’n Vrou mors omtrent ’n hele jaar van ’n man se lewe - terwyl hy vir haar wag. Die Britte het bevind (www. missbutterfly.co.uk) die gemiddelde man staan vir 22 weke van sy lewe voor toe aanpashokkies terwyl sy vrou klere soek, sit ’n hele week in ’n motor wagtend om haar êrens op te laai - en 61% van die 2 000 mans wat gevra is, het gesê dit maak hulle gek (1 uit 10 het hul goed gevat en geloop, hulle kon nie langer wag nie).

Jy kan seker wees dit gaan erger sodra sy begin gereed maak om uit te gaan, jy blaas verniet die motor se toeter. Só het daar al ’n huilende vriendin voor jul deur kom staan in die skemer. Jy skrik.

“Wat het gebeur?” vra jy besorg. Haar een oog glinster groenerig en haar ander oog is net ’n oog. Dit lyk of haar oë geskuif het. “Het jy iets oorgekom?” vra jy dringender. Dan sien jy haar grimering is net halfpad aangesit.

“Kaspaas het vir my weggery!” En wha! spat die trane op jou. Jy roep binnetoe: “Kaspaas het vir haar weggery!” en gaan lees jou koerant.

Sy kom neem haar vriendin-in-nood aan die arm en gaan maak vir haar tee.

“Hy’t nog altyd gedreig hy gaan vir my wegry, maar (snik) hy’t dit nog nooit gedoen nie (snik). En ek was dié keer net ’n halfuur laat (snik), nie eens ’n uur nie. Whaaa!” Haar groenglinsterende oog smeer strepe oor haar wang. Uit met die tissues.

Hulle besluit saam hoe ’n ongevoelige soort mens Kaspaas is. Jy lees geduldig jou koerant terwyl hulle gesels oor ongevoelige mans in die algemeen. Toe julle laas by haar en Kaspaas gaan kuier het, het hulle ook so gesels, heelaand, oor alles en nog wat - en ongevoelige mans. Toe dit tyd word om te loop gesels hulle nog vir oulaas deur die motorruit. Dis vroue se manier van groet, hulle sê nie net koebaai nie.

Jy begin rev die motor.

“Sjoes!” vermaan sy, “ek kan nie hoor wat sy sê nie. Waar was ons? O, ja ...” Jy skakel die motor af. Nie nodig om petrol te mors terwyl jy wag dat hulle klaar groet nie. En toe julle uiteindelik by die huis kom, bel sy haar dadelik om dankie te sê vir die aand - en hulle gesels nog ’n uur.

Om te dink, dit was so roerend romanties toe sy destyds gesê het: “O, ek het my hele lewe lank vir jou gewag!” Wat sy nie bygesê het nie: En nou gaan jy die res van jou lewe vir mý wag. (“Because I’m worth it!”)

Wag by die supermark, wag by die poskantoor, wag by elke geleentheid. Tot voor die kleedkamers by die fliek. (Daar was ’n lang tou.)

Sy wil “net gou” by die supermark of poskantoor inhardloop terwyl jy “net gou” kan dubbelparkeer, dan hoef sy nie later te sukkel met parkeerplek nie, sien? En, ja, hier kom die verkeersman, jy moet drie keer om die blok ry.

“Jammer jy moes wag, daar was ’n lang tou.” Toe loop sy in Kaspaas se vrou vas en dié kan tog so gesels, jy weet?

Nóg ’n nuttelose uur uit jou lewe ...

Dieselfde gebeur wanneer sy nie oor iets kan besluit nie, enigiets. Dan laat sy jóú wag.

“Besluit tog nou! Wat sal dit wees: pienk of blou?”

“Moenie so ongeduldig wees nie, jy kan sien ek dink.”

“Kan ek intussen iets anders gaan doen?” vra jy.

Dan vra sy ewe: “Wat anders?”

Die Britse mans, erken 1 uit 5, kry haar terug terwyl hulle voor daardie toe aanpashokkies of kleedkamers moet wag - hulle verkyk hulle aan al die ander vroue wat verbyloop (uit verveling, natuurlik, of sommer net frustrasie).

Hoor daar, dis aand en sy’s besig in die badkamer met die rituele roetine van rome en dinge voor slaaptyd. Jy wag, die TV lankal afgesit. En jy wag.

Uiteindelik: “Foei tog, het ek jou lank laat wag?” terwyl sy onder die duvet inloer.

“Nee, wat,” antwoord sy self. “Ek sien jy’s nog ... op en wakker, nè?”