Mr. Truman Capote Requests the pleasure of your company At the Black and White Dance On Monday, the twenty-eighth of November At 10 o’clock Grand Ballroom, The Plaza Dress                          Gentlemen: Black Tie, Black Mask Ladies: Black or White Dress White Mask, Fan

Truman Capote kon ewe maklik saam met die Kennedys seil of, in die ure voor sonop, met Andy Warhol deur die loergate van smerige klubs kyk na vleeslike en vreeslike ontsporing.Een ding was seker: Capote kon, as hy nugter was, subliem skryf, en as hy nie geskryf het nie, het hy van die mooiste vroue op aarde om hom versamel.

Daardie aand was Capote se triomf – met Katherine Graham aan sy sy, het hulle die crème de la crème van New York verwelkom: Sinatra en Mia Farrow, Lee Radziwell, Gloria Guiness, Penelope Tree, Marella Agnelli, Cecil Beaton en nog vierhonderd ander.En Babe Paley.

Babe Paley

Babe Paley het net een fout gehad”, het Truman Capote opgemerk. “Sy was perfek.Andersins was sy perfek”.Ook Bill Blass is deur haar betower: “Ek het nooit gesien dat sy nie iemand se aandag afdwing nie: die hare, die grimering, die varsheid.Jy was nooit bewus van wat sy gedra het nie, jy het net Babe Paley gesien en niks anders nie.

Beide Capote en Blass was fyn waarnemers van die modes van hul tyd, beide was venynige skinderbekke en versamelaars van die mooiste vroue in New York.“My swane” het Capote hul genoem - CZ Guest, Slim Keith, Gloria Guinness, Jacqueline Kennedy en Babe Paley.

Dis verstommend dat die bron van byna alles wat elegant is aan ‘n vrou, sy oorsprong in Frankryk en Italië het.Hier en daar is ‘n uitsondering maar die inspirasie vir mode en skoonheid is suiwer Wes-Europees.Net so verstommend is dat die toepassing van al hierdie finesse op sy suiwerste in Amerika voorkom.Dis Anna Wintour en Diana Vreeland wat oor dekades heen bepaal het wat die wêreld sal dra, maar meer belangrik, hoe hulle dit moet dra.Dit geld ook vir parfuum, en as jy oor die jare heen kyk na die voorkeure van die styl-ikone, loop dit regdeur soos ‘n refrein: Mitsouko, Mitsouko, Mitsouko..............

Guerlain troon uit bo die parfuumhuise van die wêreld.Reeds sedert 1828 maak hul hemelse parfuums en was, van die begin, baanbrekers met nuwe formulerings.In 1889 verskyn Jicky, tot vandag een van die verruklikste parfuums ooit.Toe, in 1906 verskyn Après l'ondée en in 1912 L'Heure bleue, beide nog beskikbaar.Met die vrystelling van Mitsouko in 1919 en Shalimar in 1925 was daar nie meer twyfel nie; Guerlain was die meesters.

Mitsouko (1919): Tot vandag bly Mitsouko die maatstaf waaraan alle ander Cyphre-tipe parfuums gemeet word.Vernoem na Coty se beroemde Cyphre (1917), is hierdie parfuum ‘n delikate balans tussen eikemos, labdanum en bergamot.Dis speels en ernstig, somber en vars tegelyk – geen wonder dat dit Serge Diagilev se gunsteling was nie.

Shalimar (1925): As ek dink aan die mees luukse geur op aarde, dan dink ek aan Shalimar.Vanielje is die hart van talle parfuums, maar hierdie een is perfeksie – die balans tussen vanielje en amber is nét reg.Dit ruik na Parys se naglug, daardie wonderlike balans tussen sjiek vroue en goeie kos.

Samsara (1989): Naas Opium van Yves Saint Laurent is Samsara vir my die volkome Oosterse geur.Opulent, luuks en luidrigtig staan Samsara op ‘n basis van drie geure: sandelhout, jasmyn en vanielje.Toe my dogter Sarah dit die eerste keer geruik het, het sy haar oë styf toegeknyp en gesê: “Vir die winter”.Samsara is so luuks soos nerts.

Insolence (2006): Ek onthou my eerste kennismaking met Insolence en die gedagte het by my opgekom dat dit so outyds is, so “kerkerig”.Mens leer egter om alle parfuums te herbesoek want tyd, plek en gemoed het ‘n kragtige uitwerking op die neus.Nou weet ek dat dit ‘n simfoniese blom- en vrugtegeur is – laag op laag van viooltjies, tuberoos en ryp bessies.Kragtige goed hierdie; wees gewaarsku en spuit lig aan.

Vetiver (1959): Die manlikste van alle mansparfuums.Sitrus word gevolg deur ‘n fabelagtige kuskusgras soos géén ander, groen en grond en effe peperagtig, en dan, laastens, mos.As ‘n man slegs een parfuum op die rak mag hê, moet dit Vetiver wees.

Habit Rouge (1965): Ek wens dat ek hierdie subtiele juweel beter kon opsom as Luca Turin wat dit as “Soet stof” beskryf het.Klink dit vreemd?Nee, as jy dit eenmaal geruik het, sal jy verstaan hoe seder, kaneel, leer en ‘n titsel sitrus kan saamwerk om hierdie efemere wonder te vorm.Soek Habit Rouge op en ek waarborg dat jy dit sal koop,vir jouself of vir iemand wat jy liefhet.

“Mode vervaag, maar styl is ewigdurend was Yves Saint Laurent se beroemde segging.In ‘n parfuumwêreld waar elke pop-sensasie of eendagvlinder ‘n geur of drie op die mark het, staan Guerlain alleen as die skepper van meesterstukke.