Ek mik direk na die Bacon, opsetlik blind teen mure vol wonderwerke, want ek het lank reeds geleer dat die oog van ‘n honger kyker bitter gou versadig. Kortpad neem ons deur die sentrale atrium, reusagtig ruim en hoog, ‘n formaat wat katedrale gewoonlik opeis. In daardie lieflike ruimte, teen die voorportaal, hang ‘n Hawker Harrier vegvliegtuig aan sy stert, sy skerp neus etlike sentimeter van die vloer.Die ganse tuig is duifgrys geverf, met skimvere aan die vlerke.Nog nooit is dodelike skoonheid en ontwerp só weerloos aangebied nie.Later, voor Bacon se meesterstuk is die werk se krag nie ontneem deur die Harrier nie, maar ons gees is eerder geprikkel en voorberei vir die aanslag van die triptiek.Louis Pasteur was reg: “Chance favours the prepared mind”. Só ook met ons parfuum-verkennings waar ons reeds tuis besluit het presies wat ons gaan snuf want elke aand, net voor tien, land die nuutste parfuum-nuus op my rekenaar en ek maak dan notas van nuwe dinge, nuwe plekke, nuwe wendings in die parfuum-wêreld.Lysie in die hand het ons middae die stad betree, direk afgeloop op ons reuk-teikens en dan met bekers stomende koffie en sjokolade na die volgende parfuum gestap. Lank voor ons Gorilla Perfumes kon binnestap het ons dit reeds geruik.Guitige jong dames was besig op straat om niksvermoedende kopers eenvoudig by te dam en met Lush (oorhoofse handelsmerk van Gorilla) parfuums te bespuit. Lush?Ja, dit beskryf die geure presies – vrugtig, uitspatting, jonk en effe vulgêr.Maar, ons was op pad na Gorilla se kroonprins, die verstommende “Breath of God”.Nat houtskaafsels, gekneusde groen blare en die hemel weet wat nog maak dit teen van die vreemdste en spookagtigste parfuums op aarde.Koop dit sonder om daaraan te ruik – dis goedkoop en ‘n kits-klassiek. Sloane Street het ons volgende gelok met twee belangrike bestemmings; eerstens die voorste winkel van Joe Malone (meer hieroor in ‘n volgende rubriek), en dan, een van die fynste parfuumwinkels wat ek ken, Les Senteurs.Weggesteek in ‘n anonieme systraatjie bevat hierdie piepklein winkeltjie van die mees eksklusiewe reuke op aarde.Net soos by die Tate het ons loodreg afgeloop op Tauer Perfumes, verby hemelse uitstallings van Etat libre d”Orange, Les Editions de Parfums van Frederick Malle, Isabey en Parfumerie Generale. Andy Tauer is ‘n Switserse chemikus en het onlangs, en laat in sy loopbaan, die parfuum-wêreld betree.Vergeet alle parfuums wat jy liefhet en ruik aan Tauer se ”Lonestar Memories”.Leer en koffie en tabak en hout op ‘n soliede basis van muskus maak dit teen van die “mooiste” geure wat ek ken.Ek is seker dat beide mans en vroue dit kan dra en veral aficionados van die film Brokeback Mountain sal oombliklik identifiseer met hierdie parfuum se verlammende manlikheid.Sodra jy herstel ruik aan L’air du dèsert Marocain.Soek jy die skadu- en randfigure van die parfuumwêreld, isLes Senteurs jou bestemming. Ons derde besoek was aan Liberty, daardie vreemde outydse en Victoriaanse winkel in Regent Street.Liberty klou nukkerig aan hul lae kosyne en plafonne, Axminster-matte, die reeks “Liberty Prints” wat so oud soos die berge is, en vloerpersoneel soos ek laas in die ou Garlicks in Adderleystraat gesien het.Tydlose vroue met bevrore kapsels en grimering etlike sentimeters dik, som jou openlik op voor hulle vra: “And how may I be of service to you?”.“Please point me in the direction of your perfume section” vra jy sotto voce, bang dat die grimering mag kraak. Die grootste versameling van Frederick Malle se Editions de Parfums word hier gehuisves in ‘n pragtige installasie met vreemde ruimtekapsules waarin jy die parfuum moet beleef.‘n Delikate mannetjie maak eers seker dat die lug in die kapsules waarlik skoon is, en dan, bewerig, spuit hy ‘n bietjie van jou gekose geur daarin.Heeltyd is jy bewus van sy klaasneus agter jou blad, en as jy omdraai, wag hy effe oopmond om jou mening te hoor.Sy lip bewe van aandoening as jy die geur nie aanslaan nie, en bewe méér as jy dit wel doen. Ek was hier om ‘n groot gat in my sak te maak met ‘n klein botteltjie van Ropion se Carnal Flower, na my mening die mees volkome soete-amaling parfuum op aarde.Tuberoos is ‘n moeilike geur om vas te pen want dit huiwer op die rand van vulgariteit.Somtyds, as jy dit net rakelings ruik, kry jy die idee dat dit effe na vrot vleis ruik, en soms na rubber.Ek het soete-amaling in my tuin, sommer baie, en elke aand in die somer stap ek na donker uit en hurk teen die bedding.Wat ek dáár ruik staan op my kas se rak in Carnal Flower.En as ek in die winter verlang na my tuin, spuit ek ‘n bietjie teen die rand van my kussing en droom van die somer. Ook by Liberty het ons die parfuums van Serge Lutens van vooraf gesnuif.Met sy maaksels het ek altyd dié probleem: Is hierdie parfuums net outyds en “veilig” of is hul van die mees klassieke parfuums op aarde?Ek dink meeste van hulle is klassieke omdat hul so naatloos aanmekaargesit is.Serge Lutens se geure loop soos heuning uit ‘n korf.Volgende keer as jy hulle raakloop probeer Chergui (ekstak van hooi!), Ambre Sultan (Hippie-vreugde), Fleurs d’oranger, Bois de violette en Cèdre. Seker een van die grootste oordeelsfoute wat ‘n parfuum-liefhebber kan maak is om by Harrods in te stap.Die plek is eenvoudig te groot, te opulent en, bowenal moet mens kompeteer met derduisende winskopie-jagters en veral voyeurs, desperaat om net vit ‘n oomblik te vergeet dat hulle gebore is, en sal sterf, in ‘n een-winkel dorpie in Nebraska.Tog is daar ‘n magneet, want slegs Harrods verkoop die parfuums van Bond #9.Beur deur die skares en vra ‘n toetsstrokie met Chinatown daarop.Gemmerkoekie, klapperkoekie, koswinkel-geure, lekkers en ligte hout – Chinatown is ‘n droom-parfuum. Ek kan nie dink dat ek ‘n kort wegkomkans al só geniet het nie.Ek en Sarah het haar terugkeer na gesondheid gevier, en ons het onbelemmerde tyd vir mekaar gehad.Soggens, na ‘n warm bad, het ons ‘n ysige London binnegestap.Honger vir kuns en honger vir indrukke het ons afgeloop op self-opdragte – en middae, neuse rooi en skoon van die koue, kon ons vergelykend ruik aan hemelse skeppings.