek dink nie.

1 Februarie 2010

Net dit, en die trane is vlak in my oë. Ek bly net stil en voel jammer vir myself. Maar ek het dit nodig gehad, besef ek later. Mens verval maklik in 'n "arme ek"-groef. Ja ek is siek, ja ek voel nie lekker nie, maar dit is geen verskoning om mislik te wees nie. Ek haal my eie woorde aan, want ek sê dit baie vir my man as hy verkoue of so ietsie kry. Ek sê vir myself ek moet meer lag, ek mag nie myself verloor hierdie paar maande nie, ek mag net nie. Ons is nie 70 jaar oud nie, ons is jongmense met soveel om voor te leef. soveel om te geniet.

My man is so oulik. Hy raak bittermin ongeduldig met my, hy sê baie (nie genoeg nie) vir my ek lyk mooi, en hy toon geen verskil in hoe hy teenoor my optree in die openbaar nie. Hy probeer baie hard om te help in die huis en met die kinders. Ek wonder of die mans van die vroue wat borskanker (of seker enige ander kanker) het besef hoe belangrik hulle rol is. Ek besef gister weereens dat ek totaal afhanklik geraak het van my man. Hy is absoluut die rots wat ons gesin staande hou, as hy besluit vandag is nie 'n lekker dag nie, dan is ons hele huis omgekeer en ALLES loop verkeerd. Wanneer hy kwaad word vir my (ek dink dit is onvermydelik) dan wil ek net huil. Dan dink ek wat gaan aan met my? Ek is 'n sterk vrou en 'n man het my nog nooit so ontstel nie. Maar dit is asof hy die enigste iets waarvan ek verseker is op hierdie stadium in my lewe, en met my irritasievlakke is ek so bang ek jaag hom weg.

Vandag is die eerste dag van die laaste maand van Taxol chemoterapie, jippiieee!!! Hopenlik is dit die laaste Februarie maand in my lewe wat ek ooit sonder hare sal sit en siek voel.
25 Januarie 2010

Ek loop nou al twee weke met die lappies op my kop en elke dag verbaas die mense se reaksie my.  Elkeen hanteer dit anders. By die skool is daar hier en daar iemand wat met my sal praat en sal vra hoe gaan dit maar die meeste mense vermy my, of die onderwerp heeltemal. Ek vind die swart vroue in die winkels die meeste geinterreseerd in my, en hulle komplimenteer my amper daagliks. Ek skrik nog vir myself wanneer ek by 'n spieël of venster verbyloop.

Ek het nog net 5 weke van hierdie chemoterapie oor, ek kan nie glo die tyd het so vinnig verby gegaan nie. Dan rus ons bietjie, operasie en dan die "red devil" chemoterapie vir 9 weke. Ek vind dat ek alweer maak soos 'n volstruis wanneer ek dink aan die rooi chemoterapie, omdat ek gehoor het dit maak jou so vreeslik siek, is ek bang vir dit en ek probeer om nie daaraan te dink nie.

Die emosionele newe-effekte wat ek kry van die chemoterapie is vir my amper erger om te verwerk as die fisiese. Fisiek voel ek moeg, moeg, my vingers gebars, my lyf seer, maar dit alles kan ek hanteer. Emosioneel voel ek 'n hele bondel van dinge, amper elke uur ietsie anders, Dit wissel van uiterste irritasie tot swartgalligheid, maar ek dink dit wat ek die meeste mee sukkel is die skuldgevoel omdat ek so voel. Ek raas heeltyd met myself, want ek ken myself nie so nie. Dit voel of die medisyne my mal maak.

10 Januarie 2010

Al het ek soveel tyd gehad om voor te berei vir die dag wat ek my hare gaan afskeer was dit vir my een verskriklike dag. Ek het gedink as ek maak soos 'n volstruis, my kop in die grond druk en nie daaraan dink nie, dan sal dit sommer vanself regkom en ek was verkeerd.  Ek wil vandag in my hele hele lewe nie weer oor hê nie.

