Sewe-uur in die oggend en die son wys stadig gesig oor die horison. Oorkant my balkon klouter 'n mengelmoes van mense en donkies oor mekaar wanneer hulle van die boot afklim wat hulle van oorkant die rivier gebring het.

Die reuk van vis en varsgebakte brood hang in die lug.

Agter my is my kamermaat ('n rot wat ek Fred gedoop het) besig om weer nes te skrop onder die kombers. Hy't gisteraand rustig op die voetenent van my bed geslaap! Fred kan ek nog aanvaar, maar ek twyfel of ek vir die El Nile-hotel se badkamer kans sien. Dus pak ek maar my sak en gaan sit op die wal van die rivier om te wag vir die res van die groep.

Dis 'n oomblik wat ek altyd sal onthou, want hier sit ek, in gister se klere, hare nog deurmekaar, en kyk hoe die son oor die magtige Nyl opkom. Dit is my vierde dag vir SARIE saam met Kingsley Holgate se Afrika-ekspedisie en, vuil of nie, dis 'n ondervinding wat ek nooit sal wil prysgee nie.

Kingsley en sy vrou, Gill, en hul seun, Ross, toer al oor die dertig jaar om die wêreld en veral deur Afrika om na minderbevoorregtes uit te reik. Bruce Leslie,'n fotograaf, is al vyf jaar saam met die groep en Annelie Muller, Ross se meisie, is nou byna 'n jaar saam met hulle op pad.

Die groepie van vyf filantrope se huidige sending is om muskietnette, leesbrille en skoolboeke in van die armste en mees ontoeganklike gebiede rondom die kus van Afrika uit te deel. Die plan is om dié Africa - Outside Edge-ekspedisie op 28 of 29 Junie in die Kaap te laat eindig.

Kingsley - &aposn wandelende ensiklopedie

Met sy lang wit baard en 1,8 m lange lyf is Kingsley een van die bekendste hedendaagse ontdekkingsreisigers.

 

Met sy lang wit baard en 1,8 m lange lyf is Kingsley een van die bekendste hedendaagse ontdekkingsreisigers. Maar min mense besef dat Gill hom al die jare tree vir tree vergesel het. Haar huis is 'n Land Rover Defender. Sy's klein en verfynd, en jy sal nie raai sy is al 'n ouma wat haar sestigste verjaardag gevier het nie. Sy dra haar grimering in 'n ou, waterdigte metaalblik en jy kan haar deur 'n ring trek.

Sy en Kingsley is oorspronklik van Yorkshire, Engeland, maar toe hulle na KwaZulu-Natal verhuis het, het die reisgogga hulle behoorlik gebyt. "Ons het 'n handelspos in Zoeloeland begin en ek het van die inwoners gehelp om hul handwerk te verkoop. Ross is daar gebore en sy eerste taal was Zoeloe. Hy't eers later Engels leer praat," vertel Gill.

Syself praat Zoeloe en 'n bietjie Swahili. Sy verruil haar trekkerslewe vir niks nie. "Ek voel bevoorreg om hierdie ondervinding met my gesin te deel." Maar dis lekker om vir die eerste keer nóg 'n vrou op die ekspedisie te hê.

Annelie,'n voormalige joernalis, het vinnig geleer aanpas toe sy verlede jaar haar goed gepak het om voltyds saam met Ross te reis. "Die eerste paar maande was moeilik. Ek het min van Afrika geweet en was tevore nog net in Botswana en Mosambiek. Nou is ek al halfpad om die vasteland!'' Sy vertel die swaarste is om net elke twee weke met haar familie te praat, maar hulle stuur darem gereeld troetelpakkies en daar is altyd foto's in.

In my rukkie saam met die ekspedisie het ons van Kaïro af Alexandrië toe gery en toe oos gedraai na Port Said, waar ons weer teruggedraai het in Kaïro se rigting. Op pad na Port Said bly ons oor op Rashid, die dorpie waar die bekende Rosetta-steen gevind is. Dis glad nie 'n toeristedorp nie en dis hier waar ek en Fred 'n bed in die El Nile-hotel gedeel het.

Voor ons vertrek verken ons eers die dorpie, en die mense se vriendelikheid val my veral op. In 'n agterstraatjie word die matte onmiddellik oopgerol en ons kry tee. Die inwoners van Egipte is meestal Moslems en die vroue is maar sku. Maar toe hulle met my en Annelie oogkontak maak, word ons ingenooi en elke vertrek in die huis gewys.

"Dis ongelooflik," sê Annelie. "Sover was dit nog in elke land só - die mense ken ons van g'n kant af nie en verstaan nie ons taal nie, maar die eerste ding wat hulle doen, is om jou in te nooi en kos of tee aan te bied."

Gill sê: "Ek wens meer mense wil hier kom kuier. Nie om die mense jammer te kry soos hulle in TV-programme uitgebeeld word nie, maar om van hulle te leer." Veral die hoop in hul oë het haar tot dusver die meeste beïndruk. "Ondanks hul uiterste gebrek aan geriewe staan hulle elke dag op met die geloof dat dinge vandag beter sal gaan. Hulle gee nie moed op nie."

Gill & Annelie

Gill en Annelie vertel my van 'n groep vroue wat tydens die oorlog tussen Marokko en Mauritanië met net die klere aan hul lyf na 'n droë stukkie land in Wes-Sahara gevlug het. Toe was hulle veertien of vyftien en vandag, in hul veertigs en vyftigs, is dit ongelooflik om te sien wat hulle bereik het.

