Jou eie persoonlike storie oor jou ontmoeting met Nelson Mandela kan deel word van 'n nuwe boek oor Madiba

Voormalige ANC-LP en ambassadeur in Ierland, Melanie Verwoerd, in samewerking met Tafelberg Uitgewers, is op soek na persoonlike stories van mense wat Nelson Mandela ontmoet het. Staaltjies wat Madiba se grootsheid illustreer deur sy medemenslikheid, nederigheid, liefde vir mense en ook sy sin vir humor is welkom. Die stories kan so lank of kort wees soos jy dit wil maak, solank dit ’n persoonlike verhaal is en ook insluit wat dit vir jou beteken het of hoe dit Madiba se wonderlike persoonlikheidseienskappe illustreer.

Volgens Melanie pla dit nou al lank dat al die boeke wat sy oor Madiba lees hoofsaaklik praat oor sy politieke bedrywighede.

"Natuurlik is dit fantasties, maar vir my was sy grootsheid altyd juis in daai onverwagse en baie persoonlike interaksies wat hy met mense gehad het. Soos toe ek en hy in die ampsmotor vroegoggend in Pretoria gery het en hy elke keer by die robot die ruit afgedraai het en die mense langs die pad gegroet het. Ek het al hoe meer besef dat so baie mense sulke stories oor hom het en besluit toe om die stories te versamel. Tafelberg gaan dit uitgee in 'n baie mooi huldigingsbundel vir hom. Ek vra 'n klomp internasionale celebs om deel te neem, maar die idee is om werklik soveel moontlik ‘gewone’ mense se bydraes te kry."

Melanie se boek The Verwoerd who toyi—toyied (Tafelberg, R195) het onlangs verskyn.

Melanie Verwoerd en Nelson Mandela

’n Gedeelte van die opbrengs gaan aan die Nelson Mandela Kinderhospitaal geskenk word.

As jy wil deelneem, e-pos asseblief jou storie en enige foto’s wat jy van die ontmoeting het na mandelastories@gmail.com.