Vanoggend vroeg het my man my hare afgeskeer en ek het die prentjie van my twee dogtertjies se gesigte vir ewig in my kop geberê, die uitdrukkings van skok en hartseer.  Terwyl ons almal huil het my man dit so gou moontlik afgehandel en ek is kamer toe om te gaan kyk.  My man het dadelik vir my gesê dat ek vir hom pragtig bly dit was die regte woorde want dit is die eerste ding wat pla, is dat ek nie meer vir hom mooi is nie. Daarna het ek besluit dat ons moet mall toe gaan, ek het my pruik opgesit en lank gesukkel want die ding wil net nie reg lê nie.  Ek kan net dankie sê vir my wonderlike man, hy was so geduldig met my, ek het seker honderd keer sy opinie gevra oor die pruik. So is ons toe mall toe, ek het heeltyd gekyk na die mense se reaksie, ek wou sien of iemand weet dit is 'n pruik, maar ek kon nie rerig ietsie snaaks opmerk nie.  Ek het verskriklik ongemaklik gevoel, dit het gevoel of jy eers die pruik sien dan vir my, en die pruik het my gepla, dit is warm en styf en die mall was propvol, ons het almal raakgeloop wat ek in jare nie gesien het nie, en ek het nie geweet waar om my kop in te druk nie.  Ek het Woolworths toe geloop en vir my 'n lap hoedjie gaan koop en dadelik in die kar op pad huis toe het ek die pruik afgehaal en die hoedjie opgesit, wat 'n verligting!  By die huis het ek besluit om die lappie ding te probeer.  Ek weet nie hoe om die lappies te vou nie, maar ek het bietjie gespeel en dit reggekry.  Ons is uit vir middagete en ek het net met die lappie op my kop gaan eet en dit het goed gegaan. Hier en daar het ek gesien mense kyk na my, maar ek voel vol brawade en minder vals as ek die lappie op het, wanneer ek die pruik op het voel dit vir my of ek wegkruip. Ek het doelbewus na soveel plekke gegaan vandag om myself te toets, en ek sal dit vir almal aanbeveel want hoe meer jy uitkom hoe minder selfbewus raak jy.  Ek sal seker weer die pruik dra, as ons miskien na 'n deftige funksie gaan maar vir my werk die lappies beter.  

Dit is 'n beproewing want daar is baie mense wat nie eers weet ek is siek nie, ek dink nou spesifiek aan die ouers en onderwysers by my kinders se skool en ons bure. Die begin van die nuwe jaar bring weer atletiekbyeenkomste, netbal- en hokkiewedstryde en ek dink dit is baie belangrik dat ek gemaklik moet raak met myself, want ek kan tog nie altyd net by die huis bly nie, dan sal ek verseker depressie kry.

14 Desember

Met die eerste chemopterapie-sessie agter die blad kan ek nou beskryf hoe dit voel, dit voel of daar sement in my are is, alles is swaar en dit is lekker om te lê, maar andersins voel ek nie te sleg nie. My spiere is seer veral my nekspiere en my keel is seer, maar niks wat 'n pynpilletjie nie kan regmaak nie. Wanneer jy hierdie medisyne kry sit hulle gevriesde handskoene en kouse aan jou hande en voete om jou naels te beskerm en ek het gewonder hoe dit voel, dit is nogal ongemaklik maar nie regtig vreeslik seer nie. Voor jy jou oë uitvee, is hulle alweer gesmelt en die seer is weg. Ek dink dit gaan in die winter bietjie erger wees.

Wanneer 'n mens kanker kry, ek kan net van borskanker as vrou spesifiek praat, verloor jy baie dinge. Hier is 'n lys van dinge wat ek kan uitsonder:

JOU HARE: Iemand vra my nou die dag hoekom is dit die eerste ding wat pla. Ek dink dit is omdat almal dan kan sien jy is siek, en ek wil nie hê mense moet met ander oë na my kyk nie. Maar as my hare uitval, kyk almal skielik met bejammering na jou en ek wil nie bejammer word nie.

JOU ONAFHANKLIKHEID: Ek is baie onafhanklik, al van vroeg in my lewe af, ek hou nie daarvan om mense dinge te vra nie, nou moet daar elke Donderdag gereël word dat iemand my dokter toe ry, want ek kan nie self terugry na al die medisyne nie. Iiemand moet na my kinders kyk, want ons is gewoonlik heeldag weg.  My man moet my help met ons kinders, want ek het nie krag om ons seuntjie te lank op te tel nie. Daar is eintlik te veel om op te noem.

