“Wat probeer jy doen?” vra sy kalm.

O. Nou hoe lyk die ideale man dan? vra jy in ’n stem soos John Wayne. Hulle sê die ideale man lyk soos die akteur Jake Gyllenhaal.

“Met so ’n van gaan daai Giel nie die paal haal nie,” sê jy. Maar dis einste wat die vroue op UKdating.com dink. Hulle het in ’n meningspeiling hul ideale man beskryf. En 40 000 vroue kan nie verkeerd wees nie, sê sy.

Die ideale man is glad geskeer (jy maak dit amper met jou stoppelbaard), aantreklik (daar hang ’n vraagteken oor jou kop), ry in ’n silwer Mercedes (jou Mercedes is blou en dis eintlik ’n 1980-Volkswagen), besit sy eie huis (jy en die bank), en - blykbaar die belangrikste - hy moet 1,77 m of langer wees (jy mis dit met ’n haarbreedte, en, wel, nog so ’n paar sentimeter).

Die ideale man het blou oë (joune is groen en jy’t gedog groen is in die mode), donkerbruin hare (joune is ’n ongedefinieerde kleur, al so van kleins af), en is medium gebou (jy trek jou maag nog ’n bietjie in, maar jou asem hou dit nie vir lank nie).

Die ideale man hou van troeteldiere (jis! behalwe natuurlik van katte), goeie wyn (natuurlik! wanneer jy dit kan bekostig), goeie restaurante en fliek (ditto), hy’t ’n “whacky” sin vir humor (jis! behalwe dat sy nie altyd dink jy’s snaaks nie), dra netjiese blou jeans en ’n T-hemp (jou jeans is al bietjie uitgedra en jou T-hemp staan met ’n effense boog oor jou maag), en hy weeg presies 76 kg (jy’t jouself genadiglik lanklaas geweeg).

Die ideale man is seker ook sensitief en in voeling met sy vroulike kant, nè?

Daarvan sê hulle gelukkig niks nie. Solank hy ’n dokter of ’n prokureur is wat £30 000 per maand verdien (daar val jy erg uit jou blou 1980-Volkswagen uit, jy’s nie een van die twee nie en die rande wat jy verdien, is nie altyd genoeg om in pond om te sit nie).

En dan mag hy ook nie rook of rugby kyk nie.

“Daardie vroue leef natuurlik in die paradys,” sê jy. “Gekkeparadys.” Jy steek ’n sigaret op soos James Dean en stap weg soos John Wayne op pad Loftus toe ...

“Ek wonder hoe sal die ideale vrou dan lyk?” vra sy en kom staan voor jou sodat jy haar móét raaksien. Sy trek haar skouers agteroor - wat ’n vooruitstrewende effek op haar bolyf het, soos Marilyn Monroe - en draai haar heupe subtiel kante toe. Jy sê jy wil jou liewer nie daaroor uitlaat nie, maar sy sê toemaar, jy kan maar sê, toe, sê maar.

As ’n vrou sê toemaar, jy kan maar sê, toe, sê maar, dan moet jy liewer nie sê nie: “Die ideale vrou lyk, wel, amper soos jy, baie amper. Nagenoeg.”

Nagenoeg?

“Van agter,” voeg jy by.

Van agter?

“Ja, want dis belangriker om ideaal van agter te lyk as van voor,” verduidelik jy. “Dan sal ander vroue nie sleg van jou praat sodra jy wegloop nie. En as jy amper, nagenoeg ideaal van agter lyk, dan kan jy mos self dink hoe lyk jy van voor.”

Toe loop sy skuins agterstevoorom weg soos ’n krap en jy weet jy moet liewer ophou praat.

“Wag! Wag!” sê jy. “Staan stil, hou net so, moenie beweeg nie!”

“Wat? Wat nou?” skrik sy vas in haar spore. Sy dink jy’t ’n slang gesien.

“As jy so skuins agterstevoorom wegloop,” sê jy, “sien ’n mens jou so halfpad van agter en halfpad van voor: Die ideale vrou!”