Dis al ’n cliché. Jou kind speel soms lekkerder met die boks waarin die geskenk gekom het as met die geskenk self. Elke Kersfees word ons (bevoorregte) kinders oorlaai met geskenke. Die nuutste selfoon, iPad, Kindle ...of die een of ander foefie wat reeds maande voor Kersfees op TV geadverteer word. Daarsonder sal jou bloedjie immers ver afsteek by sy maats.

Die opwinding bou voor Kersfees op. Dalk kry jy dit nog reg om die geskenk vir jou kind geheim te hou totdat dit oopgemaak word. Maar die meeste kinders het reeds teen Oktober hul orders by Ma en Pa ingesit. (Briefie aan Vader Krismis? Lankal vergete! Kinders kom deesdae op ’n al hoe jonger ouderdom agter dis maar net Mamma en Pappa wat rondskarrel om vir almal die régte geskenk te kry.)

Ons maak soms selfsugtige kinders groot, maar ons kán hulle leer om die lewe en geskenke te waardeer, meen Mariaan Odendaal, sielkundige van Little Falls, Roodepoort. “Kinders verwag dikwels hulle moet sekere aardse besittings kry, anders kan hulle nie funksioneer nie.”

Mariaan vertel van die seun wat by haar berading gekry het omdat hy sporttalent het, maar voel hy kan nie sy volle potensiaal bereik nie. Hoekom nie? “Maar tannie, my ouers vat my nie op die oomblik vir coaching nie, so ek kan nie aan ’n toernooi deelneem nie.”

Mariaan sê dit tref haar toe met ’n slag dat ons deesdae kinders grootmaak wat glo hulle kan net presteer as hulle die regte materiële besittings het. “Hulle benodig die beste skoene, raket/stokke of toerusting. En moenie van die energiedrankies vergeet nie. Anders kan hulle nie hul talente uitleef nie!”

Sy wonder wat het dan geword van die kreatiewe ontwikkeling van jou eie talent, deursettingsvermoë, stamina en natuurlike vaardighede om probleme self op te los. “Baie van ons is besig om kinders groot te maak wat afhanklik van materiële dinge is.” En hulle aanvaar sulke dinge as vanselfsprekend: “Ek gáán dit of dat vir Kersfees kry ...”

En tereg kan jy dalk wonder of kinders nog die geskenke wat hulle wel kry, waardeer. Ons voorbeeld aan ons kinders dra ongelukkig hiertoe by, sê Mariaan. “Min van ons bak deesdae self ’n
sjokoladekoek of stop sokkies wat ’n gat in het. Nee, ons gaan koop eerder die koek by die tuisnywerheid (darem self) of koop eenvoudig nuwe sokkies.

Ons sukkel dus om die tyd te waardeer wat in die skep van iets spesiaals ingaan.” Die ideaal is dat ons kinders leer dat die serp wat Ouma gebrei het ’n waardevolle geskenk is omdat sy dit self en met liefde gedoen het. Al is dit dalk die duur grimeertas met al die kleure oogskadu denkbaar van tannie Sus-en-so wat jou dogter baie meer opgewonde maak.

“Kinders is selfsugtig en wil baie hê, maar dis ons plig as ouers om hulle te leer om waardering te toon,” is Eugene du Plessis, sielkundige van Faerie Glen, Pretoria, se mening. “Sigmund Freud het geglo ons word almal taamlik selfsugtig gebore. As babas huil ons en iemand kom bevredig onmiddellik ons behoeftes. Soos ons groter word, leer ons die wêreld gaan nie altyd om ons draai
nie. Ons moet dus van ons ouers ’n stel waardes leer wat ons gaan help om in die samelewing in te pas.”

Hy blameer ook op die wêreld waarin kinders grootword. “Dis ’n materialistiese wêreld waarin die wow!-faktor oorheers. Jou kind speel rekenaarspeletjies met ongelooflike effekte. Hy kyk na flieks met skouspelagtige effekte – deesdae selfs in 3D met rondomklank. Die alledaagse gaan hom nie meer beïndruk nie.”

Dis ’n wêreld wat die media en rolprente uitbeeld as baie mooier, meer fantasties en interessanter as die werklikheid. “Ons, en ons kinders, wil dinge hê om in te pas by hierdie beeld wat voorgehou word – dat jy sekere dinge moet besit om aanvaarbaar te wees.”

Elke ouer wil vir sy kind die mooiste en grootste gee. Dis net die manier hoe ons oppervlakkige samelewing werk, sê hy. “As ons altyd vir ons kinders duur, groot geskenke koop, leer ons hulle dat hulle daarop geregtig is om dit weer te kry. “Dit hoef nie so te wees nie. Kinders leer baie van hul waardes by ons. Ongelukkig sal hulle, omdat ons hulle so grootmaak, altyd meer wil hê.”