JOU SEXY-GEID: Ek voel glad nie meer mooi nie, ek kan nie eers dink aan sexy lyk nie, dit voel of dit vir altyd weg is. Ek is so bang my man gaan soek groener weiveld. Ek dink dit moet soveel erger wees as jy jou borste ook verloor het.

JOU SORGELOOSHEID: Niks kan beplan word nie. Na elke sin moet daar bygesê word: As jy oraait voel; dit hang af van hoe jy gaan voel. En ek is iemand wat hou van beplan, presies, elke dag elke week elke maand, ek hou van roetine. Ek dink ek is 'n "control freak". Dit gooi my verskriklik omver as jy skielik iets voor my deur gooi en ek het nie beplan vir dit nie, en ongelukkig met kanker kan jy niks beplan nie.

Hierdie Donderdag kry ek 'n dubbel dosis chemoterapie sodat ek die week van Kersfees kan rus.  Ek hoop ek gaan nie te sleg voel nie.

7 Desember

My seuntjie verjaar Vrydag. Ek kan nie glo hy is al 1 jaar oud nie, ek hoop die volgende jaar gaan net so gou verby dat ek volgende Kersfees sal terugkyk en sê "ons het dit gemaak".  Ek lees van tyd tot tyd my blog en dan word ek kwaad vir myself, want ek my dankbaarheid verloor, ek was so dankbaar dat ek nie 'n mastektomie hoef te kry nie, ek was net dankbaar dat ek nie gaan doodgaan nie! Nou kla ek oor alles.  

Ek het 'n hol kol op my maag, ek is verskriklik bang vir Donderdag, die dokter gee as 'n reël vir mens 'n kalmeerpilletjie voor jou behandeling sodat jy kan slaap vir die ongeveer 2.5 ure wat die medisyne neem om in jou arm in te loop. Ek sê gewoonlik nee dankie. Ek wil dit nie drink nie, want dit maak my verskriklik slaap. Dit is 'n wonderlike slaap, amper soos wanneer jy wakker word van narkose, maar dit maak my te moeg en dan voel jy ook die volgende dag nie heeltemal wakker nie, en ek hou nie daarvan om so te voel nie.

Donderdag-oggend gaan ek eers vir nog 'n PET scan om te kyk hoeveel kanker daar nog oor is, want ons kan niks meer voel nie, ek hoop dit is heeltemal weg.

27 November

Behandeling nommer 5 is verby en ek raak benoud. Daar is nog net 1 gewone behandeling oor dan begin ek met chemoterapie.  Hulle sê gewoonlik so na die 4de chemoterapie behandeling begin jou hare uitval. Dus sal ek tot so middel Januarie nog hare hê. Ek het nog nie 'n pruik nie. Ek het my wenkbroue en ooghare laat permanent inkleur, ek het vir 2 dae soos 'n baie verbaasde Sally Spectra van Bold and Beautiful gelyk. Vandag lyk ek weer amper normaal.

Ek voel nie lekker nie, my vingerpunte lyk soos wanneer jy te lank gebad het, soos 'n oumens s'n en dit bars oop. Die dokter sê dit is blykbaar normaal. Nou het ek 'n verskoning om nie skottelgoed te was nie, en ek is vrek moeg en baie baie geïrriteerd. Ek dink die hormoondingetjie begin werk want ek kry hot flushes ook, lyk my ek is tog soos my ma en skoonma!

Ek moet hard baklei want die swart gogga begin al hoe nader kom, ek voel skuldig omdat ek so lelik is met my kinders en kry myself baie jammer vandag.

18 November

Die 3de en 4de behandeling is verby en ek voel heel goed. Die knoppie het amper met die helfde gekrimp!  Ek kan voel my kragte raak minder, ek kan bv. nie 'n bottel koeldrank of purity bottels meer oopmaak nie. My man voel deesdae baie manlik, want hy moet als vir my oopmaak!

As ek my oë toemaak dan slaap ek, noudie dag in die fliek vang ek myself waar ek oopmond sit en visvang!  Ek wonder wat het die mense langsaan my gedink.

By die dokter het ek die wonderlikste mense ontmoet terwyl ek in die lazy boy sit en wag vir die medisyne om klaar in my arm in te loop. Ons praat oor alles behalwe kanker en dit is net 'n baie lekker kuier atmosfeer, dit maak jou amper uitsien na die volgende behandelingsdag, want vir daardie twee ure voel jy nie so alleen nie.

