Vriende wat deur die jare getrou die binnekring gevorm het, teatergeeste, kunstenaars, musiekliefhebbers, ’n skare familielede, ’n paar gesigte wie se name ek nie ken nie, maar wel in ’n stadium stukkend gekuier het tydens Jonie se legendariese etes, en laastens ’n paar honderd wat ek nog nooit gesien het nie. Ek was bly en trots dat soveel mense hierdie unieke vriend kom groet het. Die atmosfeer was amper feestelik en die meeste was mooi aangetrek, soos Jonie daarvan sou hou. Soos ’n Hollywood-skare, in swart en met duur sonbrille, het ons voor die kerk gestaan. Tot my lieflingkinders, klein George en Dali, was daar, heelpad van Dar es Salaam. Daar was geen grillerige lykswa nie, wel ’n modieuse stasiewa, soos dié wat Celine Dion so gretig adverteer, en die mooiste spierwit blomme. Op die trappe van die kerk het die dominee ons gelei met die belydenis van geloof. Ek was besig om oor ’n slapende Dali se koppie te vryf toe ek skielik opkyk. Die stasiewa met Jonie was besig om geluidloos deur die hek te beweeg en te wag op ’n gaping in die verkeer. Ek wou skree, Nie nou al nie! Ek wil jou net vir oulaas nog iets vertel, om verskoning vra dat ek nie altyd teruggebel het nie, jammer sê oor ek so min by die hospitaal was. Maar ek was te lam om ’n geluid temaak. Binne-in my het iets verskuif, iets verander, iets gesink. Soos ’n vuis het dit my getref, totale ongeloof, die verbysterende verrassing van verlies. Gucci-sonbril en al het ek begin huil, geheel en al sonder ophou. Die diens was baie mooi, die musiek was mooi (Wim Viljoen voor die orrel), die blomme was mooi (Lena, Jonie se vrou, het self gerangskik), tot die dominee was mooi. (En sy naam is Immanuel, ek lieg nie.) Maar dit alles was ’n droom, ek was verlore, omring deur my beste vriende het ek skaamteloos sit en huil, getjank soos ’n hulpelose. Vir die eerste keer in ’n lang tyd wou my brein glad nie vat kry aan die waarheid wat voor my afspeel nie. Die finaliteit was afskuwelik, ontydig en onaanvaarbaar. Jonie was baie siek, en vir ’n baie lang tyd, sy vertrek was onvermydelik en uiteindelik ’n genade. Maar wat van ons stomme lot wat agterbly? Wat moet toekyk hoe ’n hele lewe met ’n groot bos blomme in die middagverkeer verdwyn, hoe die wêreld onbewus net aanhou draai. Wat doen ons nou? Wanneer jy vir die eerste keer in jou lewe sit met ’n oorweldigende hoop hartseer, totaal van jou sinne beroof en al jou skanse ontneem, hoe sien jy ooit weer ’n ding raak net soos hy daar is, sonder al jou skakerings van woede en waansin? Wanneer begin die weer en die nuus en die tydskrifte en die bure en die tuin en die klerekas weer saakmaak? Ek het nie ’n clue nie. Ek weet net dat ek om verskoning moet vra aan elkeen wat ooit in my teenwoordigheid sy of haar verlies alleen moes dra, omdat ek te haastig, te onbeholpe of te lui was om die omvang daarvan te probeer begryp. Ek moet my ma om verskoning vra vir my ongeduld ná die egskeiding. Ek moet elke vriend wat al ’n troeteldier verloor het om verskoning vra, ek het nooit ’n blom gestuur nie, nooit uitgevra nie, ek het gedog dis ’n paar dae, dan’s alles weer in die haak. Nou, uiteindelik, weet ek ook van die groot donker, die duisternis wat onder in jou hart kom lê, swaar en lewendig, ’n wanhoop wat so maklik bly groei dat die geringste aktiwiteit eendag te veel en tevergeefs is. Nou weet ek ook dat maande, jare, kan verbygaan sonder enige uitkoms. Maar ek weier om te glo dat verlies sonder ’n doel is. Nooit sal ek aanvaar dat ellende die einde van ’n pad kan wees nie. Aan elkeen wat ’n ouer, ’n vriend, ’n geliefde, ’n kind, selfs ’n werk of ’n huis verloor het, as ek kon toor, sou ek, ek kan bloot hoop dat die hande van tyd elkeen sal dra tot by ’n plek waar ’n eerste tree weer moontlik is, dalk wysheid om ’n ander by te staan, of selfs net die genade van ’n hele nag se goeie slaap.