"Die vroue het hierdie kolonie begin terwyl die mans in die oorlog geveg het, en tot vandag toe is hulle in beheer van die plek." Hulle het met niks begin nie, maar nou kweek hulle groente, gee skool vir die kinders. "Die wêreld besef nie hoe sterk die vroue van Afrika is nie," sê Gill.

"Mense dink die meeste vroue is tingerig en onderdanig, maar dis glad nie so nie. Wanneer ons nette, leesbrille en boeke uitdeel, is dit lekker om met die mense te gesels. Organisasies soos die VN kom nie altyd direk in kontak met die mense wat hulle help nie. Baie van hul skenkings word deur plaaslike kontakte versprei. Hulle kry nie altyd die geleentheid om die blydskap op iemand se gesig te sien as hy vir die eerste keer in sy lewe 'n leesbril kry nie. Ons het daardie voorreg en dis vir my baie spesiaal."


 
Later die dag op 'n mark in Rashid is dit 'n mengelmoes van kleure en reuke.

"Op versteekte markte soos dié kry jy regtig 'n idee van hoe mense hier leef," sê Gill. Die strate is vol gekleurde kopdoeke, handgemaakte glasbotteltjies waarvoor jy 'n fortuin in Sandton sal betaal, oorgroot groente en lekkergoed. Volgens Annelie is hulle nog op elke dorpie aan die Afrika-weskus oorval met vrae, of dit nou oor Suid-Afrika of oor lande is wat hulle al besoek het.

"Die mense is trots en intelligent. Hulle is meer as dankbaar vir die bietjie wat ons hulle gee, maar dis nie net 'n kwessie van hand uitsteek en vat nie." Almal is gretig om by hulle te leer. Teen dié tyd wil ek my kop in die sand wegsteek, want ek besef hoeveel onnodige bagasie ek daagliks saamdra. Ek het gedink die  vroue in dié Moslem-land sou my my "vryheid" beny, maar eintlik is dit húlle wat vry is. Hulle is elke dag dankbaar vir wat hulle het en is eerlik gelukkig met hul lewe.

"Dít word die Mama Afrika-sindroom genoem," vertel Kingsley.

"Oral waar ons reis, kom ons sulke sterk, positiewe vroue teë. Dis hulle wat die mense aan die gang hou wanneer dinge swaar raak en wat die kinders leer om ander te respekteer en vir elke dag dankbaar te wees."

 

"Sy kan regkom in enige situasie. As dinge moeilik raak, is sy ook die een wat ons aan die gang hou." - Kingsley oor sy vrou, Gill

 

Gill en Annelie het waarskynlik ook dié sindroom opgedoen, want dis nie enige vrou wat vir dié leefstyl sal kans sien nie. Dinge raak soms rof en dan moet hulle klaarkom met wat hulle het. Kingsley is baie trots op sy vrou.

Al het Annelie op 'n plaas grootgeword, moes sy ook vinnig 'n paar vaardighede aanleer. Ross is 'n ruk gelede na Suid-Afrika en sy moes leer om die tent op die dak van die voertuig op te slaan, om in die bestuur 'n kaart te lees en 'n 4x4 oor enige terrein te bestuur.

"Op so 'n ekspedisie verbaas jy jouself oor hoe selfstandig jy kán wees. En jy leer die waarde van geduld. Nes jy dink jy weet waar jy vanaand gaan slaap, sit een van die voertuie vas of daar is 'n padversperring. Dan moet jy maar 'n ander plan maak en aanvaar jy sal eers die volgende dag by jou bestemming aankom."

Veiliger op &aposn kameel as in &aposn kar... Vroue wat staan vir &aposn foto - &aposn skaars ding ’n Vyfster- Egiptiese ontbyt in ’n stoorkamer
Veiliger op 'n kameel as in 'n kar...

Iets wat jy nie maklik in Egipte sal
sien nie, 'n klomp vroue wat gewillig
is om afgeneem te word.

 ’n Vyfster- Egiptiese ontbyt in ’n
stoorkamer
Die konvooi Land Rovers voor die El Nile-hotel Hierin hou Egiptenare duiwe aan (vir braai) Ross dink oor die volgende dag se roete
Die konvooi Land Rovers voor die
El Nile-hotel

In dié groot hokke hou die
Egiptenare duiwe aan,
wat hulle braai om te eet.

Ross dink oor die volgende dag
se roete

Gill en Annelie is al gewoond daaraan om te stort onder 'n sak met water wat sommer in 'n boom of aan een van die voertuie gehang word. En as daar 'n rivier is, weet hulle ook hoe om krokodilspore uit te ken. Wanneer hulle moet klere was voor hulle by 'n dorp uitkom, word dit sommer so aan die voertuig gehang om droog te word.

Terug in Kaïro staan ek met my Egypt Air-kaartjie in die hand, en probeer verwerk wat ek alles die afgelope paar dae beleef het. Ek het gedink ek sou omring wees van swaarkry en gruwelstories. En ja, daar was plekke waar Gill en Annelie in trane weg is - maar na regte is die vroue van Afrika se storie een van geloof, familie en vriendskap.

"Ek wens mense kan besef dat dit eintlik ons is wat baie by die mense van Afrika kan leer, al verskil ons opvoeding-standaarde van hulle s'n," sê Annelie.

"Hierdie mense weet hoe om te lewe, onvoorwaardelik lief te hê en dankbaar te wees vir elke seëning wat na hulle kant kom. Hulle het miskien nie ons boeke nie, maar as dit by die lewe kom, weet hulle soveel meer."