10 November

Soggens en saans wanneer ek bid dan sê ek dankie vir die Here vir al my seëninge en ek sê ook dankie vir die kanker? 'n Paradoks, want dan skrik ek vir my eie woorde. Dit klink nie reg nie, hoekom sê ek dankie dat so iets ons lewe binnegedring het? Want dit het ons tot stilstand geruk, mens raak verwaand en jy begin jouself die reg toe-eien om te kla oor dinge wat regtig onnodig is.

Ek is met die spreekwoordelike goue lepel gebore. Of ek sien my lewe so, alles het nog net altyd vir my uitgewerk, ek het 'n wonderlike man, die mooiste 3 kinders, finansieël het dit altyd nog goed gegaan met ons en sodra daar iewers 'n deur sou toegaan in ons besigheid, het daar altyd weer 'n groter deur iewers anders oopgegaan.

Party mense bid net wanneer dit sleg gaan, ek weet nie hoe om met my hele hart te bid wanneer dit sleg gaan nie, want ek voel skuldig om vir nog meer te vra. Ek weet net hoe om met my hele hart dankie te sê.
Is dit so omdat ek my nie vasstaar teen die negatiewe en dat ek altyd die "silver lining" sien op die donker wolke nie, of is dit omdat dinge nie regtig so sleg met ons gaan nie?  Ek begin al hoe meer saamstem met die siening dat jy is wat jy dink.  

6 November

Behandeling # 2 is verby, en ek voel eerlikwaar nie te sleg nie.  My mond is vol seertjies en my neus is vol puisies en ek voel moeg maar andersins is dit regtig nie so erg nie. Die moegheid kan ek die beste beskryf as die gevoel wanner jy erg maaggriep het, net sonder die maagwerkings, jou lyf is tam en lam maar verstand is helder.

Dit is frustrerend want die lewe om jou gaan voort, behalwe vir Donderdae. Die kinders het prysuitdelings, huiswerk, kleintjie sny tande, slaap min en als gaan voort soos altyd, die lewe het nie gaan stilstaan net omdat ek kanker het nie.

Ek kan die knop nie meer voel nie, dit is eintlik fantasties hoe vinnig die medisyne werk, en omdat die dokter bang is die knop gaan volgende week heeltemal weg wees, moes ek gister gaan sodat hulle die knop kan merk. Hulle doen dit net soos 'n biopsie, met dieselfde dik naald. Die enigste verskil is hulle spuit nou blou vloeistof in die knop in. Dit was vir my effens seerder as die biopsie, want die vloeistof brand, en ek gaan nou vir altyd 'n blou merkie op my bors hê. Oor 18 weke wanneer ek gaan vir die chirurgie kan hulle net die blou gedeelte uitsny. Dit behoort 'n baie klein verskil aan my bors te maak.

2 November

Herceptin - die wondermiddel.  Ek het al van Herceptin gelees en nooit geweet dit sal so 'n deel van my lewe word nie.  Ek is gelukkig genoeg om deel te wees van sowat 450 vroue wat wêreldwyd deelneem aan 'n studie om die werking van 'n nuwe middel (lepatinib) te toets.  Ek kry elke Donderdag vir die volgende 6 weke Herceptin binne-aars saam met 4 lepatinib-pille elke aand. Die eerste Donderdag was vreeslik want jy weet nie wat om te verwag nie, dit is net inspuitings om elke hoek en draai, ek was so bang. Hulle het ietsie in my maag ingesit om my hormoonproduksie heeltemal te stop, ek hoop nie ek word so "moody" soos my ma en skoonma wanneer hulle hormoonpille klaar is nie!

Die dokters voorspel dat hierdie medisyne die knoppies heeltemal sal laat verdwyn. Dan is die chirurgie wat ek aan my bors moet kry minimaal, en die kans dat die kanker kan terugkeer vir 10 jaar amper gewaarborg.

Die newe-effekte wat ek kry van Herceptin en die pille is nie te erg nie, dit word ook elke dag beter - lyfseer net in die oggend, die ander vroue kla van diarree, ek het dit nie te erg nie, net effens. Ek is baie bewerig en het nie 'n eetlus nie, (maar ek kan doen met 'n paar kilo's ligter), my keel en die binnekant van my mond is seer, maar oor die algemeen voel ek regtig nie te sleg nie, ek weet net nie of dit elke week erger word nie.  Ek hoop nie so nie.

