Soos ‘n seeskulp met ‘n kosbare juweel daarbinne verklik die gebou niks van buite nie. Die argitektuur is monumentaal, maar sonder groot ontwerp, byna organies, asof dit as nagedagte aanmekaargesit is. Dan tref die ruimtes jou, een na die ander, suiwer, koel abstraksie, byna om soos deur ‘n albaster te kyk. Na ‘n uur moes ek na buite, oorversadig aan die oordaad van detail, die skoonheid, die gees. Ek het verder bult-op gestap na die Generalife, die Nasrid-konings se rusplek – Die tuin van die hoë paradys. By die fontein van die Patio de la Acequia het ek ‘n koeltekol gekry, my water gedrink. Met my oë toe, my rug teen die stam van ‘n sipres, het ek bewus geword van ‘n geur in die lou oggendlug. Nou, as ek katjiepiering ruik, voel ek die bas teen my blaaie, hoor ek water drup en sien, agter my oë, die sneeu van die Sierra Nevadas. Katjiepiering ruik na katjiepiering.En na niks anders nie.Die naaste wat mens aan hierdie verruklike geur kom, is tuberoos, kanferfoelie en miskien, net miskien, ‘n Seville-lemoenboom in volle blom.In die hele parfuum-ryk kan net katjiepiering en tuberoos alleen staan, want alle ander reuke steun op die akkoorde van ander.Maar dié twee se note is absoluut suiwer en vas. Ek het nog altyd geure as olfaktoriese teksture beskou, met ander woorde, dat reuke “grein” of grint het, soos dié van strooisuiker teenoor kristalle. Daarby is geure na my mening droog, klam of selfs vetterig, soos dié een. Katjiepiering kleef. As die geur van viooltjies soos gekookte rys is, en dié van rose soos gebraaide aartappels, is katjiepiering eierpasta met room, ham en baie kaas. Katjiepiering kry drie Michelin-sterre. Katjiepiering in die tuin (Gardenia augusta) Katjiepierings bestaan uit byna tweehonderd spesies struike en bome wat wyd versprei is oor Afrika en Asië. Tuiniers plant dit nie net vir die kortstondige blomtyd nie, maar ook vir die lieflike loof (katja vir blink oppervlak en piring vir skotteltjie, beide uit die Maleis). Kweking Mens soek goedgedreineerde, humusryke, sanderige en neutrale grond vir hierdie plant, en, daarby, ‘n plantplek met halfskadu.Hulle hou van eweredige temperatuur en beskerming teen koue winde.Dis raadsaam om die struik terug te snoei na die blomtyd, om vorm te behou en jong groei te stimuleer.Hou ‘n ogie op peste en plae, want katjiepiering is gunstelingkos vir rooispinnekop en dopluise. Katjiepiering-parfuums Dis byna onmoontlik om ‘n subtiele parfuum met katjiepiering te maak – Luca Turin* noem hulle “stonkers” - groot geure soos Dior se Poison, Thierry Mugler se Angel en Lolita Lempicka se Lolita.Met jasmyn of met speserye, of hout- en harsmengsels kan jy laag op laag saamstel, maar katjiepiering staan trots en alleen. Die geur is byna animaal, vlesig, vetterig.Dis die reuk van warm vel, van stoom in ‘n badkamer en dis donker, ‘n walm vir die skemer.Esteé Lauder se Tuberose Gardenia in die Private Collection is een van die grotes.Ander goeies is Tom Ford se Velvet Gardenia en Gardenia van Penhaligon, maar hulle is duur en moeilik bekombaar.Nog een met styl is Annick Goutal se Gardenia Passion, maar ek vermoed dis versny met net te veel tuberoos.As jy een klassieke katjiepiering-geur op jou rak wil hê, is dit die Esteé Lauder. By ‘n dans, op ‘n warm aand en met net kerse as beligting, spuit jy Esteé Lauder se Tuberose Gardenia ruim aan.Dra jou halslyn laag, en gaan pruil op ‘n balkon na ‘n tango of ‘n paso doble.En wag ... Bronne: *Turin, L. & Sanches, T. 2008. Perfumes: the guide.Profile Books. Londen.