Ek praat nou nie van die ideale geskenk soos ’n visstok of knipmes nie, nee, ouma Minnie was groot op sakdoeke, sokkies en lekker-ruikgoed. Klokslag. Ná Kersfees kon ek maar weet dat ek met vrymoedigheid kon verkoue kry, beslis lekker sou ruik en my sokkieversameling met nog ’n paar identiese pare kon aanvul. Maar dié voorspelbaarheid ten spyt, praat almal vandag nog van hoe ouma Minnie kon presente gee.

Haar geheim was dat Kersfees maar net soos enige ander keer was wanneer jy by haar sou kuier. Haar hart was van weggee aanmekaargesit. Ingelegde lekkernye, konfyt, koekies, beskuit of gevriesde boontjiesop. Tien rand vir die kinders. Sjokolade vir dié en ’n serpie vir só. Vat vir jou hierdie ou teepotjie of vir jou dié eetstelletjie. Bedsokkies en gehekelde kombersies. ’n Mooi kussinkie, ’n bak vrugteslaai of ’n souttert. En o, die kerrie-afval. Ja, ouma Minnie was die wêreldkampioen in weggee.

Ek onthou, toe ek nog haar mooi kleindogter myne wou maak, hoe dikwels ek by haar woonstelletjie in Boksburg  aangedoen het met die hoop om iets in my alleenlopermaag te kry. Die hoop het nooit beskaam nie. En so salig as wat die verligting was, só duidelik was dit dat sy dit meer geniet het om te sien hoe ek eet as wat ek die etery geniet het (en van eet weet ek). Maar terwyl jy by haar kuier, moes jy in jou pasoppens wees om nie vir haar te vertel hoe mooi enigiets in haar besit was nie. Dit was dan onmiddellik joune en keer sou niks help nie.

Snaaks hoe die ouma Minnies van hierdie lewe so min besit en tog so baie kan weggee. Hulle het lankal ontdek Hy wat gesê het dis meer geseënd om te gee as om te ontvang, het geweet waarvan Hy praat. Hulle weet ook dat jy nie hoef te begin gee uit die oorvloed van jou besittings nie, maar uit die oorvloed van jou liefde. Hulle gee nie eers nadat hulle ontvang het nie, gee is deel van hul ontvang. Daar is min dinge meer aansteeklik as die kinderlike opgewondenheid wat vonkel in hul oë terwyl hulle wag dat jy jou present oopmaak. By hulle is dit altyd Kersfees. Die res van ons word verkul om te dink dat Kersfees die tyd van gee is, maar hierdie geseëndes onder ons word gestuur om ons oë oop te maak vir daardie soort Kersfees wat nooit ophou nie.

Mag dié Kersfees ’n epidemie van gee veroorsaak. Gee uit die hart. Gee geld. Gee tyd. Gee gebede. Gee trane. Gee vergifnis. Liefde. Jouself.

Want die storie van Kersfees het begin met ’n krip en geëindig met ’n kruis.