28 Oktober

My kinders is vreeslik opgewonde, want ek het opgehou werk.  Nou kan ek hulle by die skool kom haal - hulle HAAT naskool. Ek voel dit is beter om vir eers te konsentreer op gesond word, dan kan ek later weer terugkom werk toe.

Ek begin môre met my eerste behandeling, nou kan ek nie meer wag nie, uiteindelik gaan dinge begin gebeur. 65 weke om te gaan! Ek gaan elke week wat verby is "celebrate", want ek het besluit die kanker gaan nie my siel ook vat nie. My hare, my liggaam miskien, maar nie my hart nie.  Ek wil aan die einde van die 65 weke terugkyk en kan sê dat dit die beste ding ooit is wat met my kon gebeur het, want wanneer so iets op jou pad kom besef jy skielik dat al die klein onbenullighede waaraan jy soveel onnodige tyd en energie vermors het tog nie saakmaak nie. Dit is NOU wat tel. Ek moet dink aan my man en kinders, dit is 'n jaar en 3 maande van hulle lewe ook en ek gaan nie toelaat dat die kanker dit ook slegmaak nie.

23 Oktober

Vandag tjank ek nog heeldag, jy moet net vir my kyk dan kom die trane. Die toets was positief, soos almal voorspel het en ek begin volgende week met behandeling. Moet eers gaan vir 'n PET scan, dit is 'n scan waar hulle jodium in jou are inspuit en dan gaan lê jy binne in 'n tonnel, dan kan hulle elke kankerarea in jou hele lyf sien. Ek is eintlik baie bevoorreg want so 'n scan is baie duur. Dit sal my ook gemoedsrus gee oor waarheen die kanker versprei het (as dit versprei het). Dan moet ek weer gaan vir biopsies en sonar en hartsonar en... en... en ... dan kan ek begin met my behandeling. Moet solank vir my 'n pruik begin soek.  

Waar begin jy?? Ek het op die internet begin soek maar dit is eintlik moeilik want jy weet nie hoe voel die hare nie. Lyk dit eg?

Gister by die dokter was daar 2 vroue besig met chemo, hulle lyk soooooo moeg!  Hulle glimlag braaf maar wat my die meeste opgeval het was hulle velkleur. Dit is so n aaklige grysgeel kleur.

Ek is so bang.

22 Oktober

Die dokter het gebel, ek moet haar vanoggend kom sien, my uitslae het gekom. Weg is die brawe, positiewe Minette, en terug is die knop in my keel. Gister by die haarsalon sit ek en sluk baie swaar aan die knop in my keel, want ek besef dat dit heel waarskynlik die laaste keer in 'n baie lang tyd sal wees wat ek my hare kan sny, en ek het altyd so gekla dat dit te veel van my tyd vat om haarsalon toe te gaan!

Hoekom moet mens eers kanker kry voor jy besef waaroor die lewe eintik gaan?

Hier is dit nou, die dinge waaroor ek so gewonder het, die dinge waarvoor ek so bang is, gaan nou begin.

21 Oktober

Ek sit vanoggend om 3:36 vm met oë wat sukkel om oop te bly en speel met my seuntjie wat om een of ander rede gedink het dit is nou tyd om op te staan. En terwyl ek so sit, dink ek oor die dae wat verby is, gister het 3 van my vriendinne my gebel ( die woord het versprei) en almal is so verwonderd omdat ek so positief is, nou wonder ek, hoe anders moet mens wees?  Wat kan jy anders doen as om te glo jy gaan anderkant uitkom? Ek weet dat ek absoluut 'n nuwe en beter vrou, ma en mens anderkant gaan uitkom. Ek glo dit is 'n keuse wat jy maak.

Ek moes al lankal gegaan het om my hare te kleur, my highlights is nou al amper nie meer sigbaar nie sover het dit al uitgegroei, maar ek het heeltyd gesê dis geldmors want my hare gaan oor paar weke als uitval!

Maar ek het besluit, ek gaan vandag my hare doen, ek gaan my toonnaels laat gel en ek gaan ophou dink dat dit in elk geval nie gaan help nie. Wat buite is gaan nie die gogga binne wegvat nie, maar ek glo dit gaan my help om bietjie beter oor myself te voel.

