’n Ongelukkigheid, dié ding dat ons hier in die Suide elke keer ’n begin moet maak in die middel van ’n seisoen, en dan boonop die mins genadige een. Die helfte van die bevolking sit lam en swetend onder klam lappies, die ander helfte lê koorsig en beloer mekaar se songebruinde boude. Is enigeen in staat om die nuwe jaar ’n beter een te maak?

Ek stap my kantoor binne, my lessenaar beur dapper onder ’n berg pos. Ek gryp ’n hoop koeverte en gooi dies met vensters in die asblik. Ek rol die meters dringende fakse op en bêre dit buite sig. Die vertrek begin stadig asemhaal. Ek kyk dankbaar na my versameling elektronika. Die skans van ’n antwoordmasjien, die gesigloosheid van ’n e-pos, die stilte van ’n faksmasjien, dis in werklikheid my persoonlike bataljon, hierdie ry masjiene wat elke aanslag namens my moet afweer.

Die huishoudster ken teen dié tyd my vroeëjaarsfrons en probeer my bui lig met ’n pot Engelse tee. Ek skeur ’n koevert oop; dis ’n kaartjie van ’n niggie van iemand wat ’n ou geken het wat vakansie gehou het saam met die mense wat langs ons gewoon het toe ek op skool was. Sy werk met probleemkinders, sal ek verniet kom optree? En sal ek omgee om by hulle in die woonstel te oornag, dis goedkoper as ’n hotel. En weet ek dalk van ’n manier om daar te kom?

Die volgende koevert bevat ’n uitnodiging na ’n winkelsentrum wat ’n rok van ’n onbekende ontwerper wil opveil vir liefdadigheid. Sal ek dit bywoon, daar is verversings. En sal ek dan sommer die veiling waarneem? Ingesluit is ’n kiekie van die rok, ’n ligblou ontploffing wat net ’n besetene kon uitdink. Ek vra nog tee.

My dagboek bring verlossing. Albei datums is reeds bespreek. Maar daar is nog hope pos, ’n nag se e-posse en ’n masjien vol versoeke. ’n Ou bekende paniek kom hang oor my lyf. Hoe lank nog? dink ek. Hoeveel nog? Hoeveel skoolsale met vuil toilette? Hoeveel geldinsamelings waar patat met marshmallows op die spyskaart pronk? Hoeveel oggendgesellighede met grasgroen servette en skewe verhoë? Hoeveel veilings van onbeholpe skilderye in goue rame? Hoeveel vals glimlagte by potjiekosaande? Hoeveel behoeftiges kan daar nog wees?

Miljoene, besef ek. En vir altyd, besef ek. Maar wat sê ek vir die mense? Iewers gaan daar ’n oop datum wees. En ek het dan besluit om op te hou lieg.

Ek dink aan my skooldae en die straat-af-tannie wat so selfloos bygedra het, uitgehelp het, nagte deur gebak het, kinders rondgery het, kerke versier het, sepies uitgedeel het, truie gebrei het, raadgegee het en dan Sondae met ’n moedige glimlag die kringe onder haar oë vertoon het. ’n Plek in die hemel? Ek twyfel.

My gedagtes draai na die suksesvolle mense wat ek ken. Dié wat sportmotors het, ontwerpersklere dra, voltyds werk, maar ook hardop lag, gereeld korrespondeer, verjaarsdae hou en rustige kinders grootmaak. Buiten hul kwalifikasies, hul finansiële toorkrag, hul sterk familiebande, hul stewige geloofsoortuigings en hul ooglopende talent het hulle die kuns bemeester om nee te sê. Om te weier, want dis goed so, dis hul reg en dis die regte antwoord op ’n sekere vraag. Mense mag met my verskil, maar ek dink nie dit gaan hier oor opvoeding, skuldgevoel, gemeenskap, godsdiens of plig nie, dis bloot ’n besluit wat jy neem. ’n Oomblik van wysheid, ’n oomblik waarin jy jouself ook raaksien, jou vrese baasraak en die waarheid praat Ek kyk na die berg op my lessenaar. Natuurlik gaan ek werk vir liefdadigheid, natuurlik gaan ek skole besoek en natuurlik sal ek opdaag waar ek nodig is. Maar ek gaan ook hope geld maak, ek gaan ook na myself kyk en partykeer gaan ek bloot leeglê. Want ek wil. En ek gaan luister na my hart, hierdie hele jaar, Die Jaar van Weier.