Dis nie maklik om onder die radar te wees as jy ‘n bekroonde rubriekskrywer is nie. En as jou naam Dana Snyman is, is dit nog moeiliker.

Sy rubrieke verskyn in verskeie publikasies en word wyd gelees. Hy skryf oor mense -  nie die mense wie se name in hoofopskrifte op die voorblaaie van koerant en tydskrifte beland nie. Hy skryf oor gewone mense. Mense wat hy soms tersluiks raakloop, ander wat hy aspris gaan opsoek. Hulle het almal ‘n storie om te vertel. Boonop is dit nie aardskuddende onthullings wat hulle maak nie, maar eerder van alledaagse dinge, van onthou – van nou en van gister.

FOTO: verskaf FOTO: verskaf

Die sjarme van Dana se verhale lê in hoe hy die woorde inspan en hoe hy met ‘n paar goed gekose woorde ‘n fyn waarneming sekuur en gevoelvol opsom. Sy verhale gaan oor dinge wat mense universeel aanraak – onsekerheid oor die toekoms, nostalgie oor die verlede, en die strewe na om te behoort.  Jy raak bewoë saam met die karakters. Jy lag uitbundig saam wanneer dit oor ‘n lekker onthou gaan. Jy raak ongemaklik en gespanne wanneer dit gaan oor familiegoed wat die hartsnare roer. Saam reis jy deur Dana se oë en kyk jy ook op sy manier na ons land en ons mense. Onder die radar. Maar die woorde is alles behalwe onder die radar.

Ek het per e-pos met Dana gesels oor sy boek, Onder die Radar (Tafelberg, R185).

 Jy word algemeen beskryf as ‘n rubriekskrywer. Is dit hoe meeste van jou stories vorm kry?

Inderdaad. Ek is op ‘n punt waar ek begin wens ek hoef nie meer rubrieke te skryf nie. Ek wil ook net eendag gaan sit en ‘n propperse kortverhaalbundel of roman skryf.

Jy is ‘n enigste kind en jou pa was ‘n dominee. Dink jy dit het jou anders na die wêreld leer kyk?

Omdat ek die enigste kind was, het dit van my ‘n buitestaander gemaak. Die feit dat ek in ‘n pastorie grootgeword het, het dit aangehelp, dink ek. Mense hou die predikant dikwels op ‘n afstand. Hulle kom net pastorie toe wanneer daar probleme is.

In heelwat van jou verhale is jy krities oor die kerk. Kom dit uit eie ervaring van kindsbeen af of hoe?

Ek bly glo aan die kerk. Ek bly ook glo aan God.

 Is jy ‘n loner en is jy soms bang jy gaan alleen oud word?

Ek is ‘n loner, ja. En hoe ouer ek word, hoe erger raak daardie vrees om alleen oud te word. Ek wil graag nog een lang en betekenisvolle verhouding in my lewe hê. My verlede lê vol wrakke wat verhoudings betref. En dit pla my.

Al die goed waaroor jy skryf is nie altyd ewe happy nie. Is daar onderwerpe waaraan jy moeilik skryf en wat jou swartgallig maak?

Skryf bly maar vir my ‘n moeilike ding. Maak nie saak waaroor ek skryf nie, ek sukkel om die woorde reg in te ryg.

Lesers van jou rubrieke en verhale sê dikwels jy skryf vir die Afrikaner, oor die Afrikaner. Maar eintlik skryf jy oor universele waardes, dinge wat mense wêreldwyd raak?

Ek skryf maar oor dit wat ek ken. As ek universele waardes aanraak, is ek bly daaroor.

 Wie is die mense wat jou fassineer, waaroor jy graagste skryf?

Gewone mense. Maar wat is ‘gewone mense’ nou eintlik? Ek glo elke mens het ‘n storie. En dis ‘n demokratiese ding: nie een mens se storie is belangriker as ‘n ander een s’n nie.

Hoe reis jy – met ‘n plan of waar jou neus jou lei?

Ek het altyd so ‘n vae plan waarheen ek op pad is. Maar ek gebruik nie ‘n GPS nie. Soms wil ek nie weet presies waar ek is nie. Dis goed om soms te verdwaal.

 Het jy ‘n gunsteling storie in “Onder die Radar”?

Nee wat, al die stories is maar my kinders.

Wil jy soms ook net onder die radar wees?

Ek wil toenemend onder die radar wees, ja. Ek dink mense is in elk geval effe teleurgesteld wanneer hulle my ontmoet. Ek het nie veel vir myself te sê nie.

Jy het vir ‘n tyd lank fotos van Stony gemmerbier op jou Facebook-blad geplaas. Wat is dit met jou en Stony gemmerbier, waar kom hierdie verhouding daarmee vandaan?

Ek is deur ‘n diepe depressie. Later het ek elke dag ‘n foto van ‘n Stoney-koeldrank begin neem om myself beter te laat voel. Terwyl jy die foto neem, is jy nie bewus van jou eie seer nie.

Wat maak jou gelukkig?

Om liefgehê te word. Deur ‘n vrou.