20 Oktober

My eerste reaksie toe ek hoor ek het kanker was dat die dokter alles moet uitsny - ek gee nie om of my borste altwee afgesny word nie, solank ek weet die kanker is uit my lyf uit.  

Maar nadat ek by die dokter was, het sy my oortuig dat dit nie noodwendig my kanker gaan genees net as die knop uit is nie. Die behandeling behels veel meer as net die knoppie. Ek het 'n Mirena (soos 'n outydse "loop") as voorbehoedmiddel in, en diè moes dadelik verwyder word omdat hormone soos kos is vir kanker.  

Nou begin die moeilikheid, ons bly in 'n klein dorpie sowat 100 km van die stad af, ek gaan toe sommer na my ginekoloog hier naby om die Mirena te verwyder, maar hy weier. Hy stem nie saam nie. Ek moet eers gaan vir 'n 2de opinie en dan kan ek terugkom.

Ek gaan toe na die onkoloog by ons plaaslike Medi-Clinic en sy siening oor my behandeling verskil hemelsbreed met dié wat ek by my dokter by die borskliniek gekry het. Nou moet ek besluit wat om te doen. Ek dink dit is vrek onregverdig, want tensy jy 'n dokter as boetie of sussie het, is ons oor die algemeen maar erg oningelig sover dit by kanker kom.

Sny jy of wag jy? Elkeen met wie jy praat het 'n ander opinie. Asof dit nie erg genoeg is om te glo jy gaan bly leef (al is dit nou sonder hare) om jou kinders deur die skool te kry nie, moet jy nog wonder of doen die dokter die regte ding. Ek het die besluit gemaak dat ek by my dokter by die borskliniek gaan bly, dit is wat hulle elke dag doen, en ek gaan alles doen wat sy sê en ek gaan nie luister na enige ander dokter of enige ander mens se storie nie, want dit maak my onseker en dit is nie goed nie.

14 Oktober

Ek het gedink ek kan nou hierdie 2 weke maak asof ek nie kanker het nie, net hierdie 2 weke voor ek begin met my behandeling. Maar dit is nie so maklik nie, elke oomblik wat ek stil raak kom dit weer terug in my gedagtes en daar is 'n beklemming om my hart. Ek moet erken, maak nie saak hoe sterk ek graag wil wees nie, hierdie ding kry my onder, ek is bang.

Ek dink dit is omdat ek nie weet wat vir my wag nie, gister op 94.7 het Jeremy Mansfield vertel van die eerste keer wat hy chemoterapie gekry het, hy het so verskriklik sleg gevoel, hy het net gehuil en gehuil. Dit het my nie gehelp nie!!

Ek is vrek bang. Ek is bang vir wat dit aan ons gesins-dinamiek gaan doen, alles absoluut alles het verander. Ek is een van daardie vrouens wat hoewel ek verskriklik lief is vir my man, nog altyd geglo het ek sou regkom, as my man my eendag verneuk, ek sou sonder hom kan klaarkom, ek het nie 'n man in my lewe nodig nie. Nou is ek so bang hy gaan weg. Ek voel soos damaged goods

Ek dank die Here elke dag vir my 3 pragtige kinders, my man voel dit sou makliker gewees het om deur hierdie ding te kom sonder hulle, maar ek voel anders, ek is so bly want hulle hou my verskriklik besig, ek het baie min tyd vir stilsit, en stilsit is nie goed nie, want dan raak ek snaaks, die gevoel soos sondagmiddag-alleen-in-die-koshuis kom klim in my hart en ek hou nie daarvan nie.

13 Oktober

Ek voel vandag sommer baie baie beter.  Ek het 'n baie aggresiewe kanker en ons wag nog net vir een toetsuitslag, dit is die uitslag wat gaan bepaal of dit verspreidend van aard is of nie.  As dit nie verspreidend van aard is nie, dan is dit baie goeie nuus want dan gaan hulle net die knop uitsny, my op estrogeen blok sit (dit keer dat jou liggaam estrogeen maak d.w.s. jy gaan soos op vroeë menopouse) en chemo-pilletjies gee. Dit kan ek hanteer. 

