Van buite is die gebou onmerkwaardig grou en ietwat onheilspellend. Sy druk die knoppie. Bzzzz en klieklak gaan die veiligheidshek voor haar oop.

Sy gaan aarselend in. Jy sukkel agterna met die swart vuilgoed sak.

Binne is dit netjies en koel. Kennisgewingbord, telefoon ( for residents only ), interkomstelsel en ’n trap regs. ’n Groot spieël, van daardie boepens-soort wat hulle om hoeke in parkeergarages gebruik, hou ’n ogie op die veiligheids hek. Agter die toonbank staan ’n man met kort-kort hare. Hy kyk vraend op na die klein optoggie voor hom.

“Het ons nie ’n beter houer as ’n swart vuilgoedsak nie?” het sy gekla. “Dit lyk so... onaardig.”

“Dis prakties,” sê jy, “gooi net die goed in, jy hoef dit nie eers op te vou nie.”

Sy’t sowaar ’n hopie klere wat sy nooit weer gaan dra of in sal pas nie, uit haar klerekas verwyder om orde te skep.

Die man agter die Salvation Army-toonbank gaan baie bly wees. Sy naam is Herbie.

Sy verduidelik vir hom hoe sy die klere eers in hopies uit ge sor teer het en hoe moeilik dit was om te besluit wat om te hou en wat om weg te gee, en sy maak ook sommer van die geleentheid gebruik om verskoning te maak vir die swart sak, maar dis darem prakties, jy weet?

Gee net die klere, fluister jy, dis nie nodig om eers ’n toe spraak te maak nie. Maar nee, sy wil eers weet hoe dit werk - presiés weet wat gaan van haar klere word. En Herbie verduidelik: Als word netjies in ’n donasie-register aangeteken.

Daarna word dit uitgedeel aan die mense hier in die hos tel.

Wat oorbly, gaan na ’n spesiale Salvation Army-winkel in ’n voorstad waar dit spotgoedkoop verkoop word.

Sy hou nie van die woord “spotgoedkoop” nie. Haar klere is nie...

“Verskoon my,” sê Herbie toe die telefoon lui. Hy wend hom tot die interkomstelsel. “Ons roep vir mnr... ons roep mnr...”

Gee nou dat ons kan loop, fluister jy weer.

Wag, sê sy, is dit nie ’n manshostel dié nie?

Dit is, sê Herbie. Hy sal self sorg dat die klere mooi uitgedeel word.

“Maar dis vroueklere, Herbie!” sê sy. Hoe gaan hy, Herbie, met sy nr. 2-hare in haar matriekafskeidrok lyk? wonder jy. Gelukkig sal sy beenhare nie uitsteek nie. Jy skud die prentjie vinnig uit jou kop.

Oooo, kliek Herbie, vroueklere... “Oooo, dan sal ek moet hoor by Die Majoor,” sê hy. Maar Die Majoor is nie nou hier nie.

“Ek wag wragtig nie op Die Majoor nie,” sê jy deur toe lippe. “Géé net die goed!” Hulle kan dit mos by die voorstedelike winkel verkoop.

Maar dit blyk die winkel is tydelik gesluit. O, wat gaan wórd van haar klere?

Sy begin stuk-stuk uitpak om vir Herbie te wys in watter goeie toestand die klere is. Daar’s selfs ’n top by wat nog ’n etiket aanhet, nooit gedra nie, en ’n bra. Herbie maak
of hy nie bloos nie.

Jy gaan kyk solank buite teen die grou bakstene na die bekende rooi skild waarin staan The Salvation Army, en sowaar, daarbo staan Die en daaronder staan Heilsleër.

(Sien, mens kan maar jou klere vir dié mense gee, hulle praat Afrikaans. En Saterdae speel hulle sulke mooi musiek hier onder op die oop erf langs Alibaba se winkel.)

“Gee net!” sê jy vir die vierde keer, bietjies te hard.

Herbie van die Heilsleër skrik glads.

“Ons sal die klere mooi oppas,” belowe hy dadelik. “En Die Majoor sal seker nou-nou hier wees...”

Toe begin sy sowaar bedenkinge kry: “Dink jy nie ek moet maar liewer my matriekafskeidrok hou nie? En hierdie toppie... hy voel nog so lekker.”

Jy stel voor ’n cappuccino met ’n crème brûlée by ’n duur koffiewinkel van haar eie keuse. Jy’s uitgeput.

Die aand wonder jy doodonskuldig of jy maar die lig kan afsit. Sy lê en verlang na haar klere.

“Kan ek maar die lig afsit?”

Wag, sê sy en loer terstond onder die duvet in: “Kom ons hoor eers by Die Majoor.”