Aanlê-sin, soos in pick-up line, as jy ’n meisie wil “optel” en jy kan nie blomme, sjokolade of diamante bekostig nie. (Hulle sê net nie watter sin jy moet gebruik as jy haar dalk weer wil “neersit” nie.)

Kan ek vir jou koffie koop? werk nie altyd nie, vroue koop deesdae maklik hul eie koffie, om van cappuccino en café latte nie te praat nie.

Versigtig ook vir ’n ander gunsteling: “Hallo, daar’s twee engele weg uit die hemel, want ek sien hulle rondhang in jou T-hemp.” (Jy sou ook kon sê daar’s twee ribbokke weg uit Hooglied, ek sien hulle pronk in jou bloes.) As sy jou nie klap nie ...

Die beste aanlê-sin dan ...? Daar’s mense - wetenskaplikes - wat hulle met dié soort lewensvrae besig hou. Hulle het 100 mans en vroue tussen 22 en 45 bymekaargegooi op vyf, vinnige drieminute-afsprake en gevra met wie sal hulle ’n opvolg-afspraak maak. Die verbasendste van die hele eksperiment - nogal op ’n internasionale wetenskapfees in Skotland - is dat die helfte van die vroue in net 30 sekondes besluit het saam met wie hulle weer wil uitgaan. (Nou hoekom vat hulle so lank om te besluit wat om aan te trek?)

Omdat die vroue so vinnig besluit, is die regte aanlê-sin dus van uiterste belang. Jy moenie iets sê wat net ’n ja of nee sal ontlok nie - einde van gesprek en daar gaan jou kanse op ’n afspraak. Terselfdertyd het hulle die twee swakste aanlê-sinne vasgestel: “Ek het ’n doktorsgraad in rekenaars.” En: “My beste vriend is ’n helikopter-vlieënier.”

Want wat sê ’n vrou nou daarop? Moet ook nie oor flieks praat nie, dit loop uit op ’n gestry, want nie almal dink The Da Vinci Code is so watwonders nie.

In SA is die sin: “Hier’s R5, gaan bel jou ouers en sê jy kom nie vanaand huis toe nie” aangewys as die beste, maar sê nou sy dink glad nie dis snaaks nie? Nee, die heel beste aanlê-sin, wetenskaplik vasgestel, is: “Waarvan hou jy op jou pizza?”

A-ha! Dan kan julle lustig gesels oor eksotiese name soos ’n Toscana (gekaramelliseerde uie, olywe, ansjovis, dennepitte en parmesaankaas), ’n Forresta (salami, swart sampioene, knoffel, groenrissie en feta), ’n Caprino (kersietamaties, bokkaas, spek en tiemie) of ’n mmm-Mediterranean (chorizo-worsies, feta, artisjokke, olywe, rooirissies en songedroogde tamaties) tot haar mond begin water.

Dán is dit mos jou kans om te sê: “Ek weet van ’n plekkie net hier anderkant met die beste pizzas in die land. Kan ek vir jou ’n pizza koop?”

Sien? Daar het jy ’n afspraak in net 30 sekondes.

“Onthou jy hoe ek jou die eerste keer uitgevra het?” vra jy. Ee-û? stamel sy. Sy onthou sowaar nié: “Ek het gevra: Is jy lus?”

“Wááát? Ek sou jou geklap het!”

“Jy hét amper. Toe’t jy ook gesê: Wááát? want jy’t my (tóé al) in die rede geval, ek was besig om te vra of jy lus is vir ’n pizza.”

“Nou onthou ek,” sê sy. “Jy’t ’n Margherita bestel met ekstra swart sampioene, pepperoni, olywe, avokado, eiervrug, maalvleis, tuna en feta-blokkies, wat als ekstra gekos het. En ek ’n gewone Margherita. Toe moes ek vir als betaal omdat jy nie geld by jou gehad het nie.”

“Maar ek het agterna opgemaak daarvoor, nè?” (Jy maak nou nog op daarvoor.)

Sy sê dan gaan slaap sy maar. En gooi haar eie aanlê-sinnetjie oor haar skouer na jou toe: “Wanneer kom jy lê?”

Of, terwyl sy diskreet tussen jou en die TV inbeweeg (jy kom dit nie agter nie): “Ek gaan solank slaap. Moenie te lank TV kyk nie, dis al laat.”

Dit word later. Dan gaan jy ook maar slaap ... En jy fluister die aanlê-sin van alle mans deur die eeue heen - van Genadendal tot Baardskeerdersbos, Bultfontein tot Fynboslaagte: “Psst, slaap jy al?”

PS: Die antwoord sal natuurlik afhang van hoe lank jy nog TV gekyk het.