As dit verspreidend van aard is (wat hulle dink dit is) dan gaan ek binne-aars chemoterapie moet kry eenmaal per week en ook estrogeen blok en nog klomp ander medisyne, en ons gaan later die knoppie uitsny. Totale behandeling behoort so 1 en 'n half jaar te duur. Dit kan ek ook hanteer.

Hulle gaan NIE my borste afsny nie, maar ek gaan baie siek voel en my hare GAAN uitval. Dis vir my weird. Ek met 'n pruik?? Om nie eers van 'n bandana te praat nie, ek weet nie wat gaan ek maak nie. MAAR ek gaan NIE doodgaan nie, in elk geval nie nou al nie. 

Die laaste toets se uitslag sal ons eers oor 2 weke kry. So tot ongeveer end Oktober gaan als net voort soos nou, ek wag. Dit beteken my dogtertjie se partytjie gaan lekker wees en ek sal seker kan vakansie hou nog met my hare. Ek het vir my kinders vertel en my dogtertjies is kinderlik opgewonde oor my pruik, 'n regte egte pruik was nog altyd hulle droom, die Hannah Montana pruike is nou ou nuus!

12 Oktober

Nou ja, dit is amptelik. Ek het borskanker.

Sjoe, dit klink of dit iemand anders moet wees van wie ons praat. Die nuus was verskriklik, alhoewel ek dit so half en half verwag het, is dit een van daardie life changing-oomblikke. 

Skielik huil almal, asof iemand dood is, as hulle by jou huis instap dan sê hulle: "Ek is so jammer om te hoor" en hulle huil. Dit is nou diè wat die moed het om met jou te praat. Ons vriende vermy my, behalwe vir 'n sms hier en daar het niemand nog gebel nie, ek dink dit maak mense ongemaklik, hulle weet nie wat om te sê nie, maar ek is nog dieselfde ek wat ek laasweek was, ek verwag net om deur 'n moeilike tyd te gaan en ek het ondersteuning nodig. 

Ek weet ek gaan siek wees, ek weet ek gaan 'n klomp operasies kry en ek is bang vir die seer, maar ons is nou in die ding en ons kan nêrens anders as vorentoe om uit dit uit te kom nie. 

Dr sê dit is 'n kanker wat meesal in jong mense voorkom (ek is 31) en dit moet baie aggressief behandel word, (wat beteken aggressief?). Gaan hulle my bors (of borste) afsny, gaan ek bestraling kry? Ek wonder. Ek wonder of ek moet kruideniersware gaan koop terwyl ek nog kan, ek het 3 kinders - die jongste 10 maande, hoe gaan ek hom kan vashou as ek so seer het?

My dogtertjie verjaar volgende week, daar kom 14 kinders na haar partytjie toe, hoe gaan ek voel dan? Ons vakansie (13 november) is klaar betaal, ek voel so skuldig dat ek miskien my hele gesin gaan ontneem van dit waarna hulle al lankal uitsien. Kanker is iets onbekend vir ons almal, vir meeste van ons beteken dit dood, nou moet jy skielik jouself orienteër dat dit beslis nie die dood beteken nie. Ek moet vanoggend borskliniek toe om te hoor, ek hoop ek kry antwoorde op meeste van my vrae.

8 Oktober

Ek het laasweek terwyl ek bad 'n knop in my bors gevoel. Eers gedink ek sal maar bietjie wag, miskien gaan dit weg. Ek het 2 dae gewag, toe kon ek nie meer slaap nie, gaan dokter toe, hy dink dit is sommer niks, maar net om seker te maak, verwys hy my na 'n radioloog. 

Ek was so bang vir mammogram want almal sê dit is so seer. Dit was glad nie seer nie. Mammogram, sonar, 2de opinie, 3de opinie, radioloog besluit ek moet biopsie laat doen. Die biopsie is nie seer nie, dit is net nogal ongemaklik, wat my bang maak is dat die dokter kliere onder my arm opgemerk het, dit was seer om die vog uit die kliere te trek. 

Nou begin die wag, 3 dae. Dit is nou werklik moeilik. Ek is 'n sterk mens, het nie gedink dit sou vir my so moeilik wees nie, maar ek kan nie ophou daaroor dink nie. Hiernatoe daarnatoe, ek wens ek het geweet!! Maar ek wil ook nie weet nie? Ek kan nie my gevoelens bepaal nie en dit maak my verskriklik bang.  Môre is die lang wag verby...