Dit was 'n aand van glitz & glam waar die jong, mooi mense van die musiekbedryf uitgehang het, sjampanje gedrink en peuselheppies geniet het by Fashion TV in Kaapstad. Die klassieke kitaarspeler James Grace en celeb Emo Adams en sy meisie Michelle Gildenhuys was ook onder die gaste.
 
Ons is getrakteer op 'n paar nommers van Sterling EQ, bestaande uit Carina Bruwer (29) op die elektriese fluit (sy is ook 'n marathon-swemmer), Eriel Huang (24) en Magdalene Minnaar (28) op elektriese viool en Ariella Caira (22) op elektriese tjello.
 
Die meisies het super-cool gelyk in sexy swart nommertjies en het hul lywe sensueel geskud op die klanke van die musiek terwyl die gehoor ritmies saamgeswaai het. By tye het dit gevoel of hulle 'n musikale gesprek met mekaar voer. Soms komies, soms ernstig, soms speels. Nóóit vervelig nie.
 
Carina het veral getoor met die fluit. Dis duidelik dat sy 'n swemmer is, want sy het 'n lang asem op daardie fluit!
 
'n Gedeelte uit die Barokmeester Vivaldi se "Vier Seisoene" het beslis nog nooit vantevore geklink soos hulle dit woema gegee het nie. Vanessa Mae, eat your heart out! En toe kom hulle met 'n storm uit Beethoven se Vyfde Simfonie. Beethoven sal lekker glimlag in sy graf.

Toe hulle met 'n Michael Bublé-nommer begin, het mens verwag dié sanger gaan enige tyd opstap en begin croon. Dié meisies het magic. Hulle het juis onlangs die Nuweland-krieketstadium geskud met die opening van die IPL Kriekettoernooi in Kaapstad. En hulle het in Mei vanjaar 'n draai gemaak in Doebai tydens die Middle East Travel Awards en saam met Boney M opgetree.

''Wel, wat kan ons sê? Dit was 'n groot eer en báie pret,'' vertel Carina. Daar is groot belangstelling vir hul musiek in onder meer Europa, die Verre-Ooste en Indië.
 
Dis duidelik dat hulle pretsoekers is. ''Ons geniet dit só om op die verhoog te wees. Ons wil regtig net mense vermaak en onsself uitleef. En ons is op soek na 'n nuwe platemaatskappy.''
 
Die musiekvideo is in die ateljees in Kaapstad geskiet en die meisies het ongelooflik baie pret gehad. ''Ek dink elkeen van ons se persoonlikhede is baie goed daarin weerspieël,'' meen Magdalene. Die regisseur was Lara Hollis en die aandrokke is verskaf deur ontwerper Gavin Rajah.
 
Emo Adams se kommentaar ná die tyd? ''Danksy my meisie se blootstelling aan chick-flieks is ek nou baie blootgestel aan dié soort video's, so ek kon relate. Ek was mál daaroor. Veral oor daai classic James Bond-scene toe die meisie met haar bikini uit die water stap . . .''
 
Wat dink jy - kyk 'n bietjie!
Klik by www.sterlingeq.co.za