Beskou mens die reukpalet, maak dit nogal sin, want soos met die gehoorspektrum, strek dit van skaars waarneembaar, soos met klam geroesde metaal, tot byna walgend, by tropiese vrugte soos nangka (jackfruit).

Dit verstom my dat van die mees intense natuurlike geure bekend aan die parfumier afkomstig is uit wit blomme. Had ek 'n hand aan die roer van Darwin se evolusie-stroom of sou ek kon insit by die Skepping, was daar neon by die newel - my katjiepierings sou pers gewees het, nee, eintlik mauve.  Keer op keer staan ek verruk voor 'n San Perdo-kaktus met sy krans van delikate wit blomblare, die hemelse geur verlore aan almal behalwe nagdiere.  Hoekom is jasmyn nie rooi, of katjiepierings bottergeel nie?

Miskien moet mens die antwoord by Darwin gaan soek, want soos by meeste lewende organismes, moet plante "besluite" neem oor hul energie-begroting.  Wil ek mooi wees en lekker ruik of is mooi goed genoeg of lekker ruik goed genoeg.  Om mooi te lyk en lekker te ruik beteken groot beleggings in energie.  Dis nie aldag dat blomme dit só ruim kan hê bat hul beide luukses kan bekostig nie.

So, as jou naam katjiepiering of jasmyn is het jy geen nodigheid vir kleur nie - jou blomme is by dag en nag sigbaar en jou geur lok wyd; beide by en mot is welkom.  Ek dink dit geld ook só by parfuum, beide op die vlak van genot en van suggestie.  White Linen (Estée Lauder), White Diamonds (Elizabeth Taylor), White Patchouli en White Suade (Tom Ford), en China White (Nasomatto) suggereer almal reinheid, of onskuld miskien?

Maar wag.  Daar is een witblom-geur wat absoluut niks met reinheid, onskuld of helder daglig te make het nie.  Tuberoos. Tuberoos is karnaal, sensueel en wellustig - dit oorweldig en oorrompel soos die Franse sê, met 'n coup de foudre. Soos 'n donderslag ruk tuberoos jou weg van die oomblik en dompel jou in 'n fantasie.  Geen reuk op aarde is só slu, só hemels nie.

Uit my versameling, my gunstelinge:

Fracas van Robert Piguet

In die ganse parfuum-wêreld was die skeidslyn tussen engel en slet nog nooit so fyn getrek nie.  Fracas is so ryp, so oorvol dat jy moet gaan sit en jou oë toemaak.  Net dan begin Fracas met jou speel, gevaarlik speel.  As daar een reuk op aarde is wat as krimineel en medepligtige in die hof kan verskyn is dit dié-een.  Met die eerste neus-opslag kry jy lemoenbloeisel en dan die hemelse tuberoos-jasmyn-akkoord in die hart.  Baie, baie later skemer hout en mos en groen reuke deur.  Fracas ruik vet, spekvet.

Tubereuse van L'Artisan Parfumeur

Tubereuse is 'n groot tuberoos, maar dan weer, alle tuberoos is groot.  Hierdie een word nie neer gemaak nie en is onlangs vervang met Nuit de Tubereuse wat ek nognie onder neus gehad het nie.  Nietemin bly dit elegant, met 'n groener ondertoon.  Dis byna asof vars groen stingels ingemeng is by die oorweldigende blom.  Die middel en basisnote is so subtiel dat Tubereuse byna as 'n liniêre soliflore beskou kan word.  Dis van die min tuberoos-parfuums vir die dag.  Nee, ek lieg nou, want daar is ook.

Juicy Couture se Juicy Couture

Juicy het pas hul webwerf herontwerp vir die Amerikaanse herfs met die tema: Juicy Fields Forever.  Gaan kyk asseblief!  Twiggy se London paisley en Mad Hatter's Tea Party bots kop-aan-kop met Cyndi Lauper.  En dis presies wat hulle gedoen het met hul eerste parfuum, 'n botsing tussen waatlemoen, grenadella en tuberoos.  En dit werk!  Juicy Couture is speels en jonk, die idiale toetrede tot ernstige parfuums.

Gardenia Passion van Annick Goutal

'n Jaar gelede besoek ek die Annick Goutal-stalletjie by Liberty in London.  My parfuum-soektogte word gewoonlik in temas opgedeel, en dié dag was katjiepiering-dag.  Ek snuif aan Gardenia Passion en net daar slaan my kop toe, want ek ruik deurlopend tuberoos.  Die konstruksie is veronderstel om te open met katjiepiering en jasmyn, gebou op 'n middelnoot van tuberoos en lemoenbloeisel, wat weer op mos rus.  Ten spyte van al hierdie inligting bly Gardenia Passion 'n tuberoos-parfuum, fyn en elegant.

Life Thread Silver van La Prairie

La Prairie staan bekend as 'n vervaardiger van bitter duur en eksotiese velsorgprodukte.  Redelik onlangs eers het hulle die parfuum-wêreld betree, en hul eerste produkte het my gladnie aangestaan nie.  Die reuke was soet en onskuldig en skoon, soos Heidi, en het net daar platgeslaan, want parfuum moet altyd die werklikheid omseil, iets versteek.  Met hul Life Threads het hul bewustelik probeer wegbreek van Alpynse onskuld en ek dink mens moet hul 'n kans gee.  Life Threads Silver het 'n smeulende kwaliteit wat om tuberoos gebou is en is beslis 'n snuf werd.

Die Viktoriane het die tuberoos as begrafnis-en rou-blom beskou.  Begrafnis sekerlik, maar rou?  Nooit!  Tuberoos is 'n viering van alles wat die lewe grein gee - net duskant die roekelose draai tuberoos knap om en betower.