Nee, ek bedoel nie hulle het wildplase besoek om leeus, olifante en ander begeerlike diere van Afrika te bewonder nie. Nie dáárdie Groot Vyf nie. Die ander een, wat jy aan jou eie lyf voel, in jou eie gesig sien.

Baie van my vriende het naamlik hul vyftigste verjaardag gevier. Soms met fabelagtige feeste en grootse rolbesettings, soms meer intiem. ’n Bloemfonteinse vriendin het buite onder die sterre ’n tafel vir vyftig vroue gedek en ’n spyskaart uitgewerk waarin elke enkele gereg sjokolade bevat. Van Mexikaanse hoender met ’n sjokolade-rissiesous tot tuisgemaakte sjokoladetruffels saam met die koffie. ’n Ander vriendin het haarself bederf met ’n vlug na Italië en ’n droom bewaarheid deur ’n paar operas in Milaan se beroemde La Scala by te woon . . .

Elke diertjie het sy plesiertjie - en sy eie manier om sy plesier te vier. Maar vier sal dit gevier word. Dís skynbaar die wet as dit by die Groot Vyf kom. Selfs inkennige siele wat g’n moeite gedoen het om enige van die ander kroonjare te gedenk nie steek gelate kerse aan om vyftig te vier.

Binnekort is dit ook my beurt. Ek weet nog nie hoe ek dit gaan vier nie, maar die blote feit dat soveel geliefdes reeds die diep waters van vyftig binnegevaar het - sonder enige opvallende tekens van trauma - maak dit makliker vir my. Amper soos wanneer jy in ’n kano op ’n witwaterrivier moet roei. Jy hou die kano voor jou dop om te sien hoe dit gedoen word (of nie gedoen word nie) en dan volg jy met ’n klein bietjie meer vertroue.

Want laat ons nou maar eerlik wees. Oudword is nie vir sissies nie. Dis nie asof ons uit hierdie kano kan klim nie, nè? Al wat ons eintlik kan doen, is om soveel moontlik genot en wysheid uit die vaart te probeer put.

Daarom is ek nogal dankbaar dat ek die Groot Vyf in Frankryk kan aandurf. Dit het met Franse mans te doen, met die manier waarop hulle na ouer vroue kyk. Of, liewers, met die feit dat hulle nie ophou kyk nie.

Net laas week klets ek met ’n Amerikaanse “ekspatriaat”, dieselfde oesjaar as ek, wat pas ’n romanse met ’n veel jonger Fransman oorleef het. Onvoorstelbaar, bieg sy, dat só iets haar in haar tuisstaat Colorado sou oorkom. Amerikaanse mans sien eenvoudig nie vroue ráák wat ouer as hulle is nie - behalwe as die vrou danksy plastiese chirurgie soos Angelina Jolie lyk. Van hul 35ste verjaardag af gebeur ’n eienaardige ding met vroue in Amerika, getuig sy uit eie ervaring. Onbekende mans begin dwarsdeur hulle kyk. Asof hulle van glas gemaak is.

Dis ’n refrein wat ek dikwels by Suid-Afrikaanse en Anglo-Saksiese vriendinne hoor. Dis nie dat jy wil hê mans moet jou agterna staar met uitpeuloë en wolffluite soos in strokiesprente nie! Dis net, wel, dat ’n ouer vrou ook soms ’n waarderende kyk van ’n onbekende man wil kry.

“Wat ís dit met Franse mans?” vra die einste vriendin wat opera in Milaan gaan luister het nadat sy twee dae by my gekuier het. “Hóú hulle van vet, vyftigjarige vroue?”

Ek moes lag, want sy is nie vet nie (wel minder slank as in haar prille jeug, soos die meeste van ons), maar blykbaar het sy járe laas ’n bewonderende blik op straat gekry. En hier op die Franse platteland gebeur dit toe so aanmekaar dat sy dog haar rok se soom hang dalk uit. Of haar lipstiffie het op haar tande afgesmeer.

Ek moes verduidelik dat baie Europese mans hulle nie blind staar teen boude, borste en ’n gladde vel nie. Hulle beskou eerder die algehele prentjie - jou haarstyl, hoe jou hande versorg is, watse skoene jy dra - en as hulle hou van wat hulle sien, wys hulle dit vir jou. Ongeag hoe oud jy is.

’n Oomblik van bewonderende oogkontak, dis al waaroor dit gaan, maar dit kan ’n gróót verskil maak aan hoe jy verder roei. Aan die styl en die selfvertroue waarmee jy daardie bootjie van jou verby die skerp rotse en die bedrieglike draaikolke van die res van jou lewe stuur.