Jy moet dus jou kind “rehabiliteer” om tevrede te wees met die voorregte wat hy het en die emosie wat in Ouma se gebreide serp ingaan – eerder as om altyd meer te wil hê, is sy raad. Jou kind sal moet leer dis nie altyd moontlik om die beste en duurste te kry nie, anders gaan hy in die toekoms ontnugter word. Want die werklikheid werk nie so nie, waarsku Eugene. “Leer jou kinders doelbewus om tevrede te wees met wat hulle het. Gee vir hulle mooi, goed uitgedinkte, persoonlike geskenke.” “Wat ons doen, praat baie harder as wat ons sê.”

Hy waarsku die wedywering tussen gesinne om kinders die mooiste en beste te gee kan lelik raak. “Die beste raad is om glad nie deel te neem aan hierdie ‘wedstryd’ nie. Kinders het dinge soos liefde en ouers nodig. Geskenke is maar net ’n bonus wat kleur hieraan gee.”

Só maak ons

Die Beetge-gesin van Bloemfontein plaas deesdae ’n beperking op die bedrag wat Kersgeskenke mag kos. “Ons besluit voor Kersfees as gesin hoe ons dit gaan doen. Die vorige Kersfees het die kinders elkeen ’n geskenk van R50 ontvang. En volwassenes net ietsie kleins soos ’n sepie,” vertel Amanda Beetge.

Die Van der Merwe-gesin van Kempton Park het besluit Kersgeskenke moet handgemaak wees. “Ons het dit verlede jaar so geniet om te sien waarmee elkeen vorendag kom. Daar was ’n lekkerder Kersfees-atmosfeer,” sê Inge van der Merwe.

Die Badenhorsts van Potchefstroom het as gesin besluit om nie meer vir mekaar Kersgeskenke te gee nie. Hulle ondersteun elke jaar ’n liefdadigheidsorganisasie en gee geskenke vir minder bevoorregte kinders. Heleen Badenhorst glo haar kinders het op ’n positiewe manier geleer baie mense ken nie die voorreg van ’n duur geskenk nie.

Leer hom waardering

Jy kan jou kind se ingesteldheid self verander, sê Mariaan Odendaal. Doen dit só:

Lê die idee in jou kind se onderbewuste vas dat hy klein dingetjies moet waardeer.Prys hom van jongs af oor byvoorbeeld ’n mooi prentjie of geskenkie wat hy by die kleuterskool vir jou gemaak het. Dit laat hom trots voel en leer hom nie net materiële dinge wat jy in winkels koop, is waardevol nie.

Moenie jou kind beskuldig met aanmerkings soos: “Daar is baie ander wat nie eers ’n stukkie brood het om te eet nie.” Positiewe versterking is doeltreffender as straf of skuldgevoelens.

Moenie hom te veel bederf nie. Vra jouself eerder af hoekom jy die behoefte het om altyd vir jou kind die beste te koop. Het jy dalk swaargekry en nou probeer jy opmaak daarvoor? Dalk voel jy ’n bietjie onseker oor jou posisie in die gemeenskap en probeer jy ’n sekere beeld skep? Wat die rede ook al is, gaan dink daaroor.Vra jouself af of jy ’n positiewe bydrae maak tot jou kind se emosionele ontwikkeling.

Gee jou kind weekliks of maandeliks sakgeld. Hy ontwikkel dan ’n beter begrip vir die waarde van geld en leer dalk hoe onregverdig dit is om ’n duur geskenk te verwag. Laat hom Kersfees self geskenkies met sy sakgeld koop. Hy sal gou leer dit is die klein dingetjies wat tel.

Gee jou kinders klein takies of verantwoordelikhede by die huis. Kinders kry ’n groter waardering vir tyd en opoffering as hulle leer om van hul tyd te gee. Hulle kan byvoorbeeld help om tafel te dek en af te dek, die skottelgoedwasser uit te pak of om die swembad skoon te maak. Let wel, sonder betaling, net ’n “dankie, ek waardeer jou hulp”.

Die grootste geskenk wat ons as ouers kan gee, is onverdeelde aandag, ’n oor wat regtig luister voor ons raas, iemand wat saam aan die tafel sit en eet, en veral volwassenes wat mekaar met respek en liefde hanteer.

Leer jou kind maniere

Jy leer jou kind om dankie en asseblief te sê en respek te toon op presies dieselfde manier as wat hy die teenpool aanleer (selfsug, ondankbaarheid, materialisme). Volg hierdie raad, sê Eugene du Plessis.

Wys jou kinders deur jou gedrag hoe om op te tree. As jy wil hê hulle moet goeie maniere hê en respekvol en dankbaar wees, moet jý die voorbeeld stel. Behandel ander mense so en jou kind sal jou navolg.

Dring aan op goeie maniere, soos om dankie te sê as hulle iets kry, al is dit hoe klein. Leer hulle dit is ’n waardevolle lewensvaardigheid. As jy meer van jou kind verwag, kan jy meer uit hom kry.

As jy jou kind beloon vir goeie gedrag is die kanse beter dat hy weer korrek sal optree. Dissipline is nodig, maar straf het nie dieselfde positiewe uitwerking om goeie gedrag aan te moedig nie.  Navorsing wys beloning is doeltreffender. Die beste beloning is sosiale beloning. Sê liefs vir jou kind jy is trots op hom as hy hom goed gedra, pleks daarvan dat jy ’n geskenk koop. En